Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Skuif van ambulanse lei glo tot mense se dood

Minstens drie mense is die afgelope week in die Nelson Mandelabaai-metro dood omdat ambulanse glo te ver van die gemeenskap af gestasioneer is, sê die DA.

Boonop werk paramedici in vrees omdat inwoners hulle vir die mense se dood blameer.

Afgevaardigdes van die DA het Vrydag die Motherwell-gesondheidsentrum besoek, weens klagtes van die publiek oor die reaksietyd van ambulanse. Foto: Cara-Lee Dorfling

Die DA-LP Yusuf Cassim het Vrydag gesê hulle glo die lewensverlies sou vermy kon word as die nooddienste nader aan die gemeenskappe gestasioneer was.

“Ambulanse moet in die gemeenskappe wees sodat ’n beter en vinniger diens gelewer kan word.”

Cassim, Jane Cowley, die DA se woordvoerder vir gesondheid in die Oos-Kaap, en Athol Trollip, die party se federale voorsitter, het Vrydag die Motherwell-gesondheidsentrum besoek ná klagtes van die gemeenskap dat hulle glo ure op ambulanse wag nadat ambulanse uit die gemeenskap geskuif is.

Die ambulanse is in April van dié gesondheidsentrum na ’n nuwe sentrum van R123 miljoen by die Dora Nginza-hospitaal in Zwide geskuif.

Alfred Sefalane, adjunkvoorsitter van die Motherwell-gesondheidsentrum, het Vrydag gesê die kliniek ervaar probleme met reaksietye in noodgevalle ná die verskuiwing.

Volgens Melikhaya Ketse, ’n paramedikus, ly die ambulansbestuurders veral onder die nuwe reëling omdat die gemeenskap hulle vir die vertraagde reaksietyd blameer.

Ketse sê ambulansbestuurders werk in vrees, veral ná ’n voorval Woensdag waar hulle na Motherwell uitgeroep is maar die pasiënt met hul aankoms dood aangetref het. Die noodpersoneel is deur ’n skare ingewag wat beweer het die ambulansdiens is ure gelede al gekontak, maar dat niemand onmiddellik gereageer het nie.

“Die gemeenskap het gevoel dit is weens ons reaksietyd dat die persoon dood is. Die personeel moes mooipraat om uit die situasie te kom.

“Die probleem is dat ons nou langs die besige R75 geleë is. Met spitsverkeer is dit ontsettend besig en dit is moeilik om vinnig deur die verkeer te kom.”

Cowley het intussen aan Sindiswa Gomba, Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, geskryf om te vra hoekom die “roekelose” besluit geneem is om al die ambulanse uit Motherwell te skuif.

“Ambulanse moet strategies by satellietstasies oor die metro’s heen geplaas word om vinnig diens te kan lewer.”

Voorheen was slegs drie ambulanse by die sentrum gestasioneer, maar Cowley sê ingevolge wêreldwye standaard moet daar een ambulans vir elke 10 000 mense beskikbaar wees.

“In die Oos-Kaap benodig ons dus 650 werkende ambulanse om dienste aan die inwoners te lewer. Ons het tans sowat 200 werkende ambulanse.”

Sy sê met die tekort aan ambulanse in die provinsie en in Motherwell met sy sowat 150 000 inwoners, is daar ’n risiko dat die departement– wat tans vir R24 miljard se mediese eise verantwoordelik is – deur verdere litigasie in die gesig gestaar kan word.

Brenhan Mecun, EMS-distriksbestuurder vir die metro, het egter teruggekap na die DA en gesê hulle verstaan nie die situasie nie.

“Ons het die stelsel gesentraliseer sodat al die hulpbronne op een plek is.”

Hoewel die ambulanse nie meer by klinieke, soos in Motherwell gestasioneer word nie, word die ambulanse steeds met elke skof na die gebiede ontplooi, sê Mecun.

Volgens hom is nog geen klagtes aangemeld weens die reaksietyd van ambulanse nie.

“Dienste is nêrens weggeneem nie. Inteendeel, daar is ’n bykomende basis, van waar almal ontplooi word.”

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het nie op navrae gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.