Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Slaan só vrees oor koronavirus hok
’n Ambulansbestuurder met ’n gesigmasker op 29 Februarie 2020 nadat sy ’n pasiënt na ’n versorgingsentrum in Kirkland, Washington in die VSA vervoer het. Foto: Getty Images

Hoewel normaal, is vrees en paniek oor die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, teenproduktief, sê kenners.

“Dit is heeltemal normaal vir mense om iets te vrees wat onbekend is. Ekonomiese markte wankel, ondernemings en skole sluit en mense word onder kwarantyn geplaas,” sê Devon Pillay, ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. “Vrees verlam mense om met nugterheid die nodige stappe te doen om te verhoed dat ’n siekte, in dié geval die gevreesde nuwe koronavirus, versprei.”

Pillay sê vrees vir die onbekende lei tot ’n massa-histerie wat net verder aangeblaas word deur die verspreiding van fopnuus op sosiale media. “Hoe meer oningelig jy is, hoe meer word hierdie valshede ’n nagemaakte werklikheid wat dan uit paniek en onkunde verder versprei word. Wat nou moet gebeur is dat mense na gesondheidsowerhede en ingeligte bronne luister en verantwoordelikheid vir hulself en vir kwesbare mense soos bejaardes, kinders en mense wat met immuniteits-en-asemhalingsprobleme sukkel, neem,” sê Pillay.

Die stigmatisering van mense wat Covid-19 opdoen is nog ’n gevolg van vrees.

Die stigmatisering van mense wat Covid-19 opdoen is nog ’n gevolg van vrees. “Stigma en diskriminasie kan byvoorbeeld voorkom wanneer mense ’n siekte soos Covid-19 met ’n sekere nasionaliteit of bevolkingsgroep assosieer. Stigma kan ook voorkom nadat iemand byvoorbeeld uit kwarantyn vrygelaat word, selfs al word sulke mense nie meer deur die owerhede as ’n risiko beskou om die virus aan ander oor te dra nie.”

Volgens Pillay kleef die stigma oor die koronavirus reeds aan mense van Oosterse afkoms. Internasionale reisigers en gesondheidspersoneel loop ook deur. “Stigma wat deur vrees aangewakker word, verdeel mense net verder. Almal kan help om stigma wat verband hou met die virus te voorkom deur die feite te ken en dit met die gemeenskappe waarin hulle beweeg, te deel,” sê Pillay.

Prof. Gert van Zyl, ’n viroloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en die Nasionale gesondheidslaboratorium (NHLS), sê paniek is onnodig. “Daar word in Suid-Afrika en die wêreld hard daaraan gewerk om die verspreiding van die virus te stuit. Die Chinese het ’n kollektiewe manier om die virus te bekamp en dit is ook wat in die res van die wêreld moet gebeur. Sukses om die virus die hoof te bied gaan afhang of mense dit op ’n kollektiewe wyse doen. Mense wat saamstaan in tye van nood het deur die geskiedenis al telkens vrugte afgewerp. Dié virus is soos ’n oorlog en ’n oorlog kan nie individueel gewen word nie,” meen Van Zyl.

Prof. Ian Sanne, ’n plaaslike spesialis in oordraagbare siektes glo ’n entstof teen die virus sal binnekort gevind word.

Prof. Ian Sanne, ’n plaaslike spesialis in oordraagbare siektes en bedryfshoof van Right to Care, ’n organisasie sonder winsbejag wat ondersteuning aan MIV- en tuberkulose-lyers bied, glo ’n entstof teen die virus sal binnekort gevind word.

“Wetenskaplikes werk onverpoos daaraan om ’n entstof te vind. Wat my die meeste bekommer is die invloed wat die virus op mense het wat daagliks ’n stryd teen tuberkulose en MIV/vigs voer. Daar was tot dusver nog nie voldoende gevalle van MIV-positiewe of tuberkulose-pasiënte wat die virus opgedoen het om presies te bepaal wat werklik die risiko is en hoe hulle op die virus sal reageer nie.”

Mense met ’n bestaande longsiekte soos tuberkulose, loop ook ’n groot risiko.

Sanne benadruk dat dit nou deurslaggewend vir mense is om hul MIV-status uit te vind en indien hul positief getoets word, so spoedig moontlik met behandeling te begin. “Mense met ’n bestaande longsiekte soos tuberkulose, loop ook ’n groot risiko, veral diegene by wie dit nog nie gediagnoseer is of nalaat om hul medikasie te voltooi. Tuberkulose-lyers wat wel behandeling ontvang, moet steeds baie versigtig wees en die basiese maatreëls volg om verspreiding te verhoed soos om openbare plekke waar mense saamdrom te vermy, gesigmaskers te dra en hul hande te was,” waarsku Sanne.

Prof. Wesley Doorsamy, ’n navorser by die Universiteit van Johannesburg (UJ), sê dat innovasie dikwels plaasvind wanneer die mensdom onder groot druk verkeer.

“Die status quo word bedreig en so ontstaan ’n dringende behoefte aan innovasie. Daar is geen twyfel by my dat ’n suksesvolle entstof teen die virus binne die bestek van 12 tot 18 maande ontwikkel sal word nie. Dit sal ’n tydperk neem om ’n entstof te toets en te bepaal of dit veilig vir menslike inname is,” sê Doorsamy.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid19  |  Vrees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.