Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Slimmer’ inperking kan ekonomie red

Vakbonde en sakeleiers pleit by die regering om die Covid-19-inperking te verslap en eerder omvattende maatreëls in werkplekke aan te bring om die pandemie onder beheer te hou terwyl die ekonomie weer op dreef kom.

Solidariteit het Saterdag die mees omvattende van die voorstelle aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur, terwyl ses voorste akademici van Wits saam met Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Busa, sambreelliggaam vir die georganiseerde sakesektor, Vrydag soortgelyke voorstelle gemaak het.

Die Mineraleraad van Suid-Afrika, wat meer as 90% van die mynbedryf verteenwoordig, het ook Vrydag gesê hy het met gesprekke met vakbonde begin om werk te hervat, want voorlopige aanwysers dui daarop dat die aanvanklike doel met die inperking bereik is, naamlik om die kurwe van Covid-19-infeksies af te plat.

Solidariteit het ’n omvattende gedragskode vir beroepsgesondheid opgestel om besmetting in werkplekke te beperk en by die geringste teken van besmetting dit te isoleer. Dit is daarop gemik om soveel mense as moontlik te laat terugkeer werk toe sonder om hul gesondheid in gevaar te stel.

‘Om ’n nasionale inperking af te kondig, is soos om ’n muskiet met ’n bomwerper dood te maak.’

Die beweging stel ook ’n sogenaamde “slim” inperking voor, waarvolgens die inperking verslap word in gebiede waar die infeksiekoers laag is, terwyl dit in ander hoogs besmette gebiede streng afgedwing word.

Suid-Afrika moet leer uit die ervaring in China, Spanje en die VSA waar die episentrums van die virus eers was en dit nou is. Daar is sommige gebiede erger getref as ander en “chirurgiese inperkings” word baie suksesvol toegepas in gebiede of stede wat erg getref word, soos nou in New York en New Jersey gebeur.

Die gedragskode vir die veilige werkplekke vereis onder meer dat so min mense as moontlik op ’n gegewe tydstip in ’n werkplek is; dat tuiswerkery aangemoedig word waar dit enigsins moontlik is; dat werk in fases hervat word om seker te maak die virus versprei nie skielik nie; dat risiko’s en gevare eers geïdentifiseer en uitgeskakel word; en dat werk aanvanklik tot ’n paar dae per week beperk word om deeglike monitering en ontsmetting moontlik te maak.

Werkgewers moet ook verseker dat voldoende veiligheidstoerusting en sanitasie van hoë gehalte deurlopend beskikbaar is. Belastingtoegewings behoort daarvoor oorweeg te word.

Volgens Flip Buys, hoof van die Solidariteitbeweging, is die regering se besluitnemingsmasjinerie “heeltemal oorweldig” deur die snel opeenvolgende gebeure.

“Ons voorstelle is daarop gemik om daarmee te help,” sê hy.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê hulle verwag nie dat inperking teen 30 April verby gaan wees nie, maar vrees dat ’n langdurige, rigiede inperking “tot ’n inploffing kan lei wat tot groot maatskaplike skade kan lei”.

Die plan is daarop gemik om te verseker dat gesondheidsorg vir die kwesbare lede van die gemeenskap beskikbaar is.

“Die oorlog teen Covid-19 gaan uiteindelik deur ons gesondheidswerkers geveg word. Ons moet sorg dat hulle al die hulpbronne het wat daarvoor nodig is en ons kan dit net doen as ons ons ekonomie weer op dreef kry sonder om die lewens en gesondheid van ons werkers in gevaar te stel,” skryf Buys aan Rama­phosa in ’n dekbrief by die beweging se voorstelle. “Ons moet alles doen wat ons kan om soveel moontlik werkers in staat te stel om weer ’n inkomste te verdien en om hulself te beskerm, asook die kwesbares, haweloses en die alleenlopers in ons gemeenskap.”

“Ons het dit reeds met sommige ministers, onder wie Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, asook met raadgewers van Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, bespreek,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van die vakbond.

Patel is voorsitter van die ekonomiese-groep-ministers in die kabinet en Mantashe die ondervoorsitter. Die voorstelle sal egter uiteindelik die goedkeuring van Zweli Mkhize, minister van gesondheid en voorsitter van die maatskaplike-groep-ministers, moet kry.

In die komende weke gaan Solidariteit onder meer met Cosatu, Busa, kerke en mynhuise beraadslaag.

Solidariteit meen die verslapping van die inperking sal waarskynlik eers in die mynbedryf toegepas word. Dit sal dan waarskynlik as model vir ander sektore gebruik word.

Mantashe is ook gretig dat die mynbedryf weer op dreef kom en het die afgelope week gesprekke met die Mineraleraad en met individuele mynmaatskappye gevoer. Dit sal belastings weer na die staatskas laat vloei en Eskom se posisie verstewig met inkomste uit myne, wat groot hoeveelhede elektrisiteit gebruik.

Die Wits-akademici, wat die dekane van mediese asook ekonomiese en bestuurswetenskappe insluit, sê die rigiede inperking kos die land sowat R13 miljard per dag aan verlore produktiwiteit. Volgens die Reserwebank sal sowat 370 000 poste vanjaar weens die drie weke van inperking verlore gaan.

“Ons eie berekeninge is dat tot 1,2 miljoen poste verlore kan gaan en dat dit tot 2,6 miljoen poste kan styg as die volle inperking voortduur,” sê Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsafdeling.

“Om ’n nasionale inperking af te kondig, is soos om ’n muskiet met ’n bomwerper dood te maak. Ons moet nou chirurgies begin kyk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.