Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Koronavirus: ‘Sluit nou dié kosmarkte’

Verskeie internasionale bewaringsorganisasies het Maandag en die naweek by die Chinese owerheid gepleit om die handel in wilde diere op markte in die land eens en vir altyd te verbied en dit nie weer oop te stel nie wanneer die koronavirus (2019-nCoV) uitgeroei is.

Peter Knights, uitvoerende hoof van die organisasie Wild­Aid, sê die gebruik op markte om wilde diere te verkoop om geëet­ te word, behoort tot die geskiedenis­. Nie net is dit ’n wrede praktyk nie, maar dit skep die ideale omstandighede vir die ontstaan van dodelike virusse.

Die Chinese owerheid het die handel in wilde diere Sondag verbied totdat die koronavirus uitgeroei is. Dit volg in reaksie daarop dat die virus sy oorsprong in een van Wuhan se informele dieremarkte, die Huanan-seekosmark in die middestad, het.

’n Vrou dra gister ’n gesigmasker terwyl sy deur die sogenaamde Chinatown-distrik in Manchester, Engeland, stap.Foto: REUTERS

Knights sê stres, ontwatering, ondervoeding, vuil omstandighede, die vermenging van spesies en wilde en mak diere wat saam in beknopte hokkies aangehou word, skep die perfekte omstandighede vir die ontstaan van dodelike virusse.

Die ligging van die mark – in die middel van ’n stad met 11 miljoen inwoners – maak dit soveel makliker vir die virus om na die res van die stad en van daar na die land en die wêreld te versprei, sê Knights.

Dié soort handel, waarteen die organisasie WildAid sedert sy ontstaan in 2000 veg, hou ’n “massiewe bedreiging” vir menslike gesondheid in en kan ’n land se ekonomie op sy knieë dwing, sê Knights.

Nadat ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears) in Julie 2003 in die suide van China uitgebreek en die lewe van 774 mense geëis het, het die Chinese owerheid ook ’n verbod op die handel in wilde diere geplaas. Dié verbod het later stilweg verdwyn en mense het weer in wilde diere handel begin dryf.

Knights het aan The Washington Post gesê dit het werklik nou tyd geword dat China met ’n massiewe bewusmakingsveldtog begin om sy burgers bewus te maak van die gevare daarvan om bosvleis te eet.

Hy sê dit is duidelik dat sommige lede van die Kommunistiese Party van China wilde diere nie beskou as iets wat beskerm moet word nie, maar wel as ’n hulpbron wat gebruik moet word.

Die Wildlife Protection Agency (WPA) sê in ’n verklaring dié organisasie verwelkom die Chinese owerheid se besluit om die dieremarkte te sluit.

“Die besluit sal mense veilig hou en miljoene der miljoene diere teen onnodige lyding beskerm.”

Kate Nustedt, direkteur van die WPA, het China geloof vir die besluit. “Die markte waar dié diere verkoop word, is ’n kookpot vir die uitbreek van nare­ siektes. Ons hoop dié dapper stap sal in ’n permanente verbod verander word. Ons hoop die in- en uitvoer van wild sal wêreldwyd gestaak word sodat ’n toekomstige krisis van dié aard voorkom kan word.

“Wilde diere hoort in die natuur. Dié verbod van China sal ’n baie groot bydrae lewer om hulle dáár te hou – in die natuur.”

Intussen doen 19 akademici van oor die wêreld heen in ’n verklaring ’n beroep op die Chinese regering om die handel in wild onwettig te verklaar.

Hulle sê in die verklaring wetenskaplike navorsing wys dat 70% van nuwe aansteeklike siektes almal hul oorsprong by wilde diere het.

“Virusse word in die natuur gevind. Die wilde diere is nie noodwendig die gashere van die virus nie, maar dit ontstaan as gevolg van menslike verbruik van die diere.”

Hulle waarsku sodra ’n wilde dier uit ’n ekostelsel verwyder word, ontstaan ’n teelaarde vir die ontstaan van virusse in die omgewing.

Lewende katte, honde, ietermagôs, hoenders, slange, marmotte, ape en ’n verskeidenheid wildsbokke is in die Wuhan-mark aangehou. Die diere word nét daar geslag en aan verbruikers verkoop.

Die Wildlife Conservation Society­ (WCS) sê in ’n verklaring die verkoop van produkte van enige wilde diere in restaurante, markte en op die internet “moet onmiddellik en permanent gestaak word”.

Die WCS sê die tyd is ryp dat die stropery van wilde diere vir die kosmarkte in Asië nou gestaak word.

  • Mary Dixon van die WCS sê dit is noodsaaklik dat die Chinese van hul “gevaarlike eetgewoontes” afsien. “Dit stel mense se lewe in gevaar en wis spesies uit,” sê sy.
Meer oor:  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.