Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sluit Suurbraak week lank, vra inwoners ná 2 sterftes

Inwoners van Suurbraak naby Swellendam vra dat dié sendingdorpie vir sewe dae heeltemal “gesluit moet word” nadat koronavirusinfeksies hier skerp gestyg en twee mense binne enkele dae aan Covid-19 dood is.

Dit kom kort nadat die gesamentlike rampbestuursentrum in Swellendam Maandag strenger inperkingsregulasies vir die volgende twee weke aanbeveel het weens die skerp toename in infeksies in die gebied.

Suurbraak en Buffeljagsrivier is as die grootste brandpunte in die gebied geïdentifiseer.

Die munisipaliteit sê daar sal beheerde toegang tot Suurbraak en Buffeljagsrivier wees. Ingange word deur die polisie, provinsiale verkeersdienste en munisipale wetstoepassers gemonitor.

Leerlinge van Buffeljagsrivier en Suurbraak wat Swellendam-skole bywoon, moet hulle ook vir ’n ondersoek aanmeld en aandui of hulle uit ’n huishouding kom waar daar positiewe Covid-19-gevalle is.

Volgens inwoners van Suurbraak het die positiewe gevalle vandeesweek tot 120 gestyg.

“Suurbraak is hard getref,” sê Donovan Julius, kunstenaar en aktivis wat op die dorpie woon, by navraag.

“Daar woon sowat 3 000 mense hier en die 120 aktiewe gevalle is net te veel.”

Volgens hom wil inwoners hê dat die dorpie ’n week lank heeltemal ingeperk moet word sodat die infeksies verminder kan word.

’n Taakspan is vroeër tydens die eerste en tweede vlaag in die dorp begin en items en kos is ingesamel vir geraakte families. Volgens Julius het almal toe goed saamgewerk.

Nou probeer hulle weer dieselfde doen. Hyself het al twee van sy skilderye verkoop en ’n vriendin van hom in Engeland, Emma Delpech, het ’n veldtog op gofundme.com begin, onder meer om geld vir ’n septiese-tenk-toilet in te samel vir ’n gebied waar inwoners geen toegang tot toilette het nie. Hulle help ook inwoners van die nabygeleë Buffelsjagsrivier en Malgas.

“Ons was voor Covid-19 al bekommerd oor sanitasie,” sê hy.

“Dit is vir my ’n teer punt.”

Die Swellendam-munisipaliteit het Donderdagmiddag bevestig dat ’n versoek om Suurbraak in te perk deur die hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Overberg-distrik ontvang is en waarskynlik op die volgende vergadering van die rampbestuursentrum ter tafel gelê sal word.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Donderdag by navraag op ’n digitale konferensie oor die inwoners se versoek gesê die besluit oor die algehele inperking in die land is op nasionale vlak geneem en in so ’n geval (soos Suurbraak) sal ’n spesifieke proses gevolg moet word.

In subdistrikte kan inwoners egter self saamspan om hul dorp te beskerm.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, het ook op die konferensie gesê niks verhoed die dorp se mediese bestuurder om met ’n plan vorendag te kom nie.

Teen Donderdag 14:15 was daar 242 aktiewe gevalle in die Swellendam-gebied, volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid se Covid-19-inligtingsbord.

Meer oor:  Swellendam  |  Suurbraak  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.