Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Snorre by elke sessie van dogter se chemo

Die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers (62) versteek ’n klein hartjie agter daardie beroemde groot snor.

Die foto van Peter de Villiers en sy dogter, Odille Monk, tydens haar laaste chemosessie. Foto: Facebook via Burre Burger

Mense het die afgelope week met deernis en bewondering gereageer op ’n foto van Snorre en sy dogter waar hulle sáám in die hospitaal lê vir haar laaste sessie chemoterapie. Die foto is meer as 1 600 keer op sosiale media gedeel.

De Villiers, wat deesdae Zimbabwe se nasionale rugbyspan afrig, het die afgelope maande sy aandag volledig van die rugbyveld na sy dogter, Odille Monk (28), verskuif om haar by te staan in haar stryd teen kanker.

Monk sê sy het verlede jaar drie maande lank sleg gevoel en aanhoudend gehoes. Sy het aanvanklik gedink sy het sinusitis.

Sy en Scott Monk het in Junie verloof geraak en haar ouers was in September by hulle in die Paarl om die troureëlings te bespreek.

Teen daardie tyd het haar gesondheid al erg verswak.

“Ek het weer dokter toe gegaan toe ek régtig nie meer kon nie. Ek het heeldag gehoes en kon nie meer asemhaal nie.” Monk is toe gestuur vir verskeie toetse en X-strale. Dokters het drie dae later bevestig dat daar ’n groot weefselmassa rondom haar hart is. ’n Biopsie is geneem en vroeg in Oktober het sy gehoor sy het limfoomkanker. Dokters het gesê dié tipe kanker kan net met chemoterapie behandel word.

Sy moes agt sessies chemo by die St. Stephen Health Care-hospitaal in die Paarl ontvang.

“My pa het vir my gesê hy gaan heeltyd reg langs my sit en hy het régtig heeltyd reg langs my gesit. Die ondersteuning van my familie en my man was ongelooflik.”

In Desember het haar pa haar ook voor die kansel aan Scott afgegee.

Ná die sesde sessie chemo het sy weer vir ’n skandering gegaan en dokters het gesê die massa het dramaties gekrimp.

“Dit het basies die lewe uit my gewurg en nou is hy verklein. Ek moet oor drie weke weer vir ’n skandering gaan, maar ek glo ek is genees.”

De Villiers het elke sessie van Oktober verlede jaar tot die afgelope week saam met Monk deurgemaak. “Ek wou wys ek is bereid om deur te gaan waardeur sy gaan. Ons het baie lekker gesels en opgevang oor alles wat gebeur het terwyl ek weg was.”

De Villiers het weens die liefdesoffer aan sy dogter egter probleme by die werk opgetel.

Hy sê die Zimbabwiese Rugby-unie het hom in Februarie dissiplinêr verhoor omdat hulle glo meen hy het sy dogter se siekte “opgemaak” en dit as verskoning gebruik om nie by die werk te wees nie. Boonop het die unie erge geldprobleme.

De Villiers sê die unie huur ’n woonstel vir hom in Zimbabwe, maar toe hy in Februarie daar aankom, was die deure gesluit omdat die unie glo drie maande lank nie huur betaal het nie.

Hy wag nou vir die uitslag van die verhoor. “Ek is ’n professionele persoon, ek is bereid om my kontrak te eer. Maar watter tipe mens sê vir jou jy fake jou kind se siekte? Ek het gevoel ek kan nie vir haar ondersteuning bied van ’n ander plek af nie. Ons was gelukkig om tot hier te kom. Sy was amper dood. Dat sy hierdie ding survive het, is ongelooflik.”

Meer oor:  Peter De Villiers  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.