Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Só besluit dokters wie leef, wie sterf

Wanneer beddens in waaksale wel die dag te min raak, sal jonger pasiënte en mense met die beste kans op oorlewing voorkeur geniet.

’n Dokter sal besluit wie gehelp gaan word na aanleiding van ’n standaard-prioriteitslys.

“Jou mediese fonds gaan jou nie red nie en hulle gaan ’n bed gee aan dié mense wat die beste kans op oorlewing het,” sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging.

“As jy moet kies tussen ’n bejaarde en iemand van 35 – wat sou jy doen?”

Die Gautengse departement van gesondheid het Dinsdag bevestig dat die regering ’n ooreenkoms met private hospitale aangegaan het om bedkapasiteit “teen ’n bepaalde koste” te verhoog.

Dit is bykomend tot die vroeëre ooreenkoms dat private hospitale beddens aan die staat beskikbaar sal stel en dit het nodig geword omdat die infeksiekoers in die provinsie vroeër begin styg het as wat verwag is.

Gauteng het reeds die 100 000- kerf vir koronavirusinfeksies verbygesteek en volgens syfers wat die nasionale gesondheidsdepartement Dinsdag uitgereik het, is daar tans 103 713 positiewe gevalle in die provinsie.

Tot nou toe is 2 416 Wes-Kapenaars al weens die virussiekte dood en 1 636 mense word vir Covid-19 in staats- en private hospitale behandel.

Coetzee sê die Suid-Afrikaanse Intensiewesorgvereniging het al in Mei vanjaar riglyne bekend gemaak om die noodsorg-prioritisering van pasiënte te vergemaklik wanneer hospitale oorvol raak. Dit geld alle pasiënte, nie net dié met Covid-19 nie.

Pasiënte sal nie vir opname in waaksale oorweeg word as die behandeling nutteloos gaan wees nie
Dr. Angelique Coetzee, SA Mediese Vereniging

Ingevolge die riglyne verander medici se fokus ten tyde van ’n gesondheidsramptoestand van “die bevordering van ’n individu se welstand” na “dit wat die grootste groep mense gaan bevoordeel”.

“Pasiënte sal nie vir opname in waaksale oorweeg word as die behandeling nutteloos gaan wees nie.

“Dit sluit in diegene wat breindood verklaar is, mense met chroniese en terminale siektes, pa­siënte wie se hart al gaan staan het, mense met ernstige breinskade en diegene met ernstige orgaanverswakking,” lui die dokument.

’n Gesondheidskaal met ’n telling­ van 1 tot 8 word gebruik om te bepaal tot watter mate pa­siënte by kritieke sorg sal baat vind.

Hoe laer die telling, hoe groter die waarskynlikheid dat die pa­siënt daarby sal baat vind.

dokter, covid-19, koronavirus
'n Dokter gaan 'n lêer na van 'n Covid-19- pasiënt. Foto ter illustrasie verskaf deur Reuters

Jonger mense en gesondheidspersoneel wat siek is, sal ook voorkeur geniet.

Staatshospitale gebruik dieselfde voorrangstelsel gedurende ’n pandemie.

Die private hospitaalgroep Life­ het bevestig pasiënte met mediese fondse sal nie voorkeur kry vir beddens in waak- en hoësorgeenhede nie.

“In die huidige omstandighede word beddens in ons hospitale volgens die onmiddellike behoeftes van pasiënte toegeken.

“Ons kan nie in ’n wêreldwye pandemie kritiekesorgbeddens (beddens in waak- en hoësorgeenhede) reserveer net vir sekere belanghebbendes in die gesondheidsorgmark nie,” het dr. Charl van Loggerenberg, Life se bestuurshoof van noodgeneeskunde, Dinsdag gesê.

Volgens hom sal elke geval op sy eie meriete beoordeel word “en sorg sal aan pasiënte gegee word wanneer dit nodig is – ongeag of hulle lid van ’n mediese fonds is of deur die staat gefinansier word”.

Jacques du Plessis, bestuurder van Netcare se hospitaalafdeling, sê hy verstaan mense se kommer oor plek in hospitale, maar hy sê hulle het wel nog plek in hul Gautengse fasiliteite om Covid-19- en ander pasiënte te help.

Dr. Stefan Smuts, Mediclinic se hoof- kliniese beampte, sê hulle het reeds ’n ooreenkoms met die Wes-Kaapse regering onderteken “en is gereed om sulke ooreenkomste met die ander provinsiale departemente van gesondheid te onderteken”.

Meer oor:  Infeksies  |  Koronavirus  |  Sterftes  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.