Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Só misluk regering se plan vir toetse

Die hoeksteen van die regering se Covid-19-strategie noudat die strawwe inperking opgehef is – die opspoor en toets van moontlike draers van die virus – het heeltemal in duie gestort.

Met sowat 100 000 agterstallige toetse – baie van hulle reeds twee weke uitstaande – is enige suksesvolle toets-en-opspoorstrategie nou onmoontlik.

So groot is die agterstand dat staatslaboratoriums netsowel die speekselmonsters in hul besit kan weggooi omdat die toetsuitslag op sulke ou monsters nie meer geloofwaardig is nie, het prof. Jeremy Nel, ’n spesialis in aansteeklike siektes aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) die afgelope week aan Rapport gesê.

Owerhede in die Wes-Kaap, waar die meeste toetse uitgevoer word en die positiewe toetskoers – die aantal positiewe toetse as persentasie van die totale aantal toetse – ook die hoogste is, het hierdie week aangekondig dat hulle voortaan hul toetse gaan rantsoeneer.

In die Kaapstad-metro sal slegs mense bo die ouderdom van 55 of diegene met onderliggende siektes soos diabetes, hoë bloeddruk en ander hartsiektes getoets word. Gesondheidswerkers sal ook voorkeur geniet.

30 miljoen toetse uit China na Afrika op pad.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het die afgelope week erken dat rantsoenering van toetse hul provinsie se infeksiedata onbetroubaar maak, maar dat hul met geen ander keuse gelaat is nie. “Ons sit met ’n agterstand van meer as 28 000 toetse in die Wes-Kaap,” het hy Donderdag gesê en bygevoeg die agterstand landwyd beloop sowat 100 000.

“Daarom moet ons nou sorg vir diegene wat die kwesbaarste is.”

Winde sê die nuwe strategie sal nie ’n rol speel in hoe sterftes en hospitaalgevalle aangemeld word nie.

Verskeie kenners sê die res van die land behoort die Wes-Kapenaars se voorbeeld te volg.

Hulle sê om twee weke vir ’n toets te wag maak in elk geval geen sin nie, aangesien die meeste Covid-19-pasiënte binne twee weke gesond is.

Private laboratoriums slaag steeds daarin om uitslae binne 24 uur bekend te maak, maar dit kan tot 48 uur duur as monsters uit verafgeleë gebiede vervoer moet word, verduidelik ’n Gautengse spesialis.

Hy sê ’n tekort aan toetsmateriaal is ’n toenemende krisis, maar omdat die private sektor ’n groter verskeidenheid toetsmetodes gebruik, is hul poel van potensiële internasionale verskaffers groter.

Teen Donderdagaand is altesame 820 675 toetse reeds afgehandel waarvan 418 487 (51%) in die staatslaboratoriums, lui die jongste statistieke van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

Op 13 April het Suid-Afrika se voorste Covid-19-spesialis, prof. Salim Abdool Karim, in ’n voorlegging gesê Suid-Afrika het ’n “unieke komponent” in sy reaksie op die Covid-19-pandemie, naamlik die “aktiewe” soek na Covid-19-gevalle.

Net Suid-Afrika, het hy gesê, het meer as 28 000 gemeenskapsgesondheidswerkers wat van huis tot huis gaan om na potensiële Covid-19-slagoffers te soek.

Met die land se vermoë aan flarde om die gevalle te toets wat hierdie leërskare van gesondheidswerkers identifiseer, stort die “unieke komponent” in duie.

Proff. Shabir Madhi, entstofkundige aan Wits, en Marc Mendelson, spesialis in aansteeklike siektes aan die Universiteit van Kaapstad, het verlede maand al gewaarsku dat die land se onvermoë om vinnig te toets die land se Covid-19-planne in die wiele ry.

SA klop Italië . . .
Italië het 60 miljoen mense, omtrent ewe veel as Suid-Afrika. In Italië het 13 dae verloop tussen die eerste Covid-19-sterfte en die 100ste. Daarvandaan was die verdubbelingskoers uiters vinnig: Twee dae van 100 tot 197; drie dae tot 463 en ná nog twee dae was die sterftesyfer 827. Daar het dus 20 dae in Italië verloop van die eerste tot 800ste sterfte .
In Suid-Afrika is die 100ste sterfte eers aangeteken 29 dae ná die eerste sterfte. Daarna het dit ses dae geneem om te vorder van 103 sterftes tot 206; 12 dae tot 407 en nog 11 dae om die syfer verder te verdubbel tot 792. Teen Vrydag het 908 mense gesterf.
In Italië het dit dus 20 dae geneem voordat 800 mense gesterf het en in Suid-Afrika 58 dae – byna drie keer langer.

“Suid-Afrika se ambisieuse gemeenskapstoetsingsprogram maak staat daarop dat besmette persone geïdentifiseer, geïsoleer of in kwarantyn geplaas word,” het hulle in ’n meningsartikel vir The Conversation geskryf. Dié strategie kan net doeltreffend wees as toetsuitslae binne 12 tot 24 uur beskikbaar is, het hulle gesê.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Dinsdag wal gegooi en gesê die agterstand in toetsuitslae is nie ’n rede tot kommer nie.

“Ons het al in die verlede ’n tekort aan toetse gehad en ons sal die probleem oplos.”

Hy het gesê die regering se strategie is steeds om mense wat in kontak was met diegene wat besmet is met die virus so vinnig as moontlik op te spoor en te isoleer, maar bygevoeg dat toetsing in dié strategie ’n “bysaak” is.

“Dokters kan iemand met Covid-19 klinies diagnoseer.

“Dikwels word die toets bloot as bevestiging gedoen. Ons sal ook ons toetse so prioritiseer dat die strategie nie belemmer word nie.”

Hy het nie verduidelik hoe ’n dokter ’n kliniese diagnose kan maak as ’n pasiënt geen simptome toon nie – soos dikwels met Covid-19 gebeur.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede Sondag aan mediaredakteurs gesê China gaan binnekort 30 miljoen toetsstelle per maand na Afrika uitvoer. Die presidensie het nie geantwoord op vrae hoeveel van dié toetsstelle vir Suid-Afrika geoormerk is of wanneer dit hier gaan aanland nie.

Mendelson het die afgelope week aan Rapport gesê toetse behoort slegs gedoen te word waar dit die pasiënt se behandeling raak of die integriteit van die gesondheidsdienste sal beskerm.

Mendelson is ook ’n subkomiteevoorsitter van die regering se ministeriële advieskomitee (MAK) oor Covid-19.

“Die sleutelfokus van diagnostiese toetse moet nou op pasiënte in hospitale wees sodat hulle die regte behandeling kan kry en om te keer dat Sars-CoV-2 in die hospitale versprei,” lui ’n skrywe van Mendelson en Madhi wat die afgelope week in die South African Medical Journal (SAMJ) gepubliseer is.

Madhi is ook ’n subkomiteevoorsitter van die MAK.

Die uitslae moet binne 12 tot 24 uur beskikbaar wees om te verhoed dat hospitale oorweldig word. Wanneer pasiënte in hospitale opgeneem word, word hulle verdeel in sale vir vermeende Covid-19-gevalle (’n persoon wat ondersoek word of PUI) en ander pasiënte.

“As pasiënte dan positief getoets word, word hulle in ’n toegewyde Covid-19-saal of waakeenheid behandel. Ons het ’n beperkte aantal hospitaalbeddens en ons kan net ’n toeloop bestuur as pasiënte vinnig gediagnoseer en behandel kan word,” skryf Mendelson en Madhi.

“Vertraagde diagnose lei tot al meer pasiënte in PUI-sale, nuwe PUI-sale moet ingeruim word en die opeenhoping begin.”

Volgens hulle sal die situasie vererger namate die virus versprei. Boonop moet gesondheidswerkers spesiale beskermende toerusting (waarvan die voorrade ook onder druk is) gebruik by alle PUI-pasiënte.

Nog ’n groep wat vir toetse geprioritiseer moet word, is gesondheidswerkers.

“Alle simptomatiese gesondheidswerkers en die wat hoërisiko-kontak met bevestigde Covid-19-gevalle gehad het, moet getoets word sodat hulle geïsoleer of onder kwarantyn geplaas kan word,” sê Mendelson.

“Hulle moet rondom dag agt weer getoets word sodat dié noodsaaklike werkers weer so gou moontlik hul poste kan opneem.”

Toetse moet ook beskikbaar wees vir pasiënte en werkers by tehuise. “Internasionale studies wys dat dit brandpunte vir uitbrekings is.”

Wat betref die res van die bevolking wat besorg is oor hul Covid-19-status, beveel Mendelson, Madhi, en hul kollega prof. Francois Venter van Wits aan dat gratis selfoontoepassings ontwikkel word waar mense simptome kan nagaan en advies kan kry.

“Dieselfde strategie is ingestel in lande met baie hulpbronne, soos Brittanje toe die uitbreking ’n spits bereik het en daar ’n tekort aan toetsmateriaal was,” skryf die kenners in die Daily Maverick.

Meer oor:  Salim Abdool Karim  |  Marc Mendelson  |  Alan Winde  |  Toetse  |  Covid-19  |  Syfers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.