Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Só flop NGV rééds

Peperduur loodsprojekte waarmee die regering wou wys sy nasionale gesondheidsversekering (NGV) kan werk, het ineengestort binne maande nadat die bestuur daarvan aan provinsies oorgedra is.

Dr. Anban Pillay

Hierdie projekte was ’n volslae mislukking, sê dokters en kenners – maar dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, beskryf dit as ’n sukses. Die begroting vir die NGV is in die huidige boekjaar meer as verdubbel van R735 miljoen tot R1,7 miljard.

Belastingbetalers het die afgelope ses jaar altesame R4,3 miljard gehoes ter voorbereiding van die NGV.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal verantwoordelik vir die NGV, het aan Rapport bevestig die provinsies het die loodsprojekte op 1 April 2018 oorgeneem.

“Die meeste provinsies het die dokters aanhou in diens neem en in sommige gevalle na ander fasiliteite geskuif.”

Drie NGV-dokters met wie Rapport gepraat het, sê egter die wiele het reeds afgeval in minstens die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes. Die dokters is met mekaar in verbinding deur ’n WhatsApp-groep.

In die Oos-Kaap is die NGV-dokters in die pad gesteek, in Limpopo is die oorgrote meerderheid van dokters laat gaan en die Noordwes-gesondheidsdepartement is in so ’n benarde toestand dat dit onder nasionale administrasie geplaas is om weer basiese dienslewering te hervat.

In Noordwes verskaf net 39% van staatsfasiliteite aanvaarbare diens, het die interministeriële taakspan bevind. (Lees die berig op bl. 2.)

Dokters is eers dié week vir 3 maande se werk betaal.

’n Oos-Kaapse dokter sê sy is R78 000 per maand betaal en deur die jare “mislei” om te glo sy gaan met die projek kan aangaan totdat die NGV ten volle in werking tree.

In Gauteng is die programme amptelik verleng, maar ’n dokter in dié provinsie sê hulle is eers die afgelope week vir die laaste drie maande se werk betaal.

Volgens dié dokter is hulle onseker oor hoe lank hulle nog hul werk gaan behou.

“Die provinsiale departement van gesondheid weier om vir ons antwoorde te gee. Dit lyk nou of die program tot September sal voortgaan of totdat die provinsie se geld op is. Dokters bedank nou op ’n streep.”

Die regering het in 2012 die loodsprojekte in tien distrikte oor die land heen begin en dit onmiddellik uitgekontrakteer aan ’n maatskappy genaamd Foundation for Professional Development (FPD). FPD is ’n winsgewende entiteit verbonde aan die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama).

FPD het dokters gekontrakteer om aan die NGV-program deel te neem en ook die doeltreffendheid daarvan gemonitor.

Dr. Gustaaf Wolvaardt, besturende direkteur van FPD, sê die projek was ’n sukses voordat dit einde Maart aan die provinsies oorgedra is.

“Die dokters het ’n beduidende bydrae gemaak om die las op staatsklinieke en provinsiale hospitale te verlig en om pasiënte met chroniese siektes te bestuur.

“Ek glo dat dit op lang termyn sou kon werk as die dokters net reg bestuur is.”

Russell Rensburg van die Rural Health Advocacy Project, sê die rede waarom die projekte in duie stort, is omdat die provinsies nie in staat is om finansiële bestuur toe te pas nie en nie die vermoë het om poste te vul en gesondheidsdienste te lewer nie.

Dr. Paula Armstrong, senior ekonoom van Econex, sê die verwikkelinge plaas ’n groot vraagteken agter die departement se vermoë om die NGV op ’n nasionale vlak te implementeer.

Volgens haar is dit ook onduidelik presies wat die departement met die miljarde rande gedoen het wat reeds bestee is.

Motsoaledi het verlede week met die bekendstelling van die wetsontwerp oor die NGV gesê die loodsprojekte was ’n sukses.

Volgens hom is 6 miljoen mense op ’n sentrale databasis geregistreer en uitreikspanne van die loodsprojekte het 900 000 mense by hul huise besoek om dienste te lewer.

Hy het gesê sedert 2012 is R1,7 miljard bestee aan nuwe toerusting en meer as R40 miljard om hospitale en klinieke op te knap. Dié uitgawes kom egter uit ander begrotings as die NGV s’n.

Die NGV-projekte was volgens Motsoaledi “moeder-en-kind-gesondheidsprogramme, streek-spesialisspanne en primêre gesondheidsprojekte”.

Die lesse wat die regering uit die ses jaar van loodsprojekte geleer het, som hy in ’n voorlegging op:

  • “Daar is ernstige ongelykhede in toegang tot gesondheidsorg.”
  • “Dié ongelykhede word vererger deur die vermoë van die openbare sektor, byvoorbeeld ’n gebrek aan hulpbronne, toerusting en medisyne.”
  • “Die belangrikste is toegang tot sleutel-gesondheidspraktisyns.”

Prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die loodsprojekte het “klaaglik misluk”.

“Dit is duidelik dat die departement moes rondskarrel om projekte te vind om met geld van die NGV te finansier,” sê hy.

Oudits van die gesondheidsombud strook met Van den Heever se waarneming.

In die ombud se jongste verslag sê hy daar was nie ’n beduidende verskil in die gehalte van die gesondheidsfasiliteite wat deel was van die NGV-loodsprojekte en ander nie.

“Die laagste prestasie-telling vir ’n NGV-proefdistrik was 42% vir die Vhembe-distrik, terwyl die hoogste vir die Tshwane-distrik op 70% was. Vier NGV-proefdistrikte se telling was minder as 50%, wat beteken dat hulle nie aan die nasionale norme en standaarde vir goeie gesondheidsorg voldoen nie,” lui die verslag.

Pillay sê die ombud se verslag is ’n “verkeerde maatstaf” vir hoe doeltreffend die NGV-loodsprojekte was. “Onafhanklike evaluerings het getoon daar was beslis ’n verbetering.”

Pillay sê die NGV-projek het nié ontspoor soos kritici sê nie.

Motsoaledi het in Julie verlede jaar deur ’n proklamasie in die Staatskoerant sewe ministeriële advieskomitees gestig wat hom moet help om die NGV te ontwerp.

Pillay bevestig dat nie een van dié komitees gestig is voordat Motsoaledi die wetsontwerp gepubliseer het nie. “Die minister het besluit om eers kommentaar oor die wetsontwerp te kry.”

* Lees ook hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.