Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sonder strafbaarheid sal Life Esidimeni herhaal word
Oudregter Dikgang Moseneke het die bemiddelingsverhoor hanteer. Foto: Argief

Diegene wat verantwoordelik is vir die dood én die lyding van pasiënte in die Life Esidimeni-skandaal moet strafregtelik vervolg word.

So vra die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) en die nieregeringsorganisasie Section27.

Altesame 144 mense is dood, 44 is steeds vermis en 1 418 is aan onmenslike trauma en lyding blootgestel.

Oudregter Dikgang Moseneke, wat die bemiddelingsverhoor hanteer het, het ook in sy uitspraak in Parktown, Johannesburg, gesê van die mense is geteister en hul hande en voete is vasgebind toe hulle verskuif is. Van die plekke waarheen die psigiatriese pasiënte en diegene met intellektuele gestremdhede verskuif is, was “valstrikke van die dood en plekke van marteling,” sê Moseneke.

Mark Heywood van Section27 sê Moseneke het ook verskeie kere in sy verslag daarna verwys dat mense strafregtelik vervolg moet word.

“Ons kan dit nie net hier los nie, dit sal ’n enorme onreg wees as hier nie vervolgings kom nie,” het Moseneke gesê.

Hy het bygevoeg dat die sorg van mense met psigiatriese siektes in die hele land hersien moet word. Daar is herhaaldelik verwys na “onmenslike behandeling” en dit eindig nie by dié saak nie.

Dr. Mzukisi Grootboom, woordvoerder van Sama, sê benewens die mense wat dood en vermis is, is die 1 418 mense wat oorleef het vir altyd getraumatiseer.

Hy sê indien daar na “strafbaarheid gekyk word in die mediese veld, is twee aspekte ter sprake: professioneel en strafregtelik”.

“Dit is onverstaanbaar hoekom daar nog nie professioneel deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe opgetree is nie. Of jy ’n administrateur in gesondheid is of ’n dokter, jou primêre fokus is die welstand van jou pasiënte.”

Sama vra dat die regstelsel ook bronne dadelik beskikbaarstel sodat dit strafregtelik ondersoek kan word.

Indien dit die toets vir strafbaarheid druip, sal wat gebeur het, herhaal word.

“Indien dit die toets vir strafbaarheid druip, sal wat gebeur het, herhaal word,” sê Grootboom.

Prof. Ames Dhai, van die Steve Biko-sentrum vir Bio-etiek aan die Universiteit van die Witwatersrand, skryf in die South African Medical Journal die regstelsel het tot dusver die slagoffers in die steek gelaat. Daar is gepoog om die tragedie te voorkom sodat die mense nie oorgeplaas moet word nie en die howe het ten gunste van die departement van gesondheid beslis. Die tweede aansoek is verwerp weens die “gebrek aan dringendheid in Maart 2016”.

’n Deel van die skuld moet op die howe gepak word, sê Dhai.

“Dit blyk of psigiatriese gesondheid nie as ’n saak van dringendheid gesien word in dele van die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Die Life Esidimeni-tragedie kon voorkom gewees het as die howe net geluister het.”

Hy voeg by dat indien diegene wat dit toegelaat het nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie, dit weer kan gebeur.

Meer oor:  Sama  |  Life Esidimeni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.