Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Spesiale verhoor: Pasiënte ‘honger en mishandel’

’n Seun was so honger hy het selfs die verpakking van die kos opgeëet wat ’n familielid vir hom gebring het. Een man het soveel gewig verloor hy moes sy broek met sy veters vashou. Dit was maar twee van die gevalle waarop prof. Malegapuru Makgoba, gesondheidsombud, afgekom het in sy ondersoek na die sogenaamde Life Esidimeni-skandaal.

Makgoba het Maandag getuig op ’n sitting van die alternatiewe dispuutoplossingverhoor.

Volgens Makgoba was die optrede wat tot die dood van 118 Life Esidimeni-pasiënte in Gauteng gelei het, ’n “algehele miskenning van menswaardigheid en respek”.

Hy was die eerste getuie wat deur adv. Tebogo Hutamo, vir die Gautengse departement van gesondheid en die provinsiale regering, geroep is.

Makgoba se verslag oor die dood van die pasiënte is op 1 Februarie uitgereik.

Hy sê die departement se besluit om pasiënte van Life Esidimeni te verskuif na ander fasiliteite – wat nie gerat was vir versorging nie – het direk tot die dood van die pasiënte gelei.

“Talle families het nie geweet waar hul geliefdes heen verskuif is nie. Dit was baie traumaties en frustrerend vir hulle.”

Talle families het nie geweet waar hul geliefdes heen verskuif is nie. Dit was baie traumaties en frustrerend vir hulle
Prof. Malegapuru Makgoba, gesondheidsombud

Makgoba sê meer as 80% van die sterftes het by slegs vyf van die nieregeringsorganisasies waarheen hulle verskuif is, voorgekom.

Hy sê die oorkoepelende rede vir die sterftes was weens ’n gebrek aan kos, terwyl faktore soos oorbevolking en swak finansiële hulpbronne en geriewe ook ’n rol gespeel het.

By ’n fasiliteit in Cullinan is tien pasiënte na ’n ongelisensieerde fasiliteit verskuif om plek te maak vir pasiënte van Life Esidimeni.

“Hulle is opgeoffer vir die pasiënte wat van Life Esidimeni gekom het,” sê Makgoba.

Prof. Malegapuru Makgoba Foto: Felix Dlangamandla

“Die gehalte en kwalifikasies van die versorgers is nie iets waarop ons as ’n land trots moet wees nie,” sê hy.

Dit was vir hom duidelik dat sommige van die nieregeringsorganisasies “ekonomies met die waarheid was” tydens sy ondersoek na die sterftes, het hy getuig.

Adv. Adila Hassim, wat 55 families verteenwoordig, het in haar aanvangsverklaring gesê die dispuutoplossingverhoor sal ’n geleentheid wees vir die families om hul kant van die saak te stel.

“Die jammerlike verhaal van uiterste verwaarlosing, te min of verrotte kos, blootstelling aan koue, ’n gebrek aan medisyne, oorbevolking, mishandeling, die dood, laat kennisgewings van sterftes en sifting deur lyke wat opgestapel lê in lykshuise sal ten beste deur familielede vertel kan word,” sê sy.

“Wat was die motivering agter die optrede? Die las om dit te beantwoord lê by die regering,” sê sy.

Die verhoor word in Parktown, Johannesburg, gehou en gaan Dinsdag voort.

Meer oor:  Parktown  |  Johannesburg  |  Gesondheidsdienste  |  Life Esidimeni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.