Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Spiderman’ kry glimlag terug in Smile-week in Bloem

Die vyfde vloer van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein was Donderdag vir ’n dag lank soos ’n grootskaalse partytjie.

Daar was ballonne, ’n besige Spiderman wat die verpleegpersoneel laat lag soos hy in die gang afhardloop en in die lug boks en in die een saal het “Twinkle Twinkle, Little Star” weerklink.

’n Poppekasvertoning sou later begin het om die kinders op te beur.

Dié kinders is deel van die 18 wat met Operasie Glimlag deur die Smile-stigting rekonstruktiewe operasies in die Universitas-hospitaal sal ondergaan.

Die Smile-stigting het weer vanjaar hul Smile-week by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gehou. Bohlale Letaba (1) se hande word geopereer sodat sy beter kan vat. Foto: André Damons

Kinders tot op die ouderdom van 18 kan deur dié nieregeringsorganisasie gehelp word.

Lindokuhle Makhubo (3), oftewel Spiderman, se gesplete verhemelte is Woensdag geheg. Sy hande is met verbande toegedraai sodat hy nie in sy mond kan krap nie. Hy is deurentyd aan die babbel.

Die verbande weerhou hom egter nie om sy ma se foon op te tel nie.

Hy is baie lief vir foto’s en gaan sokker speel wanneer hy by die huis kom.

As jy hom vra wat sy naam is, roep hy trots uit: “Spiderman!”

Die Smile-stigting het weer vanjaar hul Smile-week by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gehou. Selloane Modise het ’n operasie ondergaan om nuwe hare te kry. Foto: André Damons

Viné Pienaar (5) hou haar Minnie Muis-pop vas terwyl sy wag vir die operasie later Donderdag aan haar ore. Haar ma, Elbie, sê sy het Viné nooit van haar bakore bewus gemaak nie.

Elbie sê haar dogter is gek oor foto’s. “Ek gaan roomys eet as ek by die huis kom. Sjokoladeroomys,” sê Viné.

Bohlale Letaba (1) is knieserig en nie lus vir mense nie. Sy het beperkte funksie in haar hande, omdat albei hande se vingers aanmekaar vas is. Hulle gaan die duim en pinkie van die res van die vingers losmaak, sodat sy ’n beter greep sal hê .

Selloane Modise (12) se prostetiese oor lê in haar ma, Masabate, se hand. Sy het as eenjarige derdegraadse brandwonde opgedoen.

Die Smile-stigting het weer vanjaar hul Smile-week by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gehou. Hier is Lindokuhle “Spiderman” Makhubo (3). Sy gesplete verhemelte is geheg. Foto: André Damons

’n Weefsel-uitdyer word môre onder die gesonde vel op haar kop ingeplant, sodat daar mettertyd hare op die deel van haar kop sal groei waar sy skade opgedoen het.

Nikita Blake, ’n kliniese assistent, sê ’n weefsel-uitdyer is soos ’n ballon wat ingeplant word en later opgeblaas word om die gesonde vel te rek.

Sy sê hulle sal in ’n latere stadium ’n insnyding maak om die beskadigde vel te verwyder en die gesonde vel daaroor te plant.

Die meeste operasies wat tydens dié Smile-week plaasvind, is op kinders met ’n gesplete lip of verhemelte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.