Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Spina bifida: 1ste fetus in Afrika geopereer
Die in utero- spinale operasie is ’n baie delikate operasie.

’n In utero- spinale operasie op ’n fetus is Saterdag vir die eerste keer in Afrika gedoen.

Prof. Ermos Nicolaou, ’n ginekoloog en verloskundige, en sy span het die operasie by die Mediclinic Morningside in Sandton, Johannesburg, suksesvol uitgevoer op ’n fetus met spina bifida. Die operasie het altesame 279 minute – meer as 4,65 uur – geduur.

Die operasie is gedoen saam met ’n span internasionale kundiges, onder leiding van prof. Mike Belfort, ’n gebore Suid-Afrikaner wat sy mediese graad in 1981 aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf het. Hy het daarna as ginekoloog in Kaapstad gepraktiseer voordat hy na Amerika is waar hy een van die wêreldleiers in moeder- en fetale geneeskunde en chirurgie geword het.

Die operasie is in die 25ste week van die swangerskap gedoen, sê Nicolaou in ’n verklaring van Mediclinic.

Dit is ’n uiters delikate operasie wat net gedoen word indien die abnormaliteit so erg is dat dit tot fetale dood of ernstige gestremdheid sal lei, sê hy.

Dit vereis dus korrekte evaluering, die nodige kundigheid en ook ’n teater wat toegerus is om hierdie soort operasie te kan doen.

’n In utero- spinale operasie op ’n fetus is vir die eerste keer in Afrika uitgevoer in die Mediclinic Morningside in Sandton in Johannesburg.

Spina bifida is ’n abnormaliteit in die ontwikkeling van die fetale ruggraat wat behels dat van die werwels wat die neurale buis vorm, nie behoorlik sluit nie. Die gevolglike blootstelling van die senuwees in die neurale buis lei tot senuwee- en neurologiese skade.

Nicolaou glo dat ’n in utero-operasie die inflammatoriese proses, wat die skade veroorsaak, kan voorkom.

Indien dit suksesvol is, kan dit moontlik die enigste operasie wees wat die fetus, ook ná geboorte, nodig sal hê. Die neuro-ontwikkelingsgebrek kan minder ernstig wees en die algehele prognose kan beduidend verbeter.

Aangesien die operasie met klein instrumente deur die baarmoederwand uitgevoer word en die baarmoeder nie oopgesny word nie, is die herstelperiode baie vinniger en kan die pasiënt ’n normale vaginale bevalling hê as sy sou wou.

“Dit is ’n baie delikate operasie en die sukses wissel. In utero- laparoskopiese operasies kan ook komplikasies hê soos fetale dood of vroeë geboorte. Die versigtige evaluering en keuring van hierdie gevalle is baie belangrik,” sê Nicolaou.

Die langtermynvisie is om spinale- en ander in utero-operasies in Suid-Afrika uit te voer.

Volgens Nicolaou is die algehele voorkoms van neurale-buisdefekte en spina bifida ongeveer een per 1 000 swangerskappe. Met sowat 1 miljoen lewende geboortes in Suid-Afrika per jaar, word sowat 1 000 nuwe gevalle van neurale buisdefekte jaarliks aangemeld.

Meer oor:  Afrika  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.