Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Spuitmiddel stuit dalk koronavirus
Michael Lucas

Infeksiebeheer is altyd ’n uitdaging in hospitale, maar te danke aan ’n ingenieurstudent se doktorale studie kan dit binnekort makliker wees om gevaarlike kieme en infeksies te bekamp.

Michael Lucas, ’n student aan die Universiteit van die Witwatersrand, werk al vyf jaar aan ’n middel wat plastiekoppervlakke seël wanneer dit daarop gespuit word. Gevaarlike bakterieë en fungi wat met die geseëlde oppervlak in aanraking kom, word vernietig.

Dié produk sal van vroeg volgende jaar getoets word en as die proeflopie goeie resultate lewer, kan die middel vir kommersiële gebruik ontwikkel word. Die middel kan ook doeltreffend wees om die verspreiding van virusse soos Sars-CoV-2 te stuit. Lucas ondersoek dit nou.

“Ons is in gesprek met ’n private hospitaal in Johannesburg oor ’n moontlike aanvoorstudie volgende jaar en hoop om binnekort nog hospitale in die private en die openbare sektor by die lys te voeg,” het Lucas Vrydag gesê.

“Die dryfveer vir die projek was superkieme, wat oral in hospitale voorkom en dikwels nie reageer op antibiotiese behandeling nie. Infeksie met so ’n kiem lei dikwels tot verlengde hospitalisering en selfs die dood.”

Die bedekking wat op die oppervlakke gespuit word, bevat koper, silwer en sink of kombinasies daarvan en lewer die gewenste beskerming omdat dié drie metale goeie antimikrobiese middels is. Die middel vernietig kieme en keer glo dat mikro-organismes en bakterieë groei.

“Nuwe navorsing dui daarop dat veral koper doeltreffend is om Sars-CoV-2 dood te maak op oppervlakke en alles dui daarop dat die formule ook die verspreiding van dié virus deur oppervlakke sal kan stuit. Verdere toetse is egter nodig,” sê Lucas.

Covid-19 het mense wêreldwyd laat besef hoe belangrik sanitasie is en hoe maklik kieme deur aanraking kan versprei, meen hy. Talle soortgelyke produkte word oorsee ontwikkel waaronder ook verf. “Die probleem met verf is egter dat dit maklik afskilfer of afdop.”

Lucas sê baie van die toetsmiddels vir oppervlakbeskerming in hospitale toon belofte, maar hulle is dikwels eers doeltreffend twee uur ná toediening. In ’n hospitaal is dit te lank.

Meer oor:  Michael Lucas  |  Infeksiebeheer  |  Ingenieurstudent  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.