Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Stakers belet hulp vir oues

Weldoeners het Saterdag klere en skoonmaaktoerusting by Huis Davidtsz in Pretoria afgelaai en gehelp om die ouetehuis skoon te maak nadat verswakte en gestremde bejaardes die afgelope week meer as twee dae lank in vuil doeke gelê het. Mense wat nie self kon eetsaal toe loop nie, het honger gely.

Thomas Chauke (60), ’n blinde pasiënt, het langs sy bed ontlas.

40 van die tehuis se werkers het van Woensdag tot Vrydag gestaak en geweier om vrywilligers in die gebou toe te laat om die oues te gaan help. ’n Enkele verpleegster en vier skoonmakers was die enigste personeel wat na 172 bejaardes moes omsien.

Donderdag het Martha Morake (47), ’n stakende lid van die kombuispersoneel, vir Rapport gaan wys hoe dit binne-in die ouetehuis lyk.

Die verlamde Ansa Stevenson (63) het huilend by haar gepleit vir hulp, maar Morake het gesê: “Jammer, ons kan julle nie help nie, want ons staak nou.”

Ons is lief vir ons werk.

Saterdag was Stevenson weer skoon en gemaklik en sy het Morake herinner om die Huisgenoot by haar te kom haal voordat sy huis toe gaan.

“Die mense is lief vir ons oues en ons is lief vir hulle. Hulle was maar net bietjie stout hierdie week,” sê Stevenson.

Buite Stevenson se kamer sê Morake: “Ons is lief vir ons werk en vir die oumense, maar as die bestuur nie vir ons sorg nie, is dit moeilik om vir hierdie mense te sorg.”

Margrite Mtswemi (89) lê in ’n papnat bed met ’n groot plas van haar eie urien wat al meer as ’n dag lank op die vloer lê.

Die krisis met die oumense se versorging het Woensdagoggend begin toe die werknemers onder leiding van die EFF die vrywilligers wat die sorg van die bejaardes in Huis Davidtsz wou oorneem die tehuis belet het. Selfs nadat Solidariteit Helpende Hand ’n hofbevel teen die stakers verkry het, wou die stakers nie die deure oopmaak nie. Net een verpleegster en vier werkers is toegelaat om die 172 behoeftige bejaardes, wat bykans niks vir hulself kan doen nie, te versorg.

Martha Morake (47) en Ansa Stevenson (63) was teen gister weer terug in hul normale daaglikse roetine.

Toe Rapport Donderdag daar was, het talle bejaardes onversorg in beddens deurdrenk met hul eie urien en ontlasting gelê.

In een kamer het die blinde Thomas Chauke (60) langs sy bed ontlas omdat hy nie die toilet kon kry nie.

Huis Davidtsz word deur die welsynsorganisasie Deo Gloria bedryf en verskaf sorg aan gestremde en baie siek bejaardes. Bestuurslede van die tehuis beskryf die inwoners as “die armstes onder die armes”.

Johanna Ras het in ’n vuil bed geslaap. Sy was teen Saterdag weer skoon.

Die wrywing tussen die werkers en die bestuur duur volgens Sipho Tshabane, EFF-raadslid, al 18 maande lank. Hy sê die werkers het probleme met hul kontrakte.

Maar Leonora Strydom, die bestuurder van die tehuis, sê die eerste wat hulle van enige ongelukkigheid bewus geword het, was in Februarie. Hulle het sedertdien al drie keer die kontrakte aangepas, maar die werkers en die EFF bly ontevrede oor “klein dingetjies” soos Afrikaanse taalgebruik of dat dele van die kontrak met die hand geskryf was.

’n Man, slegs bekend as “Bond” sukkel met hulp omdat hy nie eens sy eie broek kan aantrek nie. Foto’s: Elizabeth Sejake

Sy en haar assistente word dikwels geteister en oproermakers het hul toegangshek al twee keer afgebreek, sê Strydom.

In April is ’n werknemer aangerand en by sy kantoor uitgegooi. Sy beweer ook sy is gedreig dat ’n wit man in haar kantoor doodgemaak gaan word voor die einde van die jaar.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het twee dae lank gesukkel om toegang tot die tehuis te kry sodat sy span kon gaan help.

Johanna Ras, wat sukkel om te praat, was ook teen Saterdag weer skoon en op haar gemak in haar kamer nadat stakende personeel na twee dae weer ingespring het om te werk. Foto: Elizabeth Sejake

“Ek gee nie om oor die politiek nie,” het hy Donderdag gefrustreerd buite die tehuis gesê.

“Dis nie my probleem nie. Ek gee om vir die bejaardes. Hulle kan doodgaan.”

Mbangwa Xaba, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het gesê hy is teleurgestel dat sommige lede van die EFF die vrywilligers verhinder het om te help.

Werkers hou die tehuis se deure toe om ekstra hulp buite te hou terwyl die oumense binne besig is om swaar te kry.

Hy sê dit veroorsaak “onnodige trauma” vir die oues.

Volgens Morake, wat benewens haar werk as kosbediener ook die personeel se verteenwoordiger is, gaan lede van die personeel, die ouetehuis se raad en regsverteenwoordigers môreoggend ’n vergadering hou om oor die toekoms te praat.

Meer oor:  Leonora Strydom  |  Bejaardes  |  Staking  |  Huis Davidtsz  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.