Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Stakers sit bejaardes in Pretoria ‘deur hel’
’n Niestakende werker voer een van die inwoners nadat sy reeds 12 uur lank aan diens was en nog ’n paar uur voorgelê het.Foto: Deaan Vivier

Hulle “is deur hel”, sê inwoners van Huis Davidtsz in die Pretoriase middestad.

Die inwoners van dié tehuis vir bejaardes en verswakte volwassenes het die afgelope week, maar veral sedert Woensdag, gely onder ’n loondispuut tussen werkers en die bestuur van Huis Davidtsz.

Hoewel die situasie teen Vrydag tydelik beredder is met die stakende werkers wat onderneem het om terug te keer werk toe totdat die samesprekings Maandag voortgaan, was die toestande op veral die boonste vloere waar erg verswakte mense bly, steeds benard.

Brose oumens-lywe het in hul beddens opgekrul gelê, sommige in hul eie ontlasting, urine en braaksel.

In die gang af het ’n verpleër ontsmettingsmiddel op die vloer gegooi voordat sy al snakkend agter ’n gesigmasker probeer skoonmaak het wat uit die doeke vir volwassenes geval het.

Een verpleegster het ’n inwoner geduldig probeer voer. Sy was reeds 12 ure aan diens en daar het nog vyf ure voorgelê.

“Ek is stoksielalleen op die vloer. Ek gee kos, ruil doeke en maak skoon. Hier is 17 kamers waarvan party twee mense in het,” het sy onderlangs gesê.

Huis Davidtsz in die middestad van Pretoria wat vir dae lank gebuk gegaan het onder ’n staking deur sy werknemers.Foto: Deaan Vivier
Vrywilligers van Solidariteit Helpende Hand gaan Huis Davidtsz in nadat hulle ’n hofbevel moes bekom om die bejaarde en verswakte inwoners te help.Foto: Deaan Vivier

Van die inwoners is bedlêend. Ander het Alzheimer se siekte.

Niemand wou openlik praat nie – sommige uit vrees vir intimidasie deur hul stakende kollegas, ander uit vrees dat hulle hul werk kan verloor.

Van die inwoners op die laer vloere het gesê hulle is “redelik mooi behandel” deur die stakers, behalwe vir probleme met die kos en badtyd.

“Party inwoners se familielede is egter gekeer om in te kom. Daarby wou een oom kerk toe gaan, toe keer hulle hom om uit te gaan,” vertel een.

In sommige gevalle het familielede hul pad deur die stakers oopgedwing toe hulle uitvind van die omstandighede.

Uiteindelik het dit die polisie se teenwoordigheid en ’n dringende hofinterdik deur Solidariteit Helpende Hand gekos voordat hulp Donderdagaand ingestuur kon word.

Die meeste van die 96 werknemers het aan die staking deelgeneem, terwyl enkeles die meer as 150 inwoners versorg het.

Van hulle, sommige geklee in EFF-klere, het binne en buite die gebou gestaan.

Een het gesê die loongeskil broei al ’n tyd lank.

“Ek werk al vir byna tien jaar hier sonder ’n wettige kontrak. Ek het tot laas maand R1 700 p.m. verdien. Dit is verhoog tot R3 500, voor aftrekkings.

“En toe word drie van ons kollegas geskors vir wangedrag,” sê sy.

Leanne de Jager, DA-raadslid van Pretoria-Sentraal, het Vrydagoggend gesê 76 werkers het sedert Woensdag begin staak.

“Mense van die DA Women’s Network (Dawn) en Helpende Hand het gekom om te help, maar ons is toegang geweier. Party, ek ook, is hardhandig gekeer om in te gaan,” sê De Jager.

Hierdie verswakte inwoner wag dat een van die min niestakende werkers die ontlasting in sy kamer kom skoonmaak.Foto: Deaan Vivier
’n Leë bord lê kort na middagete tussen menslike ontlasting onder ’n bed. Foto: Deaan Vivier

Hannes Noëth, hoof van Helpende Hand, sê talle bekommerde familielede het hulle gekontak oor die situasie.

“Die loongeskil is nie ons bekommernis nie. Ons kon egter nie toelaat dat bejaardes die slagoffers van ’n arbeidsgeskil word nie.

“Ons het Woensdag en Donderdag probeer inkom, sonder sukses. Dit is toe ons die dringende hofbevel gaan kry het, maar ons is steeds verhoed om in te gaan. Ons moes die polisie inroep en selfs dit het eers nie gehelp nie,” sê Noëth.

Vrywilligers en maatskaplike werkers van Helpende Hand is wel later saam met verteenwoordigers van die departement van maatskaplike ontwikkeling die gebou in.

“Die situasie is nou gestabiliseer, maar nog nie opgelos nie,” sê Noëth.

Hy het verwys na die enkele personeellede wat steeds die inwoners probeer help het en gesê: “Een het dit so gestel: sy betoog saam, maar sy gaan ook voort om die inwoners versorg, want sy het ’n ‘kontrak’ met die mense, al het sy nie ’n kontrak met haar werkgewer nie.”

Die man se beddegoed is besmeer en die hande by die tehuis was sedert Woensdag te min om dit om te ruil.Foto: Deaan Vivier
Een van die verswakte bejaardes in Huis Davidtsz kon nie haar kop van haar eie braaksel wegdraai nie en lê en wag dat een van die handjievol niestakende werkers haar kom help. Foto: Deaan Vivier

Sakkie du Plooy, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid in die Tshwane-metro, het die situasie as ’n “gesondheidskrisis” beskryf.

“Ek probeer bemiddel tussen die besware van die stakers en die beheerliggaam, terwyl die tehuis se prokureur ook met die stakers onderhandel,” sê hy.

Hy sê dat Huis Davidtsz ’n niewinsgewende organisasie is wat deur die Deo Gloria-maatskappy bestuur word.

Hy het, naas die gesondheidsprobleem, betrokke geraak want “ons kan nie ’n verpleegster hê wat nie werk terwyl haar persoonlike diensvoorwaardes uitgesorteer word nie”.

Justus de Goede, lid van die wetgewer in Gauteng en DA-woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling in die provinsie, het bevestig dat daar Vrydagoggend ’n skikking met die werkers bereik is op voorwaarde dat die onderhandelings Maandag voortgaan.

“Ons hoop en glo dat die werkers dit sal eerbiedig,” sê hy.

Intussen het die tehuisbestuurder, Leonora Strydom, gesê dat sy namens die tehuis volgende week die Menseregtekommissie (MRK) sal nader en hulle versoek om ‘n klag van verwaarlosing van oumense te ondersoek.

Buiten dat die inwoners se menseregte en waardigheid gruwelik geskend is, sê Strydom, is dit ook teen die wet om oumense te verwaarloos of sleg te behandel. 

Sy was Vrydag verlig oor die tydelike ooreenkoms wat daar bereik is, maar selfs meer oor die hulp wat aangebied is. 

“Nou kan ons weer asem skep,” sê Strydom. 

Sy sal Maandag met die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nandi Mayathula-Khoza, vergader. Die LUR het aangedring op terugvoer oor wat by die tehuis gebeur.




Bejaarde moes dors les met nat sakdoeke

Hy het dae laas gekos gekry en twee nat sakdoeke was die enigste bietjie klammigheid wat die oom by hom gehad het om sy ergste dors te les.

Gert de Beer (82), ’n inwoner van Huis Davidtsz, ’n tehuis vir bejaardes in Pretoria se middestad, het sy nagmerrie-ervaring op video met sy seun gedeel.

Gert se seun, Paul, het Vrydag ’n WhatsApp-boodskap ontvang dat die werkers by die tehuis staak.

Die situasie met die versorging van die inwoners is beroerd.

“Ek was daarbinne . . . die toestande is haglik . . . mense loop rond in str**t,” sê Paul in ’n tweede video wat hy gemaak het waarin hy by mense pleit om te kom help by die tehuis.

Paul het Vrydagoggend verby die groep stakende werkers, wat in daardie stadium die ingang van die tehuis versper het, geglip en sy pa gaan haal.

Hy voel sleg oor die hele ding, sê Paul. Sy pa het dementia en beweeg moeilik, daarom het hy heeltyd sorg nodig.

“As ek kon, sou ek hom by my gehou het, maar ek kan nie. Davidtsz sorg heel goed vir sy inwoners, dit is nou net jammer dat dinge agteruitgegaan het oor die staking.”

By die huis moes hy sy pa eers weer skoon en droog kry, waarna hy ook vir hom kos gegee het. - Isabel Venter

Meer oor:  Huis Davidtsz  |  Pretoria  |  Bejaardes  |  Loondispuut  |  Stakers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.