Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Staking by psigiatriese hospitaal kry aandag

Twee pasiënte van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks is aan Covid-19 dood, maar geen kind daar het weens stakings van die personeel van die honger omgekom nie.

So sê Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, in reaksie op die kritiek oor beweerde swak behandeling van pasiënte by dié kompleks terwyl van die verpleegkundiges staak.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement. Foto: Argiewe

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het vandeesweek in die wetgewer gewaarsku dat die situasie kan ontaard in ’n tweede Life Esidimeni-skandaal nadat berig is oor stakende personeellede wat sale die hele dag lank sluit. Pasiënte verhonger en word aan hul eie lot oorgelaat uit vrees vir Covid-19.

Mariëtte Pittaway, DA-wetgewerlid, het ook afskrifte gestuur van ’n klag wat sy by die Menseregtekommissie (MRK) oor die toestand by die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks in Bloemfontein ingedien het. Sy sê sy het kontak gemaak en ’n brief per e-pos aan ’n DA-LP in Kaapstad gestuur sodat hy met die nasionale departement van gesondheid daaroor kan skakel.

Mvambi sê dit is waar dat daar Donderdag stakings onder verpleegpersoneel by sowel die Pelonomi- as die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks was. Daar was ongelukkig ’n vertraging met die verskaffing van kos, maar toe die bestuur ingryp en daar met vakbonde onderhandel is, is die kos is uiteindelik gegee. Hy skryf die vertraging met maaltye toe aan die afwesigheid van mense wat weens Covid-19 in isolasie geplaas is.

Dit is egter onwaar dat pasiënte nie kos gekry het nie, sê hy. Die Vrystaatse gesondheidsdepartement het ander maniere gevind om kos by die pasiënte uit te kry toe die personeel besluit het om te staak. Volgens Mvambi kry pasiënte wel sorg en liefde.

Die departement wil egter die bewering ondersoek dat pasiënte nie hul medisyne kry nie omdat dit kon gebeur het weens ’n tekort aan personeel en omdat van die verpleegpersoneel gestaak het.

'n Kaart van die terrein van die Vrystaatse Psigiatriese Kompleks. Foto: Argiewe

Toe Netwerk24 die hospitaal besoek het, is gesê die apteek daar het nou die minste medikasie in voorraad in tien jaar. Daar is tans geen medikasie vir epilepsie, hoë bloeddruk en diabetes by die apteek nie.

Mvambi sê die stakings het inderdaad met Covid-19 te doen omdat die personeel vreesbevange geraak het toe hulle hoor personeel én pasiënte is positief getoets vir die virus.

Hulle het verwag dat die departement volledige stelle Covid-19-toerusting aan almal sal verskaf terwyl dit eintlik net vir sekere werkers bedoel is. Hulle was nie tevrede met die gesigmaskers en handreinigers wat verskaf is aan diegene wat net daarvoor kwalifiseer nie.

Hy sê basiese persoonlike beskermingstoerusting (PBT) bestaan uit ’n chirurgiese masker, handreiniger (wat gereeld gebruik moet word) en weggooibare handskoene vir diegene wat pasiënte moet hanteer. Waar verpleegkundiges kliniese werk doen, soos operasies, word bykomende PBT’s verskaf soos die plastiekvoorskote, chirurgiese oorpakke, koptoerusting, broeke, skoene en ’n bril, maar nou wil almal dit hê.

“Dié toerusting kan egter nie vir almal uitgereik word nie en verpleegpersoneel is behoorlik daaroor ingelig en opgelei."

Dié toerusting kan egter nie vir almal uitgereik word nie en verpleegpersoneel is behoorlik daaroor ingelig en opgelei.

Mvambi sê hulle is teleurgesteld dat gesondheidswerkers besluit het om net op te hou werk en dat pasiënte onder valse voorwendsels verwaarloos word. Die bestaande prosesse van arbeidsverhoudinge word nie gevolg nie.

“Dit is jammer dat twee pasiënte aan Covid-19 dood is, maar ons is gelukkig om te kan sê dat geen kind daar dood is nie.”

Die departement het met die georganiseerde arbeid begin onderhandel om stabiliteit te verseker.

“ ’n Memorandum is ontvang en ’n vergadering is vir Vrydag belê om die reaksie op die memorandum te bespreek.”

Mvambi sê die departement is ook besig om ’n isolasiegerief op die perseel te finaliseer. Die departement het verder nou 21 skoonmakers en twee professionele verpleegkundiges op kontrak aangestel.

Permanente personeel wat aangestel is, sluit 23 assistentverpleegkundiges, vyf stafverpleegkundiges en tien professionele verpleegkundiges in.

Meer oor:  Mondli Mvambi  |  Vrystaat  |  Verpleegkundiges  |  Staking  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.