Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Stap met hond, elmboog lig is uit vir 21 dae

Vergeet daarvan om van Vrydagoggend af vir die volgende drie weke met die nasionale staat van inperking met jou hond te gaan stap.

Bheki Cele, minister van polisie, sê jy moet maar met jou hond om die huis stap om haar of hom oefening te gee.

En dié mense wat soggens of saans wil gaan draf?

Dié vraag van Netwerk24 is soos ’n paar ou, stukkende en stinkende hardloopskoene met baie Comrades-myle agter die blad in die kas gelos en nie geantwoord nie.

En moet nie dink jy mag wyn by jou plaaslike kruidenierswinkel koop nie. Drankwinkels sal gesluit wees en tavernes en sjebiens sal ook gesluit wees, het Cele Woensdagaand op ’n mediakonferensie van meer as drie uur in Pretoria gesê.

“Dit sal ons almal se lewe makliker maak as daar nie drankverkope is nie.”

Dit sal ons almal se lewe makliker maak as daar nie drankverkope is nie.

Cele beskuldig drankmisbruik gereeld daarvan dat dit ’n groot rol speel in onder meer misdaad en

motorongelukke.

“Alkohol is dikwels die rede vir padongelukke en mense wat drink steek mekaar met messe wanneer hulle dronk is,” sê hy.

Die polisie sal nie huiwer om op te tree teen oortreders wat betref huishoudelike geweld en geweld teen vroue en kinders nie.

“Slagoffers kan die polisie bel by 0800 150 150,” sê die minister.

“Deur beweging te verminder, kan ons ook misdaad verminder.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gesê alkohol verander gedrag en dit is waarom dit nie verkoop mag word in dié tydperk nie.

“Ons wil ’n beroep doen op ons mense om die kanse om besmet te word te verminder.

“Die ware stryd begin nou. Dit is nie net die inperking alleen nie. Ons moet voortgaan om na ons persoonlike higiëne om te sien en ook ander voorsorgmaatreëls na te kom en só te help om die verspreiding van die virus te beperk.”

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, sê die doel van die nasionale inperking is om lewens te beskerm en te keer dat die Covid19-pandemie vinnig deur die land versprei.

Net mense wat noodsaaklike dienste lewer, sal toegelaat word om rond te beweeg. Die gevrywaardes is daarom gesondheidswerkers en veiligheidsdienste wat moet toesien dat mense beskerm word.

“Onthou, dit is belangrik om ’n gesonde afstand te behou, ook wanneer jy gaan kos koop, of dokter en apteek toe gaan,” het Dlamini-Zuma gesê.

“ ’n Katastrofiese ramp staar ons in die gesig en ons moet iets doen om dit te keer. Elke Suid-Afrikaner moet iets doen.”

Dlamini-Zuma het gesê die regering is baie bekommerd oor ouer mense wat meer kwesbaar is tydens die pandemie. “Ouer mense wat sorg nodig het, se behandeling word in die regulasies vervat.

“Dit is omdat ons bekommerd is oor hulle. Dit word daar verduidelik. As jy vir die polisie sê dat jou ouer siek is, is dit deel van die regulasies. Dit is deel van noodsaaklike dienste vir ouer mense.”

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, sê die ontplooiing van die weermag om die polisie by te staan “is nie om mense te straf nie, maar om die verspreiding van die virus te help beperk”.

Soldate moet die polisie onder meer bystaan met padversperrings en voetpatrollies om die regulasies wat Woensdagaand in die Staatskoerant gepubliseer is op te dwing.

“Geen soldate is in hierdie stadium nog in die strate van Suid-Afrika ontplooi nie,” sê Mapisa-Nqakula.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, sê die kantoor van die meester van die hooggeregshof sal oop bly vir sekere dringende sake.

Alle sake sal in die afwesigheid van gevangenes uitgestel word. Ons sal geen gevangene tydens die inperking na howe vervoer nie. Ons het elektroniese geriewe in 46 tronke landwyd om die uitstel van sake elektronies te doen.

Maatreëls is ook in plek gestel dat strafregtelike sake deur elektroniese verbindings uitgestel sal word.

“Alle sake sal in die afwesigheid van gevangenes uitgestel word. Ons sal geen gevangene tydens die inperking na howe vervoer nie. Ons het elektroniese geriewe in 46 tronke landwyd om die uitstel van sake elektronies te doen,” sê Lamola.

Hy sê 16 werknemers van die departement van korrektiewe dienste is vir die koronavirus getoets. In hierdie stadium was 11 van hulle se toetsuitslae negatief.

* Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, sê die regulasies is so ontwerp om die polisie te help om dit op te dwing.

“Ons werk saam met ondernemings om verskaffingslyne te laat vloei en om te sorg dat daar kos, noodsaaklike items, brandstof, ensovoorts beskikbaar is. Altesame 28 noodsaaklikhede is geïdentifiseer.

“Ons het ook planne in plek gestel om te keer dat daar ’n tekort aan enige produkte is – soos byvoorbeeld meganiese asemhalingstoestelle vir hospitale.”

Hy sê die hoeveelheid mense wat in ’n winkel toegelaat sal word, sal afhang van die grootte van die winkel. Daar moet deurentyd ’n veilige afstand tussen mense wees.

“Mense kan in dié tyd ook net noodsaaklikhede koop.”

Patel sê daar word nog met winkelgroepe onderhandel om moontlik vroeër te open en vroeër te sluit.

* Lindiwe Zulu, minister van sosiale ontwikkeling, sê daar is 100 plekke van veiligheid landwyd opgerig waar mense wat haweloos is, versorg kan word. In antwoord op ’n vraag of die regering nie bang is daar word die eerste keer sedert die dae van apartheid getrap op die menseregte van Suid-Afrikaners nie, het Zulu geantwoord: “Ons kan nie wat nou gebeur vergelyk met wat tydens apartheid gebeur het nie.”

* Thezi Mabuza, adjunk-kommissaris van die verbruikerskommissie, sê die kommissie het sedert Dinsdag met 30 ondersoeke begin en 11 waarskuwings uitgereik aan ondernemings wat pryse onregverdig verhoog het vir produkte soos ontsmettingsmiddels, gesigmaskers en toiletpapier.

Cele antwoord nie dié vrae:

Bheki Cele het nie die volgende vrae beantwoord nie:

  • Mag ek in my kompleks by mense gaan kuier of rondloop?
  •  Mag ’n mens winkel of apteek toe stap as jy nie ’n motor het of van openbare vervoer kan gebruik maak nie?
  • Sal ek in hegtenis geneem word as ek op ’n straathoek staan?
  • Mag ek, byvoorbeeld, vir my siek moeder kos vat?
  • Watter maatreëls is in plek om te verseker dat mense nie vir die polisie jok nie? Met ander woorde, hoe gaan die polisie weet ek gaan kuier nie vir my kêrel as ek sê ek gaan doen inkopies nie?


Meer oor:  Koronavirus  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.