Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sterftes, hospitalisasie in W-Kaap ‘stabiliseer’

Daar is ’n afplatting in hospitalisasies en sterftes weens Covid-19 in die Wes-Kaap, maar dit is nog te vroeg om te sê of dit begin daal, volgens die provinsiale departement van gesondheid.

Dr. Keith Cloete, departementshoof, het Woensdag aan die Wes-Kaapse wetgewer gesê die koers van hospitalisasies en sterftes word nagegaan volgens die modelle wat opgestel is. Die afgelope twee weke se data dui op ’n afplatting, waar die modelle ’n verdere styging verwag het.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid. Foto: Jaco Marais

Dié neiging word grootliks in die Kaapstadse metrogebied gesien, terwyl landelike dele steeds stygings kan ervaar en waarskynlik eers later hul piek gaan hê.

“Dit is nog vroeg, maar dit lyk regtig asof hospitalisasies en sterftes begin stabiliseer en moontlik op ’n vroeë afname in die provinsie dui,” het Cloete in ’n voorlegging aan die wetgewer se Covid-19-ad hoc-komitee gesê.

Volgens Cloete vertrou die departement ook dat hy die meeste sterftes weens Covid-19 optel en dat dit goed vergelyk met die departement van binnelandse sake se data.

Hy het ook daarop gewys dat die modelle onlangs aangepas is en tans op ’n langer, platter piek van infeksies dui, wat op meer sterftes en hospitalisasies oor ’n langer tydperk neerkom.

Die scenariobeplanning en modelle bevat egter steeds baie onsekerhede, insluitend die aannames waarop dit gegrond word en die uitwerking van behandelings soos deksametasoon, byvoorbeeld.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Jaco Marais

“In geheel, sien die provinsie steeds stygende getalle op ’n weeklikse grondslag en talle dele is nog vroeg in die epidemiologiese kurwe. Absolute waaksaamheid bly noodsaaklik.”

Cloete het ook gewys op die aansienlike uitwerking wat gevalle wat met alkohol verbind word, op hospitale se trauma-eenhede het.

Data van ’n elektroniese stelsel wat die trauma-eenhede in vyf groot hospitale in die provinsie monitor, dui op ’n afname in traumagevalle van 40% tot 50% tydens die drankverbod en dit het glo met die opheffing van die verbod weer die hoogte ingeskiet.

Luidens Cloete se voorlegging was daar tussen 22 en 31 Mei ’n behoefte aan 2,7 beddens per dag vir traumagevalle en dit het tot byna tien beddens per dag gestyg ’n week nadat die beperkings opgehef is.

“Dit is byna sewe bykomende beddens wat opgeneem word en aan iemand met Covid-19 kon gaan. Dit is ’n aansienlike uitwerking.”

Die gemiddelde daaglikse sterftes weens padongelukke het ook van 1,4 in Mei tot byna vier per dag in Junie gestyg.

Dit is byna sewe bykomende beddens wat opgeneem word en aan iemand met Covid-19 kon gaan.

Cloete het gewys op vorige ontledings van sterftes weens moord, ongelukke en verdrinkings, onder meer waar daar ’n sterk verwantskap met drankgebruik is, veral in die Kaapse Vlakte en onder mans.

Toe die verbod op drankverkope opgehef is, het daaglikse traumagevalle met 62% toegeneem, terwyl traumasterftes met 308% gestyg het en die trauma-opnames in waakeenhede met 350%.

“Namate ons die piek van die Covid-19-pandemie bereik, word ons hospitale oorweldig deur ernstige siek pasiënte wat stabilisering en behandeling benodig en opgeneem moet word vir verdere sorg.”

Die misbruik van drank belemmer die departement se vermoë om sterftes te probeer verhoed onder die “dubbele lading” van Covid-19 en traumagevalle namate die piek bereik word, volgens Cloete.

Intussen het die tydelike hospitale in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) en Thusong-sentrum in Khayelitsha ’n “massiewe rol gespeel” om die druk op hospitale te verlig, terwyl die departement met sy aanlyn “bed-buro”-stelsel monitor waar beddens beset of beskikbaar is.

Die Brackengate-veldhospitaal gaan ook van 20 Julie af pasiënte vir intermediêre sorg inneem en verder die druk op hospitale verlig.

Cloete sê die provinsie het tans genoeg hospitaalbeddens vir die vlakker piek wat verwag word en het die risiko van ’n ernstige tekort aan beddens in hoësorg- en waakeenhede verminder, onder meer met die gebruik van hoëvloei-suurstof.

“Die groot les is dat die aktiewe bestuur van mense met chroniese siektes noodsaaklik is.”

Hoewel hipertensie een van die komorbiditeite is wat die gereeldste onder Covid-19-pasiënte voorkom, herstel die meeste van dié pasiënte en is daar ’n groter proporsie van diabete wat ernstig siek raak of doodgaan.

Die groot les is dat die aktiewe bestuur van mense met chroniese siektes noodsaaklik is.

Pasiënte met diabetes het byna ’n kans van 50% om in die hospitaal opgeneem te word en van dié mense sterf 40%, volgens Cloete.

Die prioriteite vir toetsing is uitgebrei om onverklaarde sterftes en kwesbare groepe, veral diabete, in te sluit.

Ander prioriteite vir toetsing is gesondheidswerkers, mense in die hospitaal wat vir Covid-19 ondersoek word en sporadiese gevalle of groepe in landelike distrikte waar inperking ’n belangrike strategie is.

Sifting in gemeenskappe gaan steeds voort in elke distrik, met ’n fokus op mense wat simptome het en ’n groter risiko om ernstig siek te raak.

Cloete sê daar is ook ’n groeiende gesondheidsrisiko wat nie met Covid-19 verband hou nie. Minder mense gebruik die departement se geriewe en daag nie op vir afsprake nie, daar is minder inentings en ’n agterstand met chirurgie.

Verder is daar ’n afname van 20% tot 50% van mense wat die departement se sielkundige en psigiatriese dienste gebruik.

Die Wes-Kaap het teen Dinsdag 79 332 gevalle van mense met die koronavirus gehad, waarvan 15 160 aktiewe gevalle is en 2 416 sterftes aangemeld is.

Altesaam 1 636 mense is in die hospitaal opgeneem, waarvan 300 in die hoësorg- of waakeenheid.

Alan Winde, premier, het in ’n verklaring gesê die provinsiale regering en die Kaapstadse metro het voor die pandemie al maatreëls in plek gestel om seker te maak dat die plekke wat mediese suurstof vervaardig, nie deur beurtkrag geraak word nie.



Meer oor:  Dr. Keith Cloete  |  Wes-Kaap  |  Hospitaal  |  Sterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.