Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sterftes ná entstof ‘verder ondersoek’

Hoewel 28 mense dood is nadat hulle Covid-19-inentings ontvang het, is dit nie te sê dat die sterftes deur die inentings veroorsaak is nie. 

entstowwe, gevolge

Kenners het Donderdag dié punt benadruk nadat die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) Woensdag dié sterftesyfer aan LP’s bekend gemaak het.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19-entstowwe en ’n voormalige uitvoerende direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê hoewel hierdie sterftes verder ondersoek moet word, is daar tans geen verband tussen die 28 mense wat dood is en die inenting nie.

“Ons moet onthou dat baie van die mense wat die entstof ontvang het en dood is ouer as 65 was en dat van hulle – ongeag of hulle ingeënt is of nie – moontlik in elk geval sou sterf.”

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê wêreldwyd wys die data dat inentings nie tot ’n verhoogde sterftesyfer lei nie.

Volgens die departement van gesondheid het 5,8 miljoen mense in Suid-Afrika reeds inentings ontvang.

Luidens ’n voorlegging wat in ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid gelewer is, is 24 mense dood nadat hulle die Pfizer-entstof ontvang het en vier ná die entstof van Johnson & Johnson (J&J).

Dr. Boitumelo Semete-Makokotlela, uitvoerende hoof van Sahpra, het aan LP’s gesê hulle sal die sterftes ondersoek.

“Ons sal ’n nadoodse ondersoek doen en ook die geskiedenis van die individue nagaan oor watter ander soort medisyne hulle gebruik het.”

Volgens haar is daar ook by 1 494 mense sowat 3 730 erge negatiewe reaksies (soos bloedklontvorming of hoë bloeddruk) aangemeld nadat hulle ingeënt is.

Ook hieroor moet daar nog in die algemeen bepaal word of daar ’n verband tussen die simptome en die entstowwe is, sê Schoub.

Hy sê daar is egter reeds oorsee bevind dat die Pfizer-entstof anafilaksie (’n allergiese reaksie) in 4,7 mense per miljoen veroorsaak. Daar is ook bevind dat dieselfde entstof inflammasie van die hartspier in 12,6 per miljoen mense veroorsaak.

Ten opsigte van die J&J-entstof is bevind dat dit bloedklonte by 1,5 per miljoen mense veroorsaak.

“Vergeleke met ander entstowwe, is die veiligheidsprofiel van Covid-19-entstowwe sekerlik die beste wat ons tot nog toe gesien het,” sê Schoub.

Prof. Helen Rees, voorsitter van Sahpra.

Prof. Helen Rees, Sahpra-voorsitter, het aan LP’s toegegee dat dit gewoonlik sowat ses of sewe jaar neem om ’n entstof te ontwikkel.

Sy het egter benadruk dat hoewel die proses met Covid-19-entstowwe weens die pandemie versnel is, is daar in terme van kliniese proewe glad nie “kortpaaie” gevat nie.

“Die laboratoriumnavorsing, die navorsing op diere en die fase 1-, 2- en 3-navorsing het oorvleuel,” sê Rees.

Volens Rees word al Suid-Afrika se data oor veiligheid aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se internasionale advieskomitee oor entstofveiligheid deurgegee.

Omdat die WGO meer data het om mee te werk, sal hy makliker kan bepaal of daar ’n verband tussen ’n newe-effek en ’n gegewe entstof is.

“As daar ’n verband is, moet daar vasgestel word hoe algemeen dit is en moet dit ook opgeweeg word teen die voordele daarvan om die entstof steeds toe te dien,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.