Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sterftesyfer in Weskoppies ‘nie hemelhoog’

Die sterftesyfer in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria is nie “hemelhoog” nie en kan ook nie net aan ernstige nadelige voorvalle (ENV) toegeskryf word nie.

Die hoofgebou van die Weskoppies-psigiatriese hospitaal in Pretoria. Foto: Werner Beukes
Weskoppies is aanstaande jaar 128 jaar oud. Foto: Werner Beukes

“Alle voorvalle, al stamp ’n pasiënt sy toon, word by ’n psigiatriese hospitaal aangemeld omdat die meeste van die pasiënte, anders as in ander hospitale, steeds mobiel is,” sê Beulah Schoonwinkel, waarnemende bestuurshoof van dié hospitaal.

Schoonwinkel se reaksie kom nadat die Gautengse departement van gesondheid bekend gemaak het dat 504 ENV-voorvalle verlede jaar in Weskoppies aangeteken is.

Dié syfer is verlede week deur Bandile Masuku, LUR vir gesondheid, op ’n geskrewe vraag van die DA in die Gautengse wetgewer bekend gemaak.

ENV word gedefinieer as gevalle waar pasiënte weens mediese sorg of die weerhouding daarvan onbedoelde leed aangedoen word.

“Agt pasiënte is verlede jaar in Weskoppies dood. Een voorval is as ’n ENV geklassifiseer omdat die betrokke pasiënte verstik het en nie aan natuurlike oorsake dood is nie,” sê Schoonwinkel, wat in Desember die leisels aan ’n nuwe bestuurshoof oorhandig.

“Die 504 gevalle kom van die pasiënte se veiligheidsdatabank waar alle gevalle, ook ongelukke, aangemeld word en nie net ENV’s nie. Al die syfers is saamgevoeg en die 504 gevalle is dus nie almal sterftes nie. In 2017 was die getal sterftes ses en in 2016 sewe. Slegs drie ENV’s is in dié tydperk aangemeld wat nie toegeskryf kan word aan mediese nalatigheid nie.”

Volgens Schoonwinkel is daar 654 pasiënte in die Weskoppies-hospitaal wat in verskillende sale, afhangende van die erns van hul toestand, behandeling ontvang.

Een van die gange wat na ’n saal lei waar pasiënte behandeling ontvang. Foto: Werner Beukes

“Daar is 1 300 personeellede. Elke saal het drie verpleegsters en die hospitaal het 26 funksionele sale. Daar is minder verpleegsters aan diens gedurende die aandskof, maar dit is ook dan die tyd wanneer pasiënte hul aandete nuttig en gaan slaap.

’n Bankie in een van die parke by Weskoppies waarop kinderpasiënte kan sit. Foto: Werner Beukes

“Ek moet bieg dat ’n groot kopseer die stokou infrastruktuur van die hospitaal is wat voortdurend ingee en die hoë koste wat die herstelwerk daarvan die staat uit die sak uitjaag. Nou die dag moes vrouepasiënte inderhaas ’n saal ontruim omdat die rioolstelsel weer moeilikheid gegee het,” sê Schoonwinkel.

Volgens haar is die grootste uitdagings nie net die vervalle infrastruktuur nie, maar ook die omslagtige burokratiese prosedure vir die aankoop van toerusting, ’n tekort aan psigiatriese medisyne en ’n onvoldoende begroting om in al hierdie behoeftes te voorsien.

Weskoppies, wat aanstaande jaar sy 128ste bestaansjaar vier, het 50 veiligheidswagte wat daagliks die terrein van sowat 160 ha patrolleer.

“Veiligheidswagte werk in spanne en is toegerus om enige situasie op ’n vreedsame wyse te ontlont. Die dae van dwangbaadjies en knuppels om pasiënte te beheer behoort tot die verlede.”

“Drie pasiënte het verlede jaar gedros, maar die syfer is baie laer in vergelyking met vorige jare,” sê Schoonwinkel.

Die hoofingang na die Weskoppies-hospitaal in die weste van Pretoria. Foto: Werner Beukes
Boodskappe gemik op pasiënte aan die buitekant van ’n eetsaal. Foto: Werner Beukes
Nog wooneenhede in Weskoppies. Foto: Werner Beukes

Meer oor:  Weskoppies  |  Sterftesyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.