Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
'Streng reëls kan Covid-19 in talle Afrikalande beperk'
Die Wêreldgesondheidsorganisasie in Afrika het Donderdag die media toegespreek oor die verspreiding van Covid-19 op die vasteland.Foto: WHO Africa

In net meer as die helfte van Afrikalande is daar nog net gevalle van Covid-19 aangemeld waar dit van die buiteland af ingevoer is, en met streng maatreëls kan die virus in dié lande steeds in bedwang gehou word.

Dr. Matshidiso Moeti, streeksdirekteur vir Afrika van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sê indien daar deeglike opvolgwerk gedoen word en dié gevalle in isolasie geplaas word, kan die verspreiding van die virus steeds in talle Afrikalande beperk word.

Moeti het Donderdag op ’n aanlyn mediavergadering van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) en WGO in Afrika gesê daar is steeds ’n “venstertydperk” om die verspreiding van die virus te bekamp, maar dit word al kleiner, gemeet aan die hand van die data oor die geografiese verspreiding.

“In net meer as die helfte van die lande het ons nog net gevalle gesien wat ingevoer is en nie dat dit plaaslik versprei het nie. Die opvolg van dié gevalle en almal waarmee hulle in kontak was, sal egter deurslaggewend wees.”

Moeti sê al meer Afrikalande stel strenger reisbeperkings na en van die buiteland af in, maar die WGO beveel sterk aan dat dit ook gepaard moet gaan met “sterk openbare gesondheidsmaatreëls”.

Dit sluit in om daagliks die gevalle van Covid-19 op te volg, seker te maak dat hulle in isolasie bly en dat die publiek goed ingelig moet wees om ’n veilige afstand van mekaar te handhaaf.

Volgens Moeti het die omstandighede in Afrika baie vinnig verander wat die geografiese verspreiding en aantal gevalle betref.

“Net ’n maand gelede het slegs een land in Afrika dit gehad en binne twee weke was dit in meer as tien lande, met 50 nuwe gevalle per dag. In die afgelope week en ’n half is dit al in 40 lande aangemeld en is daar 300 nuwe gevalle per dag.”

Afrikalande het intussen hul kapasiteit verskerp om die siekte te diagnoseer, met net Suid-Afrika en Senegal wat dit aanvanklik kon doen tot 44 lande wat dit nou ook kan diagnoseer.

Dit sluit in om besoekers aan die land na te gaan vir simptome, toesig oor mense wat besmet is en ook die behandeling van veral ernstige gevalle in sommige lande.

Dr. Matshidiso Moeti, WGO-streeksdirekteur vir Afrika. Foto: WHO Africa

“Ons moet ook aandag gee aan die kleiner lande sonder kapasiteit, soos klein eilande en ontwikkelingstate, sodat hulle ook dié vermoëns het.”

Moeti het ook daarop gewys dat daar wêreldwyd ’n tekort aan Covid-19-toetsstelle is en dat baie lande ’n behoefte aan meer het. Dit belemmer strategieë om gevalle so gou moontlik te diagnoseer.

“Daar is egter honderde moontlike gevalle wat aangemeld is waar mense negatief getoets het. Ons weet daar is mense wat asimptomaties gaan wees, maar ek glo nie daar is ’n grootskaalse verspreiding onder mense wat nie in die vangnet beland nie.”

Die WGO het ook ’n toesighoudende netwerk vir influensa in meer as 23 Afrikalande en het nog nie ’n toename in simptome gesien nie.

“Ek dink nie daar is reusestygings in die aantal mense wat besmet is en dit nie aangemeld het nie. Dit is veral omdat dit in die meeste lande verbind word met gevalle waar mense van die buiteland af gekom het.”

Dit is tans nog nie bewys dat mense met MIV/vigs meer vatbaar vir die koronavirus is nie, maar dit word beskou as ’n toestand wat daartoe kan lei dat mense erger siek word weens ’n verswakte immuunstelsel, soos al met influensa waargeneem is.

Weens die hoë aantal MIV/vigs-gevalle in Afrika is dit iets wat lande met betrekking tot Covid-19 in ag moet neem, sê Moeti.

Die vasteland het ook ’n ernstige uitdaging met ’n tekort aan asemhalingstoestelle, veral ook omdat dit ingevoer moet word.

Dit maak Afrika grootliks afhanklik van skenkings van China, Europa en die VSA, terwyl dié lande selfs tekorte ervaar.

“Daar moet internasionaal saamgewerk word om lande by te staan wat nie hul eie toerusting kan vervaardig nie.”Dr. Zabulon Yoti, waarnemende WGO-streeksdirekteur vir noodgevalle, sê daar is “groot klowe” in die kapasiteit om die krisis te hanteer en geen Afrikaland het “al die vereiste vermoë om voldoende op so ’n pandemie te reageer nie”.

Hy het beklemtoon dat sommige lande reeds groot humanitêre behoeftes het, soos oorlogsones en lande wat groot getalle vlugtelinge kry.

Van die groter lande soos Suid-Afrika, Senegal en Nigerië bied bystand aan buurlande vir die toets van gevalle en die deel van noodsaaklike vaardighede.

“Ons werk hard daaraan om laboratoriums in elke Afrikaland te hê, sowel as om bystand met opleiding en mediese toerusting te bied.”

Volgens Yoti is dit belangrik dat mense moet weet dat daar in die meeste gevalle ’n sterk kans op oorlewing en herstel is en dat mense in sommige lande reeds uit afsonderingsgeriewe ontslaan is.

“Wat herinfeksie betref, leer ons nog baie van die siekte. Met sars en mers, wat soorgelyke koronavirussiektes is, is daar nie ’n noemenswaardige gevaar van herinfeksie waargeneem nie.”

Dr. John Nkengasong, direkteur van die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming, sê ook daar is nie tans die kapasiteit in Afrika om asemhalingstoestelle te vervaardig nie. “Maar dit is ’n gesprek wat lande soos Suid-Afrika, Egipte, Marokko, Tunisië en ander moet voer oor hoe dit benader kan word. Dit is ’n gesprek wat dringend moet plaasvind.”

* Hier is die volle mediavergadering van die WEF en WGO.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-1  |  Afrikalande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.