Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
'Strenger inperking in W-Kaap sou rampspoedig wees'

Die Wes-Kaapse regering het dit Vrydag verwelkom dat geen nuwe inperkings vir die provinsie aangekondig is nie, en sê dit dui op vertroue dat die herlewing in koronavirusgevalle, veral in die Tuinroete, bestuur kan word.

Alan Winde, premier, het dit veral verwelkom dat die president en minister van gesondheid na die provinsiale regering se insette geluister het gedurende konsultasies vandeesweek.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Jaco Marais

“Die besluit om nie bykomende inperkings in te stel nie, stel ons in staat om die ekonomie te beskerm en toe te sien dat ondernemings kan aanhou handel dryf, toerisme kan voortgaan en werk gered word.”

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Donderdag die land toegespreek het en strenger inperkings vir die Nelson Mandelabaai-metro aangekondig het weens die stygende aantal nuwe infeksies daar.

Winde het in ’n uitsending van die DA die oggend gesê die Wes-Kaap het nie strenger inperkings nodig nie en moet eerder fokus op gedragsverandering en om die balans te vind tussen ekonomiese aktiwiteite en die bekamping van die virus.

“Bykomende inperkings sny net poste en verwoes die ekonomie. Ons moet probeer om die ekonomie weer aan die gang te kry, daar is te veel poste reeds verlore.”

Hy het gesê daar is ’n span wat op die herlewing van infeksies in die Tuinroete fokus, en inwoners moet ook hul kant bring om die voorsorgmaatreëls te volg.

Hy het herhaal dat mense steeds welkom is om die Tuinroete vir die vakansietyd te besoek, maar dan moet hulle wegbly van plekke waar mense saamdrom.

Volgens Winde is die provinsiale regering tans in beheer van die situasie met die virus en het hy al bewys dat hy “bosbrande” in infeksies in bedwang kan bring.

“Die aanvanklike inperkings het ons tyd gegee om die gesondheidsreaksie in plek te kry, maar dit het ook ’n verwoestende uitwerking op die ekonomie gehad. Dit is die laaste ding wat Suid-Afrika nodig het, die helfte van die arbeidsmag sit sonder werk.”

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: AP Photo/Jerome Delay

Om weer inperkings in te stel sou net die verwoesting vererger en die provinsie kan dit nie bekostig nie.

Hy het egter toegegee dat die uitbreking in die Tuinroete veel groter is as dié in Beaufort-Wes en Kaapstad se suidelike voorstede sedert die eerste vlaag infeksies.

“Dit mag dalk ’n groter ‘bosbrand’ wees, maar ons gaan dit steeds moet blus terwyl werkskepping aangemoedig word, want ons moet van die pandemie herstel.”

Winde het verduidelik dat die provinsie ’n drieledige plan volg wat daarop fokus om die gesondheidstelsel te beskerm, gedragsverandering aan te moedig deur inwoners te betrek en verantwoordelikheid te laat neem, en om die regulasies af te dwing waar dit nie gevolg word nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het intussen besoek aan die Tuinroete afgelê saam met dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, om hulle te vergewis van die situasie daar.

In ’n verklaring die middag het Winde gesê dat hy Maandag ’n plan om nuwe infeksies in die Wes-Kaap te beheer, aan Ramaphosa sal voorlê.

“Ons moet inderdaad wys dat ons die situasie onder beheer kan kry deur ons eie optrede.”

• Die publiek is aangemoedig om tuis te bly as hulle enigsins siek voel, en kan 080 928 4102 tolvry skakel vir meer inligting oor wat om volgende te doen.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Alan Winde  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.