Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Strenger inperking? Wes-Kaap sê dié week
koronavirusinfeksies, covid-19
Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid. Foto: Jaco Marais

Die Wes-Kaapse regering gaan eers ná die naweek die uitslag bekend maak van ’n vergadering Vrydag waar maatreëls teen die toenemende koronavirusgevalle en hospitaalopnames van mense met Covid-19 bespreek is.

Intussen het die getal aktiewe gevalle in die provinsie teen Sondagmiddag tot 9 478 gestyg nadat 864 nuwe gevalle in die voorafgaande 24 uur aangemeld is. Sowat die helfte van die aktiewe gevalle is in die Kaapse metropool.

Die provinsiale regering het vandeesweek sy kommer uitgespreek oor skerp stygings aan die Tuinroete en in die Kaapse metropool, terwyl stygings ook in die Kaapse Wynlande en die Overberg voorgekom het.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Vrydag in ’n voorlegging gesê die persentasie toetse wat positief is, het in die provinsie as geheel tot meer as 20% gestyg. In September was dit op ’n laagtepunt van 7%.

Teen Vrydag het die getal Covid-19-pasiënte in die provinsie tot 1 067 toegeneem.

Teen Vrydag het die getal Covid-19-pasiënte in die provinsie tot 1 067 toegeneem, waarvan 525 in private hospitale en 542 in staatshospitale is, met altesaam 195 mense in ’n hoësorg- of waakeenheid.

Die gemiddelde daaglikse sterftes in die voorafgaande sewe dae staan op 13, teenoor ’n gemiddeld van 12 sterftes vir die voorafgaande 14 dae.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Nog ’n bron van kommer is die stygende getal gesondheidswerkers wat geïnfekteer word.

Die grootste stygings het voorgekom in die George-, Knysna- en Mosselbaai- sowel as die Groote Schuur-, Tygerberg-, Victoria- en Rooi Kruis-hospitaal.

Die nasionale departement van gesondheid het Saterdag met sy daaglikse bywerking van die koronavirussyfers bevestig dat 3 198 nuwe gevalle landwyd aangemeld is, sowel as 61 sterftes.

Van dié sterftes is 15 in die Wes-Kaap, 26 in die Oos-Kaap, 12 in KwaZulu-Natal, sewe in Limpopo en een in Gauteng.

Dit bring die nasionale dodetal tot dusver op 21 439 te staan.

Alan Winde, premier, het in sy weeklikse aanlyn mediavergadering verlede week gewaarsku dat inwoners hulle tot die voorsorgmaatreëls moet verbind om ’n staat van inperking te vermy en eerder vakansieplanne af te skaal tot net klein byeenkomste.

Hy het toe aangedui dat die provinsiale regering Vrydag die moontlikheid van strenger inperkings en wetstoepassing gaan bespreek ten midde van die herlewing van die pandemie in die Wes-Kaap.

Winde het Woensdag gesê bevestigde koronavirusgevalle het met 52,1% op ’n weekgrondslag gestyg, terwyl stygings van meer as 20% as ’n herlewing beskou word.

Hospitaalopnames het met 63% en die vraag na beddens in waakeenhede met 75% toegeneem oor dieselfde tydperk.

Indien die maatreëls nie nagekom word nie, sal die provinsie ’n strawwer benadering moet volg en die afdwing daarvan verskerp, het hy gemaan.

“As ons dit nie regkry nie, sal die ekonomie wat nou net begin herstel het, weer moet sluit. Ek pleit by Wes-Kapenaars om te help om die besmettings te laat afplat.”

Winde het gesê die provinsiale regering sal Vrydag die moontlikheid oorweeg om inperkings in gebiede met uitbrekings in te stel, sowel as beweging oor die grens met die Oos-Kaap.

Tans is daar glo nie maatreëls waarvolgens die provinsie sy grense kan sluit nie.

Teen Sondag het Winde se woordvoerder aangedui dat daar nog prosesse is wat afgehandel moet word voor amptelike aankondigings gemaak kan word.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Gevalle  |  Pandemie  |  Toename  |  Inperking  |  Covid-19  |  Strenger Inperking  |  Koronagevalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.