Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Strenger regulasies nodig vir 3de vlaag, sê kenners

Strenger inperkingsmaatreëls is nodig, “want dinge kan nie so aangaan nie”, sê prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Foto: Argief

Sy reaksie kom nadat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) Donderdagaand bekend gemaak het dat Suid-Afrika nou amptelik ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies beleef. Dié aankondiging het gevolg nadat 9 149 nuwe infeksies Donderdag aangemeld is.

“Ons het strenger inperkings nodig, want ons weet nie wat die derde vlaag vir ons inhou nie,” sê Mphahlele.

Hy sal graag wil sien dat die land na ’n aangepaste vlak 3 van inperking beweeg.

“Dit moet veral beperkings op beweging plaas. Mense moet slegs vir sakedoeleindes oor provinsiale grense kan beweeg. Daar moet ook verdere beperkings geplaas word op die getal mense wat byeenkomste mag bywoon,” sê Mphahlele.

Hy sê as hospitale onder druk begin raak en nie kan byhou nie, moet beperkings op alkohol ook ingestel word. “Alkohol lyk dalk soos die maklikste teiken om te blameer, maar ons het in vorige vlae gesien dat ’n verbod op alkohol die hospitale werklik help.

“Die probleem is nie die mense wat hulle gedra nie, die probleem is diegene wat hulle nie kan gedra as hulle alkohol gebruik nie,” sê Mphahlele.

Daar moet ook verdere beperkings geplaas word op die getal mense wat byeenkomste mag bywoon.

Die laaste keer dat Suid-Afrika op vlak 3 van inperking was, was tussen 29 Desember 2020 en 1 Februarie 2021. ’n Aandklokreël van tussen 21:00 en 05:00, ’n totale verbod op alkoholverkope en streng beperkings op byeenkomste was toe van krag.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, meen ook dat strenger regulasies afgekondig moet word.

“Die regulasies wat tans van krag is, stop nie die verspreiding van die virus nie. Dit hang nou van mense self af om hulle te beskerm, maar ons is nou al ’n ruk lank in die pandemie en mense word moeg vir die regulasies,” sê hy.

Schoub sê egter dit is baie belangrik dat die regering ’n balans moet vind tussen gesondheid en die ekonomie wanneer ’n besluit geneem word.

Ons sal skole vir minstens twee tot drie weke moet sluit. Dit is net totdat ons uit hierdie vlaag kan kom.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en lid van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, het Vrydag by navraag gesê die huidige inperkingsvlak kan bly, maar daar sal beslis na skole gekyk moet word.

“Ons sal skole vir minstens twee tot drie weke moet sluit. Dit is net totdat ons uit hierdie vlaag kan kom,” sê sy.

Die ekonoom Dawie Roodt sê uit ’n ekonomiese oogpunt kan Suid-Afrika dit nie bekostig om strenger inperkingsmaatreëls in te stel nie. “Mense moet ’n bestaan kan maak. Ons ekonomie is reeds op sy knieë,” sê hy.

Phumla Williams, woordvoerder van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsels, het Vrydag by navraag gesê sy is nie bewus van enige komende vergaderings van die Covid-19-bevelsraad waarop strenger maatreëls moontlik bespreek sal word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.