Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Stuur Weskoppies op tweede Life Esidimeni af?

Die Weskoppies- psigiatriese hospitaal is een van 11 staatshospitale in Gauteng wat Donderdag ’n nuwe bestuurshoof gekry het.

Hoewel dié aanstelling verwelkom word, bly talle vrae oor die hoë sterftesyfer by die hospitaal wat verband hou met ernstig nadelige voorvalle (ENV) onbeantwoord.

Die Weskoppies-hospitaal in die weste van Pretoria.Foto: Reuters

Verlede jaar is 504 ENV-verwante sterftes by die hospitaal aangemeld.

ENV word gedefinieer as gevalle waar pasiënte onbedoelde leed aangedoen word weens mediese sorg of die weerhouding daarvan.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê dat die sterftesyfer by Weskoppies “soos by enige ander hospitaal in Gauteng” ondersoek moet word.

“Die klassifikasie van ernstig nadelige voorvalle is hemelsbreed en verskil van geval tot geval. Iemand wat ’n allergiese reaksie kry van ’n spesifieke medisyne word ook as ’n ENV-geval geklassifiseer. Nie al die voorvalle is noodwendig die gevolg van mediese nalatigheid nie,” sê Kekana.

Die DA meen egter Weskoppies moet ondersoek word. “Dit is ’n onaanvaarbare hoë syfer wat verduidelik en ondersoek moet word.”

Simphiwe Gada, provinsiale voorsitter van die vakbond Denosa, wat verpleegpersoneel verteenwoordig, sê die Weskoppies-hospitaal gaan gebuk onder gebrekkige sekuriteit en ’n ernstige tekort aan personeel. “Daar is slegs sekuriteit aan die buitekant van die hospitaal, maar weinig word gedoen om die gerief binne te beveilig,” sê Gada. “Meer dokters en verpleegpersoneel is nodig om behoorlik na die pasiënte om te sien. Dit is nie ’n verrassing dat die ENV’s by Weskoppies so baie is nie. Daar is ook dikwels gevalle waar pasiënte dros en later dood aangetref word. Sulke gevalle moet na regte ook as ENV-gevalle geregistreer word,” sê Gada.

Philip van Staden, VF Plus-LP en woordvoerder oor gesondheid, sê dit is uiters kommerwekkend dat dié psigiatriese hospitaal in die weste van Pretoria so ’n hoë sterftesyfer het. “Dringende ingryping op hoë vlak is nodig om Weskoppies reg te ruk. So nie stuur ons af op ’n tweede Life Esidimeni wat hierdie keer op ’n groter skaal gaan plaasvind,” meen Van Staden.

Minstens 144 psigiatriese pasiënte is in 2016 dood nadat die Gautengse departement van gesondheid sowat 1 700 pasiënte van Life Esidimeni na organisasies sonder lisensies of voldoende geriewe verskuif het.

“Die gesondheidstelsel, veral openbare gesondheid, is siek tot in sy binneste weens wanadministrasie en wanbestuur,” sê Van Staden. “Voeg gebrekkige personeel, ’n tekort aan medisyne en werkende toerusting by en die prentjie laat ’n mens se hare rys.”

Nuwe hospitaalbase

Mokete Motaung is Donderdag as die bestuurshoof by Weskoppies aangestel, Avhapfane Musie by die Odi-hospitaal, Thizwilondi Magadze by die Cullinan-sorg-en-rehabilitasiesentrum, Phumzile Nkumane by die Bronkhorstspruit-hospitaal, Sonwabo Lindani by die Carletonville-hospitaal, dr. Jatin Ganda by die Edenvale-hospitaal. dr. Ahsley Mthunzi by die Pholosong-hospitaal, dr. Zachariah Mathaba by die Verre-Oos-Rand-hospitaal, Makibi Modolo by die Sebokeng-hospitaal, dr. Naing Soe by die Mamelodi-hospitaal en Zenzo Ndabula by die Tambo-gedenkhospitaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.