Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Suid-Afrikaners glo gou op NGV

Die departement van gesondheid spog dat hy reeds meer as 42 miljoen name op sy register van pasiënte het ter voorbereiding van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Rapport het egter by navraag vasgestel dat die name vir die register nie van hospitale, klinieke of mediese instellings verkry is nie, maar bloot van die departement van binnelandse sake afkomstig is.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het onlangs in sy begrotingspos aangekondig dat die departement sy eie gesondheidsregister “ontwikkel” het waarop 42,6 miljoen gebruikers reeds geregistreer is.

“Teen die einde van dié finansiële jaar sal alle Suid-Afrikaners op die stelsel geregistreer wees,” het die minister belowe.

Die register, sê Mkhize, sal die “ruggraat” van die NGV wees wat al die gesondheidsinligting van pasiënte sal bevat.

Die register, blyk dit nou, bevat waarskynlik niks meer inligting as die bevolkingsregister nie.

‘Mediese dienste kan nie verskaf word onder kosprys nie.’

Dit is onduidelik hoe die departement hierdie register op ’n prakties uitvoerbare manier wil gebruik, sê prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakeorganisasie Sakeliga, sê die gesondheidsdepartement se register behoort ’n bestuurstelsel te wees met uitgebreide gesondheidsinligting van elke persoon wat daarop geregistreer is.

“Die lys waarvan die minister praat, is waarskynlik niks meer as ’n lys met name en adresse en ’n klein bietjie bykomende demografiese inligting nie.”

Mkhize, wat in Mei vanjaar aangestel is as nuwe gesondheidsminister, het die grootste gedeelte van sy onlangse begrotingstoespraak gewy aan die NGV en die regering se vasbeslotenheid om dit in te stel beklemtoon.

Volgens hom sal ’n “basiese pakket” van noodsaaklike dienste deur die NGV verskaf word, soos gesondheidsorg vir swanger vroue, pasgebore babas, geïntegreerde psigiatriese dienste en die vroegtydige opsporing van siektes soos diabetes, hoë bloeddruk en kanker.

Die departement het aan Rapport gesê dié dienste sal ingefaseer word en diegene wat nie lid van ’n mediese fonds is nie, sal voorkeur kry. Voorts sal dienste soos byvoorbeeld om brille en gehoortoestelle aan skoolkinders te verskaf en kanker (veral onder vroue) te behandel, ook voorkeur geniet.

In antwoord op Rapport se vrae oor waar en deur wie die dienste verskaf sal word, het die departement gesê die NGV-fonds sal die dienste “aankoop” teen ’n “bekostigbare prys waar dit ook al in die land is”.

Die fonds sal in gevalle waar algemene praktisyns nie primêre gesondheidsorgdienste kan verskaf nie, spesialiste gebruik – ook “teen ’n bekostigbare prys”.

Van den Heever wys egter daarop dat al die “basiese dienste” wat die regering onder die NGV beoog om te bied reeds universeel beskikbaar is in Suid-Afrika.

“Dit is onduidelik watter verskil dit sal maak.”

Casper Venter van die konsultantefirma HealthMan, wat doktersgroepe verteenwoordig, sê die regering se voorneme om dienste aan te koop was tot dusver onsuksesvol.

“Die vier tenders wat verlede jaar uitgereik is (vir dienste soos psigiatrie en onkologie) was ’n klaaglike mislukking en is uiteindelik gekanselleer,” sê hy.

Die feit dat die regering meen hy sal die dienste teen ’n “bekostigbare” prys kan verskaf, is ook onrealisties, volgens Venter.

“Mediese dienste kan nie verskaf word onder kosprys nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.