Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Suid-Afrikaners is in Seychelle vasgekeer

’n Groep van sowat 20 Suid-Afrikaners is sedert verlede maand weens Covid-19-reisbeperkings in die Seychelle gestrand.

Van hulle het Sondag per e-pos vertel hoewel die Suid-Afrikaanse regering blykbaar toestemming gegee het dat hulle mag terugkeer, skop die owerhede in die Seychelle vas. Streng inperkings geld ook daar en niemand mag die eilande glo binnekom of verlaat nie.

Walter Funk
Walter Funk van Johannesburg, een van die gestrande Suid-Afrikaners in die Seychelle. Foto: Verskaf

Stefan Kellerman van Bloemfontein sê hy, sy vrou, Mariaan, en hul twee seuns, Rico (12) en Stiaan (10), asook die meeste van die ander gestrande Suid-Afrikaners het meestal in Februarie of Maart in die Seychelle aangekom.

“Die meeste van ons is met vakansie hier en bly in verskillende plekke op die eiland Mahé. Ek en my gesin moes einde Maart (nadat die nasionale inperking in Suid-Afrika begin het) terugkeer. Die Suid-Afrikaanse regering het daarna toestemming gegee dat ons op 15 April kon terugkeer, maar dit is kort daarna gekanselleer nadat die owerhede in die Seychelle mense verbied het om die land binne te gaan of te verlaat.”

Kellerman sê hulle is nou aan die genade van dié land se owerhede oorgelaat en kan maar net “wag en bid” dat hulle binnekort toegelaat sal word om te vertrek.

“Verblyf, kos en reis hier is baie duur. Ons kry geen ondersteuning van die Seychelle-regering nie, behalwe blykbaar mediese hulp waar nodig. Die eiland is ook gedeeltelik ingeperk en ons kan nêrens heen gaan en niks doen nie.”

Simon Taylor, van Ballito in KwaZulu-Natal, sê sy vrou en hul drie kleuterseuns wag angstig op hom tuis. Taylor het op 22 Maart na die Seychelle gevlieg en sou op 1 April terugkeer. Volgens hom kon hy en ander Suid-Afrikaners by meer as een geleentheid hierna vlugte na Suid-Afrika bespreek, maar dit is telkens gekanselleer.

Ons was net buite nadat ons ons bagasie teruggekry het, toe ons hoor klaring is tien minute gelede verkry.

“Ek en van die ander Suid-Afrikaners is op 7 April na die lughawe. Nadat ons ons bagasie ingeboek het, hoor ons daar word nog gewag vir klaring van Suid-Afrika. Ons was net buite nadat ons ons bagasie teruggekry het, toe ons hoor klaring is tien minute gelede verkry. Dit was te laat om terug te gaan en weer in te boek. Ons moes almal weer verblyf reël, ons families tuis laat weet ons kom nie meer nie en kruideniersware en ander benodigdhede kry.”

Taylor sê kennisgewings wat hulle hierna gekry het oor vlugte op onderskeidelik 10, 15 en 16 April waarmee hulle kon terugkeer, is telkens op die nippertjie gekanselleer. “Daar was geen kommunikasie van ons ambassade hier nie, ons het maar by plaaslike mense gehoor die vlugte is gekanselleer omdat mense verbied word om die land binne te kom of te verlaat. Ons word teen ons wil hier gehou, terwyl ons geen inligting of hulp kry nie. Die bykomende drie weke hier kos my bykans R20 000, ek weet nie hoe lank ek dit nog kan bekostig nie. Ek wil nou net by die huis kom en seker maak my gesin is veilig.”

Walter Funk, een van vyf Suid-Afrikaners wat vanaf 1 Maart in die Seychelle gaan werk het, sê die verlengde verblyf daar sal hulle nagenoeg R80 000 kos. Funk en die vier ander, almal van Johannesburg, moes op 28 Maart teruggekeer het na Suid-Afrika.

“Ons hoor die regering hier sal eers weer ná 30 April vlugte toelaat.”

’n Kaapse egpaar wat gevra het dat hul name nie gepubliseer word nie, sê hulle moes op 30 Maart terugkeer na Kaapstad. Die verlengde verblyf het nie net geweldige geldelike gevolge nie, maar hulle is bekommerd oor hul werk, huis, honde en kat in Suid-Afrika.

‘Ons onderhandel’, sê regering

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het Sondag gesê die departement is bewus van die groep Suid-Afrikaners in die Seychelle en dat met die regering daar onderhandel word.

“Dit is soms baie moeilik en is ’n uitdagende proses, want ons moet ander lande se inperkingsmaatreëls respekteer. Inperkings is juis daarop gemik om beweging tussen lande te beperk. Ons probeer ons bes om gestrande Suid-Afrikaners terug te kry in die land, maar hulle sal in kwarantyn (14 dae) moet bly ná hul terugkeer.”



Meer oor:  Seychelle  |  Suid-Afrikaners  |  Inperkings  |  Koronavirus  |  Reisverbod  |  Buiteland  |  Repatriasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.