As Suid-Afrikaners by die reëls hou, kan ’n tweede vlaag Covid-19-infeksies gekeer word, sê prof. Salim Abdool Karim.
“Ek weet nie wanneer en óf die tweede golf gaan kom nie. Suid-Afrikaners kan dit keer as hulle nie nou selfvoldaan raak nie,” sê Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19.

Prof. Salim Abdool Karim
Son City Press
Volgens hom is ander lande getref toe “hulle gerus geraak het en opgehou het om die veiligheidsmaatreëls te gehoorsaam”.
“Ons het steeds tussen 2 000 en 2 500 nuwe gevalle ’n dag.
“Ons is steeds midde-in ’n pandemie en mense moet dit besef.”
Hy verduidelik dat die land “nog ’n lang pad” het om te stap voordat daar sprake van die opheffing van die inperking sal wees.
“Daar is nog nie ’n kriteria vir die afskuif na vlak 1 nie en ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie.
“Van die riglyne bepaal dat die nuwe gevalle per dag tussen een en tien vir elke miljoen van die bevolking moet wees.
“Dit beteken dat ons elke dag tussen 58 en 580 nuwe gevalle moet aanteken.
“Ons kan weer gesels as ons onder 58 is,” sê Abdool Karim.
Prof. Eugene Cloete, visie-rektor vir navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch en ook ’n professor in mikrobiologie, sê hy glo nie daar gaan ’n tweede golf kom nie.
“Ons kan die somer ingaan as ’n gesonde Suid-Afrika, maar mense moenie nou laks raak nie.”
Hy sê die getalle in alle provinsies is aan die afneem en dat ons “binnekort” sal kan afskuif na vlak 1.
Mlungisi Mtshali, woordvoerder van die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), sê dit is nog onseker presies wat vlak 1 gaan behels.
Mense moet maar leer om met maskers saam te leef
“Die kombinasie van ’n lae infeksiekoers en die gesondheidstelsel se gereedheid om pasiënte te behandel, is steeds die oorwegende faktore (wat in ag geneem word om af te skuif na vlak 1). Wat dit presies gaan behels, sal dan deur die nasionale bevelsraad bespreek word en na die kabinet toe gaan vir verdere goedkeuring,” sê Mtshali.
Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê Suid-Afrikaners kan hulle voorberei om vir minstens twee jaar nog teen die pandemie te baklei.
“Mense moet maar leer om met maskers saam te leef.
Dis die vier goedjies: maskers, hande was, ’n gesonde afstand van 1,5 m handhaaf en vensters oophou vir behoorlike ventilasie, wat die nuwe normaal moet word.”
Sy maan dat ma’s ook nie hul kleinspan saam moet vat as hulle inkopies gaan doen of besoeke by die dokter aflê nie. “Kinders word nie regtig siek nie, maar hulle kan draers wees.”