Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Suid-Afrikaners op groot skaal getoets

Suid-Afrika begin in die volgende paar dae met ’n uitgebreide veldtog om landwyd mense vir die korona-virus te toets.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand in ’n televisie-boodskap aangekondig.

Hy het ook gesê drie mense het nou al weens die Covid-19-virus gesterf, terwyl 1 326 mense in die land positief getoets is.

“Mede-Suid-Afrikaners, ons betree nou ’n nuwe fase van die inperking. Ons sal in volgende paar dae op groot skaal toetse landwyd begin doen. Sowat 10 000 mediese werkers sal huise besoek en toetse op mense doen,” het die president gesê.

Ramaphosa se toespraak het gevolg ná ’n vergadering van die nasionale bevelsraad vroeër in die dag in Pretoria.

Die bevelsraad bestaan uit onder andere verskeie lede van die kabinet, wetenskaplikes en mediese deskundiges.

Pres. Cyril Ramaphosa terwyl hy Maandagaand die nasie op televisie toegespreek het. Foto: Presidensie

“Mense wat besmet is en geen of gemiddelde simptome toon nie, sal in isolasie tuis bly.

“Dié met erge simptome sal na hospitale gebring word. Ons sal ook mense opspoor wat met die besmettes in kontak was.

“Dit (die toetsing van mense) is ’n verreikende stap. Dit is intensief en ongekend in terme van skaal,” het die president gesê.

“Ons eie wetenskaplikes sê dit was die regte besluit om die land onder inperking te plaas. Ons sou dieselfde pad geloop het as ander lande wat nou swaar onder die pandemie gebuk gaan.

“Ons moes net eenvoudig dié radikale stap geneem het,” het hy gesê.

“Gesondheidsdienste wêreldwyd is onder groot druk weens die virus.”

Hy het gesê die meeste Suid-Afrikaners voldoen aan die maatreëls wat ingestel is.

Hy het die Motsepe-stigting (R1 miljard) en Naspers (R1,5 miljard) bedank vir hul ruim bydrae. Naspers is die eienaar van Netwerk24.

Die president, wat ook voorsitter van die Afrika-Unie is, het die Chinese sakemagnaat Jack Ma by name bedank vir die voorraad mediese toerusting wat hy aan Suid-Afrika en die res van Afrika geskenk het.

“Sommige mense dink die virus sal hulle nooit raak nie en dat die siekte net met ander gebeur, maar die pandemie is ’n werklikheid.

“Dit hou ’n gevaar in vir elkeen van ons en die hele samelewing.

“Dit raak ryk, arm, swart en wit – dié in stede en dié in landelike gebiede. Gee gehoor aan die maatreëls wat ons ingestel het. Jy steek jouself en ander in gevaar as jy nie daaraan voldoen.

“Dit is waarom ons verskeie stappe gedoen het om ondernemings wat sukkel, te help en om skuiling vir haweloses te verskaf,” het Ramaphosa bygevoeg.

Sommige mense dink die virus sal hulle nooit raak nie en dat die siekte net met ander gebeur, maar die pandemie is ’n werklikheid.

“Die mediese noodtoestand waarin ons nou verkeer, plaas terwyl die land se ekonomie onder erge druk verkeer. Die kredietgraderingsmaatskappy Moody’s het ons boonop tot rommelstatus afgegradeer.

“Dit sal die regering se lenings se koste verhoog om regeringbesteding te finansier, maar dit sal nie ons reaksie op die koronavirus beïnvloed nie,” het die president verseker.

Hy het ook spesiaal die land se mediese werkers, nieregeringsorganisasies en vrywilligers vir hul bydrae geloof.

“Ook die sowat 18 000 lede van die veiligheidsowerhede. “Hulle weet dat hulle ten alle tye binne die wet moet optree en nie onnodige skade teen ons mense veroorsaak nie.

“Dan is daar die 51 miljoen van ons wat almal hul deel doen. Die mans en vroue wat elke oggend opstaan en tot saans werk om die land aan die gang te hou. Ek praat van mense soos die plaaswerkers, petroljoggies, die versorgers van oues en kinders en siekes.

“Ek praat van die taxibestuurders, die vullisverwyderaars, die hospitaalskoonmakers en alle ander noodsaaklike werkers wat ons helde is. Ons salueer hulle.”

Ramaphosa het gesê al ondervind die land tans erge probleme, “glo ek diep binne in dat ons dit sal oorkom”.

Ramaphosa se boodskap aan Suid-Afrikaners was:

“Verlaat net jou woning om noodsaaklike rede soos die aankoop van kos of vir mediese behandeling.

“Dit is net werkers wat noodsaaklike dienste lewer wat kan werk toe gaan.

“As jy moet uitgaan, maak seker dat jy alles moontlik doen om nie aangesteek te word of iemand anders aan te steek nie.

“Ons is baie bekommerd oor die impak van die inperking op entrepreneurs en informele ondernemings.

“Ons probeer om verligting aan hulle te gee. Ons weet ook daar is baie Suid-Afrikaners wat oorsee gestrand is. “Ons het nie van hulle vergeet nie. Ons gee aandag hieraan,” die president bygevoeg.

Ons is baie bekommerd oor die impak van die inperking op entrepreneurs en informele ondernemings.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.