Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Suurstof-gebruik in W-Kaap skiet hoogte in

Die Wes-Kaapse gesondheidstelsel gebruik tans meer suurstof as wat Afrox se aanleg in Kaapstad daagliks kan lewer en ses keer meer as wat die hospitale gewoonlik voor Covid-19 gebruik het.

Die provinsiale departement van gesondheid het Woensdag bevestig dat sy geriewe 46 ton suurstof per dag en die private sektor 28 ton per dag gebruik.

Dit is altesaam 74 ton per dag, terwyl Afrox se aanleg in Kuilsrivier 70 ton per dag kan lewer.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Aanvullende voorraad suurstof word aan die hand van ’n ooreenkoms met Afrox uit die Suid-Kaap aangery.

In die week van 14 Januarie vanjaar, naby die piek van die tweede vlaag, het die provinsie 73 ton suurstof per dag gebruik en tydens die piek van die eerste vlaag is 27 ton per dag gebruik.

Staatshospitale het voor Covid-19 gewoonlik slegs 12 ton per dag gebruik.

Teen die middag het die aktiewe gevalle in die Wes-Kaap effens gestyg tot 38 984, waarvan 3 830 nuwe gevalle binne 24 uur aangemeld is.

Daar is 23 000 aktiewe gevalle in die Kaapstadse metropool.

Maandag het die getal aktiewe gevalle in die provinsie op meer as 40 000 gestaan.

Die totale Covid-19-sterftesyfer is 15 525, terwyl die gemiddelde daaglikse sterftesyfer 108 is.

Die getal hospitalisasies het ook Woensdag effens gedaal tot 3 631, waarvan 748 pasiënte in die hoësorg- of waakeenhede is.

(Vinnige toetsuitslae) help lewens red omdat ’n spoedige diagnose help om mense versigtig te kan monitor en versorg.
Mark van der Heever

Minstens 1,2 miljoen inentings is al in die provinsie toegedien.

Die provinsiale departement sal Donderdagoggend die jongste inligting oor die stand van sake op die premier se weeklikse aanlyn mediavergadering deel.

Toetsing beperk

Mark van der Heever, woordvoerder van die departement, het by navraag bevestig dat toetsing in geriewe van die staat beperk is om groot agterstande te voorkom soos wat in die eerste vlaag ervaar is.

Toetsing is tans beskikbaar vir mense van 45 jaar en ouer met simptome, mense met onderliggende toestande en simptome en mense met simptome wat die hospitaal benodig.

Dié beperkings tree in werking wanneer besmetting ’n snellervlak bereik, en volgens Van der Heever is dit ontwikkel uit die ervaring in vorige vlae om vinnige toetsuitslae vir hoërisiko-pasiënte te kry.

’n Vrag suurstof word by ’n hospitaal in die Wes-Kaap afgelewer. Foto: Verskaf

“Dit help lewens red omdat ’n spoedige diagnose help om mense versigtig te kan monitor en versorg.”

Van der Heever het verduidelik hoewel die toetskriteria beperk word, het die hoeveelheid toetse steeds drasties toegeneem.

“Met die data tot ons beskikking bly dit moontlik om die vlaag te monitor, veral die koers van nuwe besmettings en toetspositiwiteit. Daar is ook geen beperking op die toetsing van mense wat in die hospitaal opgeneem word nie.”

Dit beteken dat die data van hospitalisasies en sterftes ook akkurate indikators van die verloop van die pandemie bly.

Lae registrasies in dié dele

Die Kaapstadse metroraad het Dinsdag bevestig dat rondom 1 280 nuwe gevalle daagliks aangemeld word en dat 547 begrafnisse in die afgelope week gehou is.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het sy kommer uitgespreek oor die lae registrasiekoerse vir inentings onder mense van 60 jaar en ouer in sekere dele van die metro.

Zahid Badroodien Foto: Verskaf

Dit sluit in Nomzamo (10%), Philippi (11,4%), Fisantekraal (16%), Imizamo Yethu (17,6%) en Kruispad (21%).

Om inwoners in dié gebiede te bereik, is instapsentrums in Mitchells Plain en Khayelitsha by onder meer gemeenskapsale, winkelsentrums en Sassa-betaalpunte ingerig.

Badroodien sê vroue maak 59% uit van die mense wat ingeënt is.

“Vroue neem weer leiding om die gesondheid en welstand van ons gemeenskappe te verseker. Dit kan nie net op hul skouers rus nie, en ek doen ’n beroep op mans in te haal.”

Inwoners word daaraan herinner dat die simptome van die Delta-variant van die virussiekte soortgelyk is aan dié van verkoue met ’n loopneus, hoofpyn, seerkeel en koors. Mense wat dié simptome ervaar, word aangeraai om tuis te bly en hulself vir tien dae af te sonder, asook om die mense met wie hulle in kontak was, in kennis te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.