Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sy beveg kanker hand en tand

’n Tandarts van Pretoria het onlangs haar meestersgraad voltooi ondanks die uitdagings dat sy haar ma weens kanker verloor het en sy self ten tyde van haar studie teen dié siekte moes veg.

Dr. Samantha Arnold (44) van Villieria het onlangs haar meestersgraad in tandheelkundige materiale aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf en dít boonop met onderskeiding.

Sy praktiseer die afgelope 20 jaar as ’n tandarts en is ook ’n dosent in tandheelkundige materiale aan die UP se skool vir tandheelkunde.

Arnold sê om haar meestersgraad aan te pak was iets wat sy nog altyd wou doen, maar daar was nooit tyd daarvoor nie. Sy wou dit ook voltooi om ’n goeie dosent vir haar studente te kan wees.

Sy het eindelik in Mei 2017 met haar meestersgraadstudie begin, maar sy moes verskeie persoonlike uitdagings in dié tydperk oorkom.

Haar ma, by wie in 2015 borskanker gediagnoseer is, is in April 2019 weens die siekte dood.

Dr. Samantha Arnold

“My ma het my geleer om goedgeaard te wees, van die waarde van familie en hoe om enigiets te hanteer wat die lewe na jou kant toe gooi. Sy het nooit opgegee nie en het tot die einde positief gebly dat sy sou herstel.”

Ná haar ma se dood het sy besluit om ’n ginekoloog vir ’n ondersoek te gaan sien. Sy is aangeraai om vir genetiese toetse te gaan om vas te stel of sy ’n hoë risiko het om self kanker te ontwikkel.

“Ek is positief getoets vir ’n geenmutasie en ek is sterk aangeraai om ’n bilaterale mastektomie en ’n volle histerektomie te ondergaan. Op die ouderdom van 43 het ek ’n baie groot kans gehad om borskanker te ontwikkel en die spesifieke geenmutasie is ook gekoppel aan eierstokkanker,” sê Arnold.

Sy sê om die dinge te verloor wat ’n mens vrou maak, was ’n sielkundige struikelblok wat sy moes oorkom, maar die feit dat sy meer tyd saam met haar kinders en familie kon kry, het die operasies ’n klein opoffering gemaak.

Op 11 Oktober 2019 het sy haar meestersgraadtesis ingehandig. Sowat vier dae later het sy die mastektomie ondergaan en op 11 Desember die histerektomie.

“Ek moes redigering aan my tesis tussen die twee operasies doen en ek was in pyn in daardie tyd omdat ek komplikasies gehad het ná die mastektomie, waarna ek nog ’n operasie nodig gehad het.”

Arnold sê die histologiese toetse ná die operasies het gewys dat daar wel kanker in haar linkerbors was nadat ’n vroeëre sonar en mammogram niks gewys het nie.

“Ek wil ander vroue sterk aanraai om vir genetiese toetse te gaan as hulle ’n geskiedenis van borskanker in hul familie het, want ek is seker dit het my ’n kans gegee om langer te lewe.

“Dit was baie moeilik om my verlies te hanteer en te rou, maar my werk, navorsing en familieverantwoordelikhede het my so besig gehou dat dit my aandag afgetrek het van die rou.”

Meer oor:  Tandarts  |  Borskanker  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.