Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Sy pleit vergeefs: ­'Help my sterf'
Reinette Bosman ’n maand voor haar dood.

Die 73-jarige Reinette Bosman se hulpkreet dat sy weens die agteruitgang van haar verstand móét sterf, was hartverskeurend.

Die pensioentrekker in woonstel 202 op die tweede verdieping in Lindenhof, in die Oranjezichtbuurt in Kaapstad, had geen kat, kind of kar nie.

Toe trek ’n siekte van die brein onverwags by haar in . . . en maak “gate” daarin. Sy het gevrees dit sou “in een groot gat saamsmelt”, sê ’n vrou wat haar in dié tyd kom help het.

Sy het haar verstand begin verloor. Bosman het takies op toiletpapier neergeskryf om haar te help onthou.

Toe begin sy oor selfdood praat – en maniere om haarself te verlos, soos om haarself te skiet of van ’n spesifieke swart gebou te spring na haar dood.

Die vriendin het mooigepraat.

Bosman het ook haar huisdokter om hulp gevra om haar lewe te beëindig maar dié het haar verbied om oor die onderwerp te praat of ’n ander dokter te besoek.

En toe het sy ’n elegante swart rok aangetrek, ’n onbekende konkoksie uit ’n glas gedrink en op die dubbelbed gaan lê. En gewag . . .

Toe skryf sy ’n noodkreet op die webblad van Dignity SA, wat hulle beywer vir genadedood: “Asseblief help my om so gou as moontlik te sterf. My verstand is nie reg nie. Dit word vinniger erger by die dag.”

Die laaste weke het Bosman geen woord oor die dood gerep nie; die vriendin wonder of sy nie tog met die plan in haar kop rondgeloop het nie.

Verlede Saterdag het Bosman na die Strand, sowat 50 km van Kaapstad, gereis en ingeboek in ’n kamer op die vyfde verdieping van die Ocean Viewhotel.

In die stilte van middernag het sy ’n nota op die kamerdeur geplak: “Moenie inkom nie. Bel die polisie.”

Sy het ’n elegante swart rok aangetrek, ’n onbekende kon­koksie uit ’n glas gedrink en op die dubbelbed gaan lê. En gewag.

Buite het die branders soos altyd oor die strand gespoel. In die kamer het Bosman se hart mettertyd gaan staan.

Op die bedkassie was ’n brief in ’n koevert; ’n laaste monoloog.

“Sy was ’n eenkantmens, sy het altyd net gesê sy ‘is van ’n plaas in Stellenbosch’,” sê Bosman se Duitse buurman die afgelope week. “O ja, die laaste tyd,” sê hy, “wou sy weet van ‘genadedood’. My gevra as Switserland dit kan doen, hoekom nie hier in Suid-Afrika nie? Toe sê sy sy wil ‘huis toe’ . . .” Die man wys met sy regtervinger boontoe.

“Maar net soos van die tweede verdieping opwaarts. Sy is skielik stil hier weg. Sonder ’n stem,” sê hy.

“Dit help nie jy vra die ander bure oor haar nie. Ons weet net so min van haar,” maan hy, asof hy gedagtes lees.

By die hotel wil die bejaarde man by ontvangs amper niks sê nie. “Ons is gevra om absoluut niks te sê nie,” sê hy.

Die ontvangsdame het verlede Sondag, kort ná 10:00, gaan ondersoek instel toe Bosman nie soos verwag uitgeboek het nie. Sy is toe na bo en het die nota op die deur gelees. By ’n polisiebron hoor jy later ’n plastieksakkie met ’n onbekende wit bestanddeel is by die oorledene gevind.

Bosman sou eerskomende Dinsdag 74 geword het, op haar eie; Alzheimer-siekte haar enigste, knaende metgesel.

Meer oor:  Genadedood  |  Dignity Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.