Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Taks sal met 10% moet op vir NGV’

Die regering sal belastings met 10,8% moet verhoog om die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te finansier, het twee ekonome bereken.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Die vakbond Solidariteit het prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand en die ekonoom Mike Holland van PriceMetrics opdrag gegee om namens hulle ’n finansieringstudie van die NGV te doen. Die bevindinge maak deel uit van Solidariteit se voorlegging aan die parlement oor die NGV-wetsontwerp.

Die ekonome het bevind dat die NGV ’n finansieringsgaping van sowat R226 miljard sal hê teen 2026 – selfs teen ’n baie optimistiese vooruitskatting van 2% ekonomiese groei per jaar. Hulle bereken dan ook scenario’s van watter belastingverhogings nodig sal wees om hierdie gaping te vul. In vandag se geldwaarde is die gaping R166,5 miljard, of 12,3% van die regering se totale belastinginkomste.

Rossouw en Holland sê in hul verslag die regering is besig met blatante misleiding oor wat die NGV sal kos in die vorm wat voorgestel word. Dit is eerstens omdat die enigste kosteberamings wat tot dusver gepubliseer is nog met pryse van 2010 werk en tweedens omdat die memorandum wat saam met die NGV-wetsontwerp gepubliseer is, verwarrende syfers bevat. Die memorandum sê in fynskrif “die kosteberamings/begrotings fokus op praktiese kwessies eerder as algemene modelle”.

“Die publiek en parlementslede wat die wetsontwerp moet oorweeg, en veral Suid-Afrikaanse belastingbetalers, is nie ingelig oor die koste van die NGV nie. Hulle kan slegs verwys na die 2017 Witskrif, wat ’n breë totaal bereken van die koste in 2025-’26 wanneer daar verwag word dat die NGV operasioneel sal wees, maar hierdie berekening is gedoen met 2010-waardes,” lui die verslag. “Dié beraming is op sigself vaag sonder om in detail te gaan oor die koste of dekking van sekere gesondheidsorgvoordele, en sluit glad nie die administratiewe koste in wat benodig sal word nie.”

Die regering hou vol dat die NGV bekostigbaar sal wees omdat alle geld wat tans via die provinsies aan gesondheidsorg bestee word, in die NGV gestort gaan word. Die regering neem ook aan dat mense wat tans aan ’n mediese fonds behoort, hul premies na die NGV sal herlei deur belastings.

Indien alle huidige regeringsbesteding en alle private gesondheidsorgbydraes in een groot NGV-pot gegooi word, kan die land dit bekostig, reken die regering.

Maar selfs die tesourie verskil van die politici wat dié boodskap verkondig. In die jongste begrotingsdokumente het die tesourie gesê ’n kosteberaming is gedoen oor wat dit sal kos om minstens net ’n handjievol dienste deur die NGV te bied. Die antwoord is dat die regering se huidige gesondheidsbegroting vanaf 2025-’26 met R33 miljard aangevul sal moet word.

Rossouw en Holland wys uit dat niemand verduidelik wat die handjievol dienste is wat die tesourie gebruik het vir sy berekeninge nie.

Prof. Alex van den Heever, verbonde aan Wits se bestuurskool, stel ook ’n verslag saam in sy private hoedanigheid wat spesifiek fokus op die implementeerbaarheid.

Dit sal saam met Solidariteit se voorlegging voor die parlement dien. Van den Heever sê die enigste oënskynlike beweegrede vir die NGV-plan is om ’n monopolie op gesondheidsorg te skep. “Die plan hou geen voordeel vir die verbruiker in nie, maar kan bepaalde voordele inhou as jy in beheer is van die monopolie,” sê hy.)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.