Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Talle diere by skuiling gelos oor Covid-19-vrese

Binne 24 uur is minstens 24 katte en 16 honde by die dierewelsynsorganisasie Animal Welfare Helderberg in Gordonsbaai afgelaai omdat mense bang is hul diere kan die Covid-19-virussiekte oordra.

“Vandag is dit beter, maar eergister was dit baie erg,” sê Julia Evans, die organisasie se bestuurder, by navraag oor die situasie.

Volgens haar is die diere na die organisasie gebring omdat die eienaars bang is hul diere kan die virus na hulle oordra.

“Ons dink mense raak paniekerig en wil dan van hul troeteldiere ontslae raak,” sê Evans.

Jannie Strydom, Agri Wes-Kaap se uitvoerende hoof, sê by navraag volgens hul kennis is diere nie ’n bron van besmetting nie. “Dit is ’n baie onseker tyd vir almal, en dit bly elkeen van ons se verantwoordelikheid om na ons eie gesondheid om te sien en die gesondheid van die mense om ons te respekteer.”

Daar bestaan nog geen getuienis dat troeteldiere die virus kan kry of dit na ander diere of mense versprei nie.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van die Kaap van Goeie Hoop sê in ’n verklaring mediese kundiges het bevestig dat nog geen getuienis bestaan dat troeteldiere die virus kan kry of dit na ander diere of mense versprei nie.

Daar is ook geen berigte ontvang van vee of troeteldiere wat siek geword het en die siekte versprei nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ook verklaar dat geen getuienis bestaan dat honde of katte siek geword het van die virus nie.

Die DBV sê mense met troeteldiere moet steeds goeie higiëne toepas en hul hande was, hetsy voor of ná kontak met hul diere.

Indien mense wel die virussiekte kry, moet hulle ’n plan hê sodat ’n familielid of vriende kan help om na hul diere om te sien. Indien jy in kwarantyn moet gaan, moet voorbereidings gemaak word vir kos en ander benodigdhede.

Mense wat die virus het, moet kontak met hul diere beperk totdat meer inligting oor die virus bekend is. Laat ’n ander lid van jou huishouding met jou hond gaan stap, speel en kosgee. Dra ’n masker as jy ’n gidsdier het of indien jy na dié troeteldier moet omsien. Moenie kos deel of hulle soen of druk nie. Was jou hande voor en ná enige kontak met hulle.

Volgens die DBV kan mense 021 700 4158/9 of 083 326 1604 (gedurende kantoorure) vir meer inligting skakel.

Volgens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (World Organisation for Animal Health –  is dit belangrik dat die virus nie tot onvanpaste optrede teen huishoudelike en wilde diere lei nie. Dit kan moontlik ’n negatiewe invloed op hul gesondheid en welsyn of op biodiversiteit hê.

Meer oor:  Gordonsbaai  |  Diere Afgelaai  |  Covid  |  Skuilings  |  Skuildings  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.