Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Talle gevangenes reeds ingeënt
Lt.genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisiekommissaris, ontvang sy inenting Maandag in Milnerton. Foto: Verskaf

Altesame 2 569 gevangenes oor die land heen en meer as 5 000 polisiebeamptes in die Wes-Kaap is reeds teen die koronavirus ingeënt.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, en lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, is self dié week ingeënt.

Patekile is Maandag by die Milnerton-fasiliteit vir polisielede ingeënt nadat hy reeds Covid-19 gehad en herstel het.

Dinsdag het die Tygerberg-fasiliteit vir polisiebeamptes geopen met ’n tou van beamptes wat gewag het om ingeënt te word.

By ander fasiliteite, soos die een in Milnerton, word beamptes reeds sedert 8 Julie ingeënt, toe die proses vir die polisie amptelik begin het.

Patekile het almal aangeraai om hulle te laat inent sodat daar ’n werksmag is wat hul pligte sal kan uitvoer. Dit is nodig omdat die polisie in die voorste linies werk en gemeenskappe beveilig.

In ander dele van die provinsie, soos Oudtshoorn, die Tuinroete, Beaufort-Wes, Mfuleni, Wynberg, Lentegeur en Khayelitsha, sal die inentings in Augustus begin.

Intussen is Lamola Dinsdag ingeënt in ’n poging om ook diegene wat onseker is of hulle dit moet kry, gerus te stel.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Dinsdag sy inenting in Johannesburg ontvang. Foto: Verskaf

Hy is in Johannesburg ingeënt en het gesê gevangenes moet ook beskerm word teen die virus.

Die Grondwet sê gevangenes het dieselfde regte en is dus geregtig daarop om ingeënt te kan word.

Daar is egter steeds kommer oor sommige gevangenes wat teen die entstof is.

Die nasionale gesondheidsdepartement het die Johnson & Johnson-entstof, wat net een dosis verg, aan die departement van korrektiewe dienste (DKD) beskikbaar gestel.

Sedert 15 Julie kon enige DKD-werknemer ingeënt word sonder om op die EVDS-stelsel te registreer.

Dit is in ons hande om lewens te red.
Min. Ronald Lamola

Altesame 1 325 gesondheidspersoneellede van die DKD, 1 899 DKD-beamptes en 61 opvoedkundige DKD-personeellede is reeds ingeënt.

Daar is ook reeds 1 509 gevangenes tussen 50 en 59 jaar ingeënt. Sedert Maandag is 2 569 gevangenes ingeënt.

Lamola sê 40 miljoen Suid-Afrikaners moet ingeënt word om kudde-immuniteit te bereik. Van dié mense is 140 319 in verskillende gevangenisse. Hulle maak 0,34% van die bevolking uit.

Hy sê beamptes en gevangenes mag besluit of hulle ingeënt wil word of nie, maar het bygevoeg inentings is belangrik omdat dit lewens sal red.

“Ek hoop al hoe meer mense sal ingeënt word. Dit is in ons hande om lewens te red,” sê Lamola.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Wes-Kaap  |  Johannesburg  |  Polisiebeamptes  |  Inentings  |  Gevangenes  |  Covid-19  |  Korrektiewe Dienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.