Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Talle Oos-Kaapse studente toets positief ná partytjies

Twee partytjies in Quigney, Oos-Londen, waarop daar glo nie aan koronavirus-regulasies gehoor gegee is nie, het vermoedelik daartoe gelei dat 30 studente van die Universiteit van Fort Hare se Oos-Londen-kampus positief vir die virus getoets is.

Die meeste van dié studente is van die verpleegkunde- fakulteit, terwyl enkeles van die regsfakulteit is.

Die Oos-Kaapse departement van gesondheid sê die twee partytjies is op 3 en 10 Oktober gehou.

Die getal positiewe gevalle kan verder styg omdat daar nog gewag word op die uitslae van ander studente wat Vrydag en Saterdag getoets is.

Die universiteit het die departement van hoër onderwys verlede week gekontak nadat vyf verpleegkundestudente positief getoets is.

Die departement van gesondheid het intussen begin met ’n veldtog van opsporing en verdere toetse om die verspreiding van die virus onder studente te beperk.

Meer as 300 mense sonder maskers was glo in een taverne, terwyl sommige selfs uit dieselfde bottel gedrink en styf teen mekaar gedans het.

153 studente is tans in kwarantyn.

Siyanda Manana, ’n woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, sê van die studente het aan die departement gesê koronavirus-regulasies is nie op die twee partytjies gevolg nie.

Meer as 300 mense sonder maskers was glo in een taverne, terwyl sommige selfs uit dieselfde bottel gedrink en styf teen mekaar gedans het.

Tandi Mapukata, ’n universiteitswoordvoerder, sê by navraag sy kan nie kommentaar lewer op dié bewerings nie, aangesien sy nie oor die inligting beskik nie.

Sy sê die vyf studente wat eerste positief getoets is, doen prakties by hospitale en kon die virus moontlik daar opgedoen het, hoewel sy dit nie kan bevestig nie.

“Sedert ons na vlak 1 van die inperking beweeg het, is daar berigte van onverskilligheid onder Suid-Afrikaners oor die nakoming van regulasies, veral rakende die dra van maskers en die behou van ’n gesonde afstand.

Die departement werk onverpoos om studente op te spoor wat moontlik die virus kon opgedoen het.

“Universiteitsgebiede word ook deur sulke gedrag geraak, ondanks die feit dat ons by die Universiteit van Fort Hare ons bes doen om ons studente oor die gevare hiervan in te lig.”

Hoewel positiewe gevalle moontlik verder kan toeneem, sê Mapukata die situasie is onder beheer aangesien hulle baie nou saamwerk met amptenare om die verspreiding van die virus te bekamp.

Manana sê die departement werk onverpoos om studente op te spoor wat moontlik die virus kon opgedoen het. Opsporingspanne het reeds ’n student in die Joe Gqabi-distrik opgespoor wat na haar huis in Mount Fletcher teruggekeer het. Dié student is ook positief vir die virus getoets.

Die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement sê daar is vrese oor ’n tweede vlaag van infeksies en mense moet saamwerk om ’n herlewing van die pandemie te vermy.

Mense moet waaksaam wees, gebiede met skares vermy en alle koronavirus-regulasies en veiligheidsmaatreëls nakom, sê Manana.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.