Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Tandartse swaar getref deur Covid
Dr. Norman Cahi, ’n tandarts van Sandton, sê tandartse sukkel om kop bo water te hou omdat pasiënte bang is om hulle te besoek. Foto: Elizabeth Sejake

Suid-Afrikaanse tandartse sê Covid-19 en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se waarskuwings oor tandartsbesoeke het hulle baie swaar getref.

“Ek het ’n gevestigde praktyk in Sandton en dit bestaan al vir jare, maar in April het my opbrengs met 90% gekrimp. Dit het nou weer stadig begin verbeter, maar ons is nog nie naastenby waar ons was nie,” sê dr. Norman Cahi.

“Tans funksioneer ek teen so 40% tot 50% van my normale kapasiteit.”

KC Makhubele, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Tandheelkundige Vereniging (Sada), sê dis nie net Cahi wat sukkel nie. “Die meeste tandartse sien gemiddeld so 15 pasiënte per dag, maar dit het nou gedaal na enigiets tussen twee en agt pasiënte,” sê Makhubele.

Al het die WGO sy vroeë waarskuwing dat mense liefs ’n besoek aan die tandarts moet vermy tensy dit noodsaaklik is, gekorrigeer, is mense volgens hom steeds afgeskrik.

“Die waarskuwing is op 12 Augustus uitgereik deur Benoit Varenne, die WGO se tandheelkundehoof, en daar is gesê omdat tandartse in pasiënte se monde werk, is die kans om Covid-19 op te doen groter omdat jy maklik met spoegdruppeltjies in aanraking kan kom,” sê Makhubele.

Sada het ’n sterk standpunt daarteen ingeneem en aangevoer tandartse handhaaf al streng protokol sedert die inperking van vlak 4 en pas al jare lank goeie kiembeheer toe, juis omdat dit nog altyd ’n risikofaktor in hul werk was.

Die publiek moet verstaan tandartse weet presies hoe versigtig iets soos Covid-19 gehanteer moet word. Ons dra al jare lank PPE.

Cahi sê: “Die publiek moet verstaan tandartse weet presies hoe versigtig iets soos Covid-19 gehanteer moet word. Ons dra al jare lank PPE (persoonlike beskermende toerusting) omdat ons gereeld in kontak kom met skerp naalde en speeksel van pasiënte wat byvoorbeeld hepatitis kan hê of MIV-positief is.

“En nou is ons selfs nog versigtiger as voorheen.”

Makhubele sê die WGO het op 18 Augustus inligting by sy aanvanklike verklaring gewerk om te sê die waarskuwing om roetinetandheelkunde eers te laat vaar, is verkeerd vertolk.

“Hulle het spesifiek verwys na situasies waar daar byvoorbeeld ’n grootskaalse, onbeheerde uitbreking van Covid-19 in ’n gemeenskap of area is. Dit maak natuurlik sin. Maar die is virus redelik goed onder beheer en Sada het die nodige protokol.”

Cahi sê baie van sy eweknieë moes byvoorbeeld ekstra verbande op hul huise uitneem om hul ondernemings staande te hou. Veral ouer tandartse wat na aan aftrede was, het hul deure gesluit.

“Ons vind ook talle tandartse is geraak wat by praktyke assisteer en instaan wanneer dit nodig is,” sê Makhubele.

Dr. Tynan McArthur van Morningside, Johannesburg, sê hy werk veral met kosmetiese tandheelkunde en sy inkomste het baie gekrimp omdat mense te bang is om hom te kom sien.

’n Tandarts wat gevra het om anoniem te bly, het ’n maand voordat Covid-19 in Suid-Afrika uitgebreek het by ’n praktyk in Randburg begin werk met blink planne vir die toekoms. Nou sit sy sonder werk.

“Die idee was dat ek sou instaan en geleidelik inkoop in die vennootskap en van die pasiënte by die eienaar van die praktyk oorneem. Maar die getal pasiënte wat ons kom sien, het só drasties gekrimp weens Covid-19 dat daar nie meer genoeg werk was vir albei van ons nie en sy het gesê ek moet onmiddellik inkoop of gaan. Ek kon dit nie bekostig nie.”

Sy en McArthur sê tandartse kan nie geld uit die Werkloosheidsversekeringsfonds eis as hulle nie ’n inkomste het nie. “Ons word nooit ’n basiese salaris betaal nie. Jy besit óf jou eie praktyk en kry so ’n inkomste óf is ’n tandarts-assistent by daardie praktyk en jou inkomste word gemeet na aanleiding van jou aandeel en die getal pasiënte wat behandel word,” sê McArthur.

Omdat mense tandartsbesoeke uitstel, is hul probleme nou ook ernstiger teen die tyd dat hulle wel daar uitkom.

“Dis nie reg nie, want ons het ’n etiese plig om die publiek te dien en nou moet pasiënte groter en duurder prosedures kry as beplan omdat hulle nie gekom het vir hul roetineondersoeke nie,” waarsku Cahi.

Meer oor:  Tandarts  |  Wgo  |  Waarskuwing  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.