Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
TB-lyers moet kies: doof of dood

Tussen 30% en 40% van middelweerstandige tuberkuloselyers (MDR-TB) doen gehoorverlies op as gevolg van die medikasie wat hulle moet gebruik.

Phumeza Tisile het heeltemal doof geword weens medikasie wat sy vir MDR-TB ontvang het.

Dit terwyl daar ’n alternatiewe medikasie is wat nie gehoorverlies veroorsaak nie, maar tans nie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) voorgeskryf word nie.

Sowat 12 000 mense word jaarliks in Suid-Afrika behandel vir MDR-TB, ’n vorm van TB wat bestand is teen die twee vernaamste TB-medisyne (isoniasied en rifampisien).

Phumeza Tisile (28), ’n student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), is in 2010 met TB gediagnoseer, wat later geblyk het MDR-TB te wees.

Tisile is by ’n staatshospitaal met kanamisien behandel, maar sy sê sy is nooit gewaarsku dat dit vir haar gehoorverlies kon gee nie. Vandag is sy heeltemal doof.

“Ek het vyf jaar van my lewe verloor as gevolg van die gehoorverlies. In daardie stadium kon ek nie eens teruggaan universiteit toe nie,” sê sy.

‘Ek het 5 jaar van my lewe verloor.’

Tisile het intussen bilaterale kog­leêre inplantings gekry.

Dr. Arlette Bekker, registrateur van algemene chirurgie by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, het 30% van haar gehoor verloor nadat sy ook die kanamisien-inspuiting as behandeling ontvang het.

Vir haar is die newe-effekte egter vooraf verduidelik.

“Ek het heeltemal die newe-effekte en die waarskynlikheid om dit te kry, verstaan, maar daar was nie ’n alternatiewe opsie nie,” sê Bekker oor haar ervaring.

Sy het van meet af geweet dat die alternatief vir kanamisien bedaquiline, nie dieselfde risiko vir gehoorverlies sou inhou nie.

Bedaquiline is reeds sedert 2011 in Suid-Afrika beskikbaar vir toenemend meer pasiënte, en is in 2014 geregistreer deur die Medisynebeheerraad (MBR), maar dit is stééds nie deel van die roetinebehandeling van MDR-TB nie.

Bekker sê sy moes “letterlik eers aan die newe-effekte begin ly” voordat bedaquiline vir haar oorweeg kon word. Sy het staats- en private behandeling ontvang.

Haar werk ly onder haar gehoorverlies. Bekker sê die feit dat bedaquiline eers oorweeg kon word nadat sy aan gehoorverlies begin ly het, dui op die “gebrek aan kennis, kortsigtigheid, onkunde en ontoereikendheid in bestaande gesondheidsbeheer”.

“Behandeling berus op verouderde, tradisionele regimes en nie bewysgefundeerde navorsing nie.”

Rapport het met nog twee MDR-TB-pa­siënte gepraat wat ook nou aan gehoorverlies ly en soortgelyke ervarings as Tisile en Bekker gehad het.

Dr. Arne von Delft, ’n aktivis en vrywilliger van die organisasie TB Proof, wat hom toespits op bewusmaking oor TB, sê die probleem lê by die WGO se beleidsprosesse.

“Op die oomblik is die genesingskoers hoër vir uiters middelweerstandige tuberkulose (XDR-TB) as vir MDR-TB,” sê Von Delft.

Die WGO sê hy het nog te min inligting oor die medikasie om die veiligheid te waarborg.

Von Delft sê egter baie van die middels wat vandag gebruik word, sou nooit aan die huidige veiligheidnorme (van die WGO) voldoen het nie. Maar destyds was daar geen alternatief nie. Hy noem dit die “doof of dood”-kompromis.

Met bedaquiline wat amper 40 jaar later eers ontwikkel is, word dié medisyne ingevolge baie strenger maatreëls gemeet, waaraan dit met die WGO se laaste versoek vir meer data vroeg in 2016 nie voldoen het nie.

Ten spyte daarvan, sê Von Delft, is hulle reg met data van meer as 10 000 MDR-TB-lyers vir die WGO se volgende kans om bedaquiline in Julie vanjaar te hersien.

“Alle TB-klinici wat ons (TB Proof) ken, wat honderde is, en alle burgerlike organisasies stem saam (oor bedaquiline).

“Die probleem is egter dat daar steeds te veel dokters is wat dink hulle moet wag vir die WGO (om bedaquiline toe te dien).”

Dr. Norbert Ndjeka, die departement van gesondheid se direkteur vir MDR-TB, TB en MIV, sê alhoewel bedaquiline die duurste middel is, is dit die “veiligste” een.

“Op die oomblik voel die WGO nie sterk genoeg oor bedaquiline nie, maar ons sien beter resultate. Dis wat die minister (van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi) ook wil hê,” sê hy.

Volgens Ndjeka het die departement reeds sy verslag met Suid-Afrikaanse uitslae by die WGO ingedien.

Meer oor:  Tuberkulose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.