Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Te min inenters om naweke ook te werk

Geldtekorte om inenters oortyd te betaal, is nie die enigste rede dat so min inentings oor naweke geskied nie – daar is ook ’n tekort aan mediese personeel.

So het Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, Donderdag by navraag gesê.

“Ons gesondheidspersoneel werk die hele jaar al hard in die stryd teen die pandemie en ons kan hulle nie dwing om sewe dae per week te werk nie,” sê Crisp.

Hy probeer juis die afgelope ruk walgooi teen druk van politici om die werksure van inenters te verleng omdat dit onvolhoubaar sal wees dat inenters vir “die volgende jaar sewe dae per week werk”.

“Hulle sal uitbrand.”

Ons gesondheidspersoneel werk die hele jaar al hard in die stryd teen die pandemie en ons kan hulle nie dwing om sewe dae per week te werk nie.

Suid-Afrika se inentingsprogram loop onder kritiek deur weens die stadige pas van inentings. Teen Donderdag was slegs 3,85% van die bevolking met ’n eerste dosis ingeënt.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder vir finansies, het in reaksie op mediaberigte gesê dit is onwaar dat daar nie genoeg geld begroot is om inenters oortyd te kan betaal nie.

“Dit is totaal onaanvaarbaar om inentings oor naweke te staak (of om dit drasties te laat sloer) wanneer fondse wel beskikbaar is om die vertragings te voorkom.”

Hy wys daarop dat die nasionale tesourie in Februarie R6 miljard toegewys het om die entstofprogram te finansier, wat R1,5 miljard vir provinsiale departemente insluit.

Die probleem is baie eenvoudig – daar is te min dokters en verpleegkundiges. Jy kan nie bloed uit ’n klip tap nie.

’n Bykomende R9 miljard is opsygesit vir onvoorsiene uitgawes en volgens Hill-Lewis is daar uitdruklik gesê dit kan vir die entstofprogram gebruik word, indien nodig.

Volgens Crisp het Tito Mboweni, minister van finansies, dit egter duidelik gemaak “daar is nie geld nie”.

“Dit is welbekend dat byna alle departemente se begrotings besnoei is. Die tesourie sal moet verduidelik hoekom daar nie geld beskikbaar is nie.”

Die tesourie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Crisp sê meer geld sal wel ’n beperkte uitwerking hê omdat daar sommige inenters is wat bereid sou wees om op Saterdagoggende te werk, terwyl nuwe mense ook opgelei kan word om inentings te doen.

“Hulle moet egter opleidingskursusse volg en ons kan nie sommer iemand van die straat af inbring om te help nie. Dit moet deur verpleegsters gedoen word.”

Een opsie sou wees dat senior mediese studente gekontrakteer word om met inentings te help, aldus Crisp.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê daar is min wat gedoen kan word om die situasie te verbeter.

“Die probleem is baie eenvoudig – daar is te min dokters en verpleegkundiges. Jy kan nie bloed uit ’n klip tap nie.”

Meer oor:  Nicholas Crisp  |  Pandemie  |  Inentings  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.