Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Tienjarige skenk ellelange hare vir kankerstryd

In haar tien lewensjare het Jane Hattingh nog nooit haar hare gesny nie. En toe verlede week waai dit alles ten bate van Kansa.

Nou is Jane poenskop en sy glimlag een strook deur.

Jane Hattingh se ma, Yolanda, het dubbel seker gemaak haar dogter is seker sy wil voortgaan voordat sy ’n knipper deur haar kind se hare getrek het. Foto: Deon Raath

Jane se ma, Yolanda (35), sê Jane wou lankal haar hare, wat op haar agterstewe gehang het, skenk om ’n pruik vir ’n kankerlyer te laat maak.

Yolanda en haar man, Martin (30), was bekommerd dat sy die besluit sou berou. Yolanda het voorgestel sy sny dit net in ’n bob, maar Jane was vasbeslote.

“Dit vat guts, maar sy het ons gesmeek,” sê Martin by die gesin se huis in Fairland, Johannesburg.

Maandag het die Laerskool Fairland, waar Jane in graad 5 is, ’n “shavathon” ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika gehou. Van die onderwysers het hul hare laat afskeer en die kinders het hul hare in kleure laat sproei.

‘Dit vat guts, maar sy het ons gesmeek.’

Dit het Jane laat besluit die dag het aangebreek, en die volgende aand het Yolanda haar dogter se lang hare in ’n poniestert vasgebind en afgeskeer.

“Voordat Mamma begin skeer het, het sy ’n paar keer vir my gevra of ek seker is. Toe sê ek ja,” sê Jane.

Haar oupa, Martin Hattingh (62), het pankreaskanker gehad, maar is ná ’n paar operasies kankervry.

Yolanda sê toe Jane hoor dat Fuller Goldsmith, ’n 14-jarige deelnemer aan die televisiereeks Topchef, as kleuter leukemie gehad het, het dit haar baie geroer. Donderdag het een van Jane se vriendinne ook háár hare afgeskeer, “sodat ek nie alleen is nie, en vir kanker,” vertel Jane.

Sy mis nie haar lang hare nie.

“Dit is baie moeite,” sê sy. “Wanneer ek geswem het, het dit ’n uur en ’n half geneem om dit uit te borsel.”

Noudat haar hare afgeskeer is, het Jane soggens ook baie meer tyd voor skool.

Martin sê Jane het wel Donderdagoggend haar ma gevra vir sonskerm. “En vir ’n mussie in die aand,” lag Yolanda. “Want nou kry haar kop koud.”

Meer oor:  Chemoterapie  |  Haarverlies  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.