Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
WGO: Toename in gevalle, sterftes ondanks entstowwe

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê hoewel daar ruimte vir optimisme is, is die wêreld nog lank nie ontslae van die Covid-19-pandemie nie.

Dr. Tedros Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het Maandag op ’n nuuskonferensie gesê daar was die afgelope sewe weke aaneen ’n konstante toename in die getal positiewe gevalle van die koronavirus wêreldwyd. Daar is ook ’n toename in sterftes die afgelope vier weke.

“Dit is ten spyte daarvan dat daar reeds 780 miljoen dosisse van entstowwe wêreldwyd vervaardig is. Ons moet onthou hoewel entstowwe ’n kragtige voorsorg vir die virus is, dit hoegenaamd nie ons enigste een is nie,” sê Ghebreyesus.

Die WGO benadruk basiese maatreëls teen die verspreiding van die koronavirus moet steeds streng nagekom word. Foto: Reuters

Hy sê die WGO kan nie genoeg klem daarop plaas dat mense net die basiese maatreëls moet toepas nie. Dit sluit in sosiale distansiëring, die dra van maskers, die was van hande, ventilasie in vertrekke, isolasie en selfsorg.

“Ons sê dit nog heeltyd, herhaaldelik, en ons sal dit oor en oor bly sê. As almal net die basiese voorsorgmaatreëls nakom, is daar groot rede vir optimisme rakende oorwinning.”

Mense moet konstant, gekoördineerd en doelgerig in hul optrede wees.

“Ons sien wêreldwyd hoe lande wat hierdie voorsorg tref, openbare veiligheid toepas, dalings in hul getal aktiewe gevalle sien. Gehoorsaamheid van die basiese reëls het ook gesorg dat sulke lande nou beheer oor die virus het en kan terugkeer na ’n mate van normaliteit.”

Hy sê die WGO wil glad nie die wêreld vir ewig in ingeperk hou nie, maar op die oomblik moet gedoen word wat nodig is om die virus onder beheer te kry.

“Hierdie virus is nie ’n griep nie. Dit bekommer my om te sien hoe liggeraak party mense se houding teenoor die koronavirus is.

“Jong, gesonde mense kan ook die virus opdoen. Baie van hierdie mense is al dood. En ons verstaan steeds nie die volle omvang van die nagevolge op lang termyn nie.”

Ghebreyesus is hoopvol vir ’n normale toekoms, maar almal moet hul kant bring.

“Daar is wêreldwyd ’n tekortkoming in die kapasiteit van verskaffers om noodsaaklike gesondheidsbenodighede vinnig en doeltreffend te vervaardig en na plekke te versprei waar dit die nodigste is.”

Hy sê hy was baie beïndruk met die manier waarop veral Afrikalande van die begin van die pandemie saamgewerk het om plaaslike produksie en vervaardiging van noodmiddels te verskaf en te versprei.

“Hierdie manier van saamwerk en dink is noodsaaklik vir die bou van ’n stewige grondslag waarop gesondheidstelsels in die toekoms sterk kan staan teen volgende gesondheidskrisisse.”

Meer oor:  Wgo  |  Tedros Ghebreyesus  |  Covid-19  |  Pandemie  |  Enstof-Newe-Effekte  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.