Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Toetsstelle in Oos-Kaap langs pad ‘weggegooi’

Die talle koronavirustoetse wat blykbaar in die Oos-Kaap langs die N2 “weggegooi” is, het skerp reaksie ontlok.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag sy “teleurstelling” oor die voorval getwiet en gesê ’n koeriermaatskappy was glo hierby betrokke. “Ons het gevra dat dié dienste opgeskort word,” lui Mkhize se twiet.

’n Verbyganger het verskeie toetsstelle, wat glo bloedmonsters met die name en identiteitsnommers van pasiënte bevat, Maandag tussen Oos-Londen en Mdantsane op die N2 langs die pad aangetref. Mkhize het die verbyganger in sy twiet bedank dat die voorval aangemeld is.

Ook dr. Thobile Mbengashe, hoof van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, en Oscar Mabuyane, die Oos-Kaap se premier, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Bhisho die voorval ten sterkste veroordeel.

Mbengashe sê hy wag op ’n verslag van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) om ’n beter idee te kry van wat gebeur het.

Mabuyane het op die mediakonferensie ook terugvoering gegee oor die werk wat deur die provinsiale Covid-19-bevelraad gedoen word om die verspreiding van die virus te help bekamp.

Oscar Mabuyane, die Oos-Kaap se premier. Foto: Argief

Mabuyane erken die styging in infeksies veroorsaak slapelose nagte. Die afgelope week is meer as 1 000 nuwe infeksies per dag in die provinsie aangemeld, maar Mabuyane wys ook daarop dat die provinsie die afgelope ruk heelwat meer toetse doen.

Omdat die provinsie se gesondheidstelsel oorweldig is, het die bevelsraad die nasionale regering gevra vir mediese versterkings, wat die ontplooiing van die weermag se mediese span insluit.

Mabuyane sê die virus het sy kloue in die provinsie se mediese werkers ingeslaan. Teen Dinsdag is 888 mediese werkers in sowel staats- as private gesondheidsgeriewe reeds positief vir die virus getoets. Covid-19 het reeds die lewe van 24 gesondheidswerkers in die Oos-Kaap geëis.

Hospitaalbeddens

Mbengashe sê een van die provinsie se grootste uitdagings is die tekort aan beddens in waakeenhede.

Volgens Mabuyane is ’n verkrygingsproses onderweg om 4 000 bykomende hospitaalbeddens vir die provinsie beskikbaar te stel deur veldhospitale, elk met 500 beddens, in die onderskeie distrikte op te rig.

Volgens hom het die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) teen 27 Junie R1,4 miljard uitbetaal aan die tydelike werker-en-werkgewer-verligtingskema. Hieruit het meer as 32 000 werkgewers en meer as 300 000 werknemers voordeel getrek.

Die provinsie is ook besig met opknappingswerk by 34 gesondheidsgeriewe vir Covid-19-pasiënte. Hiervoor is 42 kontrakte ter waarde van R222,8 miljoen aan Oos-Kaapse kontrakteurs toegeken, wat tot dusver 500 poste geskep het.

Uit die projekte is 20 reeds voltooi, terwyl nog 12 teen einde Julie en die res volgens beplanning teen einde Augustus afgehandel sal wees.

Heropening van skole

Op dieselfde vergadering het Fundile Gade, LUR vir onderwys in die provinsie, gesê die departement het ’n versoek aan die nasionale departement van basiese onderwys gerig dat die volgende beplande infasering van leerlinge by skole uitgestel word.

’n Vraelys wat aan skole in die provinsie gestuur is, wys dat meer as die helfte van skole nie gereed is vir die volgende fase van infasering nie.

Sedert die heropening van skole op 8 Junie is 291 skole weer tydelik gesluit, waarvan 200 skole steeds gesluit is.

Volgens Gade het die provinsiale onderwysdepartement ook 26 sterftes weens die virus aangemeld, waarvan die meerderheid onderwysers met onderliggende siektes is.

Hy sê weens die stygende infeksies in die provinsie se skole moet daar op nasionale vlak samesprekings gehou word om die infasering wat vir 6 Julie beplan is, te heroorweeg.

Hy meen nie almal kan oor dieselfde kam geskeer word nie, veral ten opsigte van infrastruktuur-uitdagings by skole. Hy hoop om dié punt Donderdag op samesprekings met die nasionale departement uit te lig.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys, het nie onmiddellik op navrae hieroor gereageer nie.

Meer oor:  Zweli Mkhezi  |  Mdantsane  |  Oos-Londen  |  Toetsstelle  |  Covid-19  |  Koeriermaatskappy  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.