Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Tot 10 j. tronkstraf vir onwettige handel in ivermektien

Mense wat onwettig met ivermektien handel dryf, kan tot tien jaar tronkstraf opgelê word.

Ivermektien kan vir menslike gebruik voorgeskryf word. Foto: Gallo Images

En hoewel kenners nie saamstem oor die gebruik van die middel vir die behandeling van Covid-19 nie, is almal dit eens: As jou dokter dit nie voorskryf nie, moet jy dit nie gebruik nie.

Volgens ’n hofbevel vroeër vanjaar mag dokters ivermektien vir die behandeling van Covid-19 voorskryf.

’n Dokter kan dan ’n sogenaamde artikel 21-vorm van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) invul en toestemming kry om dit in te voer, of dit mag deur samestellende apteke in Suid-Afrika gemeng word.

Hoewel Sahpra steeds nie ivermektien vir die behandeling of voorkoming van Covid-19 goedgekeur het nie, is Soolantra-room, waarvan die aktiewe bestanddeel ivermektien is, goedgekeur.

Die middel is dus nie onwettig nie, maar die handel en besit daarvan kan onwettig wees.

Adv. Hendrik van Nieuwenhuizen, ’n regskenner van Sandton, sê volgens die medisynewet moet jy ’n voorskrif hê om ivermektien te kan bekom en niemand behalwe ’n dokter, apteker of veearts mag dit verkoop nie.

Volgens hom sal dit dus ’n misdryf wees as jy dit onwettig bekom of verkoop, of dit in jou besit het sonder dat dit voorgeskryf is.

Hiervoor kan ’n boete of tronkstraf van tot tien jaar opgelê word. Die waarde van die boete word nie deur die wet voorgeskryf nie.

Ivermektien en Covid-19

Volgens die mees onlangse hersiening van die nasionale lys van noodsaaklike medisyne, wat op 18 Junie gepubliseer is, is daar onvoldoende bewyse om ivermektien vir die behandeling van Covid-19 aan te beveel.

Andy Gray, ’n apteker wat spesialiseer in die ontwikkeling en toepassing van die nasionale medisynebeleid en lid van die hersieningskomitee, sê ál meer data wys dat die middel nie vir die behandeling van die virus werk nie.

Gray sê dit sluit die mees onlangse studie uit Argentinië in.

Die studie is gedoen onder 501 deelnemers, van wie 250 ivermektien en 251 die plasebo ontvang het.

Die bevinding is dat daar geen verskil was in die twee groepe se reaksie op Covid-19 nie en dat die hospitalisering in die twee groepe ook ooreengestem het.

“Hoe meer data ons sien, hoe meer blyk dit dat dit glad nie werk nie,” sê hy.

Volgens Gray is daar tans min newe-effekte, “maar dit hang alles van die dosis af”.

Hy benadruk dat sou dit wel vir Covid-19 gebruik word, moet dit voorgeskryf en deur ’n dokter gemonitor word.

Dr. Angelique Coetzee Foto: Deon Raath

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê ’n mens kan ivermektien slegs by ’n apteker of dokter kry.

“Jy kan dit nie sommer by enigeen kry en aanvaar dit gaan werk nie. Jy weet nie wat jy drink nie,” sê sy.

Sy bevraagteken ook die dosisse wat toegedien word en of dokters wat dit wel voorskryf, genoegsame data aanteken.

Dr. Naseeba Kathrada Foto: Verskaf

Dr. Naseeba Kathrada, stigter van die doktersgroep I Can Make A Difference, wat die regering en Sahpra voor die hof gedaag het, sê die owerhede verkies net om sekere data te gebruik en ander oor die hoof te sien.

Kathrada, wat sê daar is wel studies wat wys dat die middel werk, verwys veral na ’n meta-analise van 18 verskillende proeflopies.

Die ontleding wys wel dat ivermektien veilig is en wys ook dat daar ’n beduidende vermindering in sterftes is en meer mense herstel.

Kathrada het onlangs ook met ’n bewusmakingsveldtog oor die voordele van ivermektien begin, maar benadruk dit is “regte” ivermektien.

“Moenie dit op dit swartmark koop nie. As jou dokter dit nie vir jou wil voorskryf nie, is daar dokters wat kan en sal,” sê Kathrada.

Barend Uys van die burgerregteorganisasie AfriForum, wat saam met Kathrada en haar span aan die hofgeding deelgeneem het, sê die meta-analise is reeds deur eweknie-beoordeling en pleit ook dat die owerhede daarna moet kyk.

In dieselfde asem sê hy: “Elkeen van ons stap ’n pad met Covid, maar dit is belangrik dat jy hom saam met jou dokter stap. Hy weet wat om voor te skryf.”

Meer oor:  Sahpra  |  Dr. Angelique Coetzee  |  10 Jaar  |  Tronkstraf  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Ivermektien
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.