Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Tot 100 000 SA’ners moontlik al aan Covid-19 dood

Meer as 100 000 Suid-Afrikaners is moontlik reeds sedert die aanvang van die koronaviruspandemie aan Covid-19 dood.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) sê in sy jongste data die oormaatsterftes in die land was sedert 3 Mei verlede jaar reeds meer as 112 000.

Oormaatsterftes verwys na die getal natuurlike sterftes in ’n gegewe tydperk wat op grond van statistiese modelle gebaseer op historiese data verwag sou kon word. Daar word na die getal sterftes soos aangemeld by die departement van binnelandse sake gekyk.

Die departement van gesondheid het Suid-Afrika se amptelike Covid-19-dodetal op 24 Januarie op 40 874 geplaas, maar die MNR meen die werklike syfer kan baie hoër wees.

Volgens die MNR was die oormaatsterftes van 3 Mei verlede jaar tot 16 Januarie vanjaar 112 279, met die meeste in die Oos-Kaap (29 102), KwaZulu-Natal (26 260), Gauteng (18 934) en die Wes-Kaap (13 129).

Prof. Debbie Bradshaw van die MNR het by navraag gesê hulle is oortuig daarvan dat die grootste persentasie oormaatsterftes aan Covid-19 toegeskryf kan word. Hulle kan egter nie sê presies hoeveel nie.

Ten einde ’n beter begrip oor die effek van die pandemie te kry, is dit belangrik dat die oormaatsterftes in die land gemonitor word, het sy bygevoeg.

Die bevestigde Covid-19-sterftes wat deur die departement van gesondheid bekend gemaak word, word by die syfer van die oormaatsterftes ingesluit.

Die MNR sê op sy webtuiste die styging in oormaatsterftes loop parallel met Suid-Afrika se eerste en tweede vlaag van die pandemie. Wanneer ’n nuwe vlaag die land tref, neem die oormaatsterftes toe.

Foto ter illustrasie. Foto: Reuters

Hoewel provinsies soos Noordwes, Mpumalanga en die Noord-Kaap volgens die departement van gesondheid se statistieke minder as 1 000 Covid-19-sterftes aangeteken het, toon die MNR se statistieke dat hierdie drie provinsies sedert die aanvang van die pandemie onderskeidelik 3 236, 6 157 en 2 137 oormaatsterftes aangeteken het.

Volgens die MNR se data was die oormaatsterftes in Limpopo, waar die amptelike Covid-19-sterftes verlede week die 1 000-kerf verbygesteek het, 8 266. In die Vrystaat, waar amptelik meer as 2 600 Covid-19-sterftes voorgekom het, is meer as 5 000 oormaatsterftes aangeteken.

Luidens amptelike data is die Covid-19-sterftesyfer in Suid-Afrika relatief laag op grond van sterftes per 100 000 van die bevolking.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en pres. Cyril Ramaphosa het verlede jaar herhaaldelik gesê Suid-Afrika se sterftekoers is van die laagste ter wêreld.

Die Johns Hopkins-Universiteit, wat Covid-19-sterftes en koronavirusinfeksies wêreldwyd monitor, beaam dit in sy data op grond van die amptelike Covid-19-dodetal.

Volgens die universiteit is Suid-Afrika 43ste op die lys van lande met die hoogste sterftesyfer per 100 000 van sy bevolking.

Hiervolgens word Suid-Afrika se dodetal op 70,22 sterftes per 100 000 van sy bevolking bereken.

Op grond van die amptelike getal sterftes is Suid-Afrika 14de op die ranglys van lande met die meeste sterftes ter wêreld.

Meer oor:  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid 19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.