Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Tot 60% gesondheidswerkers kan trap’

Een uit elke vyf gesondheidspraktisyns wat aan ’n opname van Solidariteit deelgeneem het, sê hulle is besig met ’n emigrasieproses.

Nog 42% sê hulle sal stappe doen om te emigreer wanneer die nasionale gesondheidsversekering (NGV) geïmplementeer word.

Die vraelys is aan 7 443 gesondheidspraktisyns uitgestuur met ’n terugvoeringsyfer van sowat 9%.

Volgens Nicolien Welthagen, 'n navorsingsielkundige verbonde aan die Solidariteit-Navorsingsinstituut (SNI), is die steekproef van 651 respondente uit 30 gesondheidsvelde groot genoeg om betroubare resultate te lewer.

Die meeste van die deelnemers (25,8%) is algemene praktisyns en spesialiste (19,1%).

Altesame 88% stem saam dat die implementering van die NGV waarskynlik beroepslui wat private gesondheidsorg lewer, landuit sal dryf.

Agt uit tien respondente was negatief of skepties oor die NGV. Dis aansienlik meer as die 71,9% wat negatief was toe dieselfde opname in 2018 gedoen is.

Welthagen sê uit die nuutste studie blyk dit dat Suid-Afrika sowat 62% van sy gesondheidswerkers kan verloor indien die NGV in sy huidige vorm ingestel word.

Die meerderheid (70%) van respondente stem saam dat mediese fondse te duur en onbekostigbaar vir die meeste Suid-Afrikaners is. 95% van die respondente beskryf Suid-Afrika se gesondheidsorg as ’n krisis, veral weens die stand van staatsgesondheidsorg, die swak ekonomie, groot siektelas en gesondheidsrisiko’s in die samelewing.

Maar hulle is erg bekommerd oor die implementering van die NGV. Aspekte sluit in:

* Die staat se vermoë om die NGV te bestuur en te administreer, asook om gesondheidspraktisyns betyds en doeltreffend te betaal;

* Dat die staat tariewe, plek van werk, aard van diagnostiese toetse en tipe medikasie en behandeling gaan voorskryf;

* Dat landsburgers geen keuse sal hê oor of hulle tot die NGV-fonds wil bydra of nie; en

* Dat daar te min dokters, verpleegpersoneel en ander gesondheidspraktisyns vir die NGV beskikbaar sal wees.

Altesame 88% stem saam dat die implementering van die NGV waarskynlik beroepslui wat private gesondheidsorg lewer, landuit sal dryf.

Solidariteit maan die regering om dié terugvoering ernstig op te neem omdat dit praktisyns is wat die ergste geraak sal word deur die NGV-implementering.

Welthagen sê die regering moenie sekere kommentare en voorstelle “gerieflikheidshalwe ignoreer sodat die ideologies gedrewe planne polities gestoomroller kan word nie”.

Morné Malan, senior navorser aan die SNI, sê alle formele prosesse word ondersoek waardeur die wetsontwerp beveg kan word. Solidariteit se regspan het opdrag om die grondwetlikheid van die wet in sy huidige vorm in die hof te toets, sou dit nie na wense gewysig word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.