Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Talle sal wêreldbekende SA chirurg mis

’n Wêreldbekende pediatriese chirurg, wat aan die voorpunt gestaan het van die skeiding van Siamese tweelinge en orgaanoorplantings op kinders en as ’n “Boerejood van die Paarl” beskryf is, het vroeër die maand gesterf en is vir sy visioenêre werk gehuldig.

Huldeblyke stroom steeds in ná die dood van prof. Sidney Cywes (89), wat ’n chirurg in die Rooi Kruis-kinderhospitaal en ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad (UK) was.

“Cywes was ’n ware visioenêr,” het prof. Alt Numanoglu, bekleër van die Charles FM Saint-leerstoel vir pediatriese chirurgie by die UK, gesê.

“Dit is onmoontlik om al die veranderinge saam te vat wat deur sy toedoen in die kinderhospitaal plaasgevind het.

“Die groot invloed van sy strategiese denke het gelei tot die ontwikkeling van die eenheid vir neonatale chirurgie (1976), ’n dagchirurgie-diens sedert 1976 met sy eie sentrum (1989), ’n toegewyde trauma-eenheid (1984), die chirurgiese hoësorgeenheid (1985) asook ’n leweroorplantingsprogram (1987).”

Cywes was die eerste chirurg in Suid-Afrika wat sy praktyk geheel en al aan pediatriese chirurgie gewy het, en in 1975 is hy aangestel as die eerste bekleër van die Charles FM Saint-leerstoel vir pediatriese chirurgie. Hy het die pos tot met sy aftrede in 1996 beklee.

Hy was ’n baanbreker in die wêreld van pediatriese chirurgie en het aan die voorpunt gestaan van die skeiding van Siamese tweelinge en orgaanoorplantings in kinders.

Prof. Sidney Cywes en sy vrou, Marlene. Foto: Verskaf

Luidens Numanoglu se verklaring was hy ’n rolmodel vir baie pediatriese chirurge in Suid-Afrika en wêreldwyd. Chirurge het na die kinderhospitaal gekom om te leer en Cywes het veral op kontakte in Afrikalande gefokus.

“Sy kollegas, vriende en die talle pasiënte met wie hy noue kontak gehad het en met wie hy tot volwassenheid in kontak gebly het, sal hom baie mis,” lui die verklaring.

Cywes het op 6 April vanjaar gesterf nadat hy ’n kort rukkie siek was. Hy word oorleef deur sy vrou, Marlene, en kinders, Robert en Colette, wat albei oorsee woon.

Benewens Cywes se liefde vir pediatriese chirurgie het hy van vroeg af in sy loopbaan ’n belangstelling in tuinbou ontwikkel, en hy het saam met sy vrou van Suid-Afrika se voorste tuinboukundiges geword.

“Hy was ’n spesiale mens,” het Suzette en Peter James, goeie vriende van hom, gesê. “ ’n Boerejood van die Paarl met ’n sagte Bolandse bry in Engels en Afrikaans, wat baie meer verrig het as net op mediese gebied.

“Hy het ’n groot rol gespeel in die blommewêreld en veral die kweek van dahlias en rose, maar sy groot passie was die disa.

“Ná sy aftrede het hy en Marlene hul liefde vir die disa in ’n onderneming omskep,” het Peter gesê.

“Sid was baie gemaklik in enige geselskap en was ’n regte grapjas. Dié man, wat so baie vermag het in sy byna 90 jaar op aarde, sal deur vele oor die wêreld heen onthou word vir sy bydraes op so baie terreine. ’n Magtige seder het geval.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.