Die Tuinroete is tans die grootste brandpunt in die Wes-Kaapse regering se stryd teen die Covid-19-pandemie, met ’n groot styging in gevalle veral in George.
Alan Winde, premier, het Donderdag in ’n aanlyn mediavergadering ’n beroep op inwoners en ondernemings gedoen om saam te werk om veilig en verantwoordelik te heropen.
Hy het gevra dat inwoners opnuut hulself daartoe verbind om die “goue reëls” van die Covid-19-protokols te volg, veral wat die dra van maskers en ’n veilige afstand tussen mense betref.
“Waar daar sulke veldbrande voorkom, soos in die Tuinroete, en die gevalle begin toeneem, moet ons saamtrek om dit in bedwang bring.”
Dr. Keith Cloete, hoof van die provinsiale departement van gesondheid, het in ’n voorlegging gesê daar is elders in die provinsie “kleiner uitbrekings”, maar niks so groot soos in die Suid-Kaap nie.
’n Nuwe brandpunt het in die woonbuurt in Pacaltsdorp in George ontwikkel, terwyl Thembalethu steeds ’n groot aantal Covid-19-gevalle het.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber
Cloete se voorlegging dui op ’n aansienlike styging in gevalle in die Tuinroete, veral George, sedert einde Oktober.
Teen Woensdag is 95 nuwe gevalle in George aangemeld, 38 in Knysna en Bitou, 17 in Mosselbaai, vier in Hessequa en drie in Oudtshoorn.
Dié gevalle word nagegaan om patrone en plekke van verspreiding te vind.
In Mosselbaai is die gevalle glo wydverspreid, terwyl ’n dramatiese toename in mense wat van die kwarantyngeriewe gebruik maak ervaar is.
Dit het van minder as tien tot 36 teen Woensdag gestyg, volgens Cloete.
In George is 50 van die 95 nuwe gevalle se uitslae vertraag, met nuwe gevalle wat ook in Rosemore aangemeld is.
Uniondale het ook tans agt aktiewe gevalle. ’n Groep besmettings in die gebied word verbind met ’n werkskamp met tente, terwyl van die positiewe gevalle in die streek ook van die Oos-Kaap af kom.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, met dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, agter hom. Foto: Jaco Marais
Cloete sê bewegings oor die grense heen word skerp gemonitor, veral met die naderende skoolvakansie en feestyd.
Spanne gaan voort om toetsing en die nagaan van gevalle in Pacaltsdorp en Uniondale uit te voer en het aangedui dat dit al hoe moeiliker raak om by te hou.
In Knysna is die spanne in Hornlee en Concordia veral onder druk, terwyl gevalle meer verspreid in Plettenbergbaai voorkom.
In Kannaland is daar die afgelope tien dae egter nog geen nuwe gevalle nie.
Volgens Coetzee wissel die aantal gevalle in Oudtshoorn gedurig en het dit van 27 gevalle Dinsdag tot drie Woensdag gedaal, maar dié uitbreking is tans nog onder beheer.
Hy wys daarop dat die Oos-Kaap ook groot brandpunte van sy eie het en dat dit verskerpte waaksaamheid vereis vir diegene wat die provinsiale grense gaan oorkruis.
“Jy moet baie versigtig wees as jy beweeg van ’n gebied met ’n hoë voorkoms van die virussiekte na ’n gebied met ’n lae voorkoms, waar mense nog nie voorheen daaraan blootgestel is nie.”
Cloete sê mense is onder die indruk dat hulle maskers dra om hulself te beskerm, in plaas daarvan om te dink dat hulle ander beskerm.

John Steenhuisen, DA-leier. Foto: Felix Dlangamandla
In die Kaapstad-metropool het die klein uitbrekings wat opgemerk is grootliks begin opklaar, maar Cloete het weer beklemtoon dat daar al hoe meer klagtes is dat mense nie meer maskers dra nie, in groter getalle byeenkom en aan ander riskante gedrag deelneem.
Dit lei tot groot kommer oor wat in die vakansietyd voorlê, met families wat byeenkom en al hoe meer besoekers.
Tans is daar 622 Covid-19-pasiënte in hospitale in die provinsie, waarvan 277 in private hospitale is.
Die “Hospitaal van Hoop” in Brackengate het 42 pasiënte en die Sonstraal-hospitaal in die Paarl slegs een, luidens die voorlegging.
Verslapping verwelkom
Winde het die president se aankondiging oor die verdere verslapping van inperkings verwelkom, veral vir toerisme, en sê die provinsie het al ’n maand en half daarvoor gevra.
“ ’n Rooilys van lande is nie nodig as al die protokols in plek is nie, of dit nou vir sakereisigers of plesierreisigers is.”
Hy het in ’n verklaring gesê dit sal heelwat help om werksgeleenthede te probeer red in die Wes-Kaap, waar die toerisme en gasvryheidsbedryf groot werkskeppers is.
Winde het by navraag bygevoeg dat hy wou gesien het dat die ramptoestand nie verder verleng word nie en met ’n regsraamwerk vervang word om die Covid-19-veiligheidsmaatreëls in plek te hou.
“Ek sou wou gehoor het dat die president vernuwende oplossings aankondig om gedragsverandering teweeg te bring. Ons moet begin vorentoe beweeg, aanpas by die nuwe normaal en persoonlik verantwoordelikheid neem sodat ons op ekonomiese groei en werkskepping kan fokus.”
John Steenhuisen, DA-leier, het ná die president se toespraak in ’n verklaring gesê die verlenging van die ramptoestand “gaan die verstand te bowe” en het die “versteekte bedreiging” van ’n terugkeer na strenger inperkings verwerp.
“Die land is in groot moeilikheid. Wat mense nou die meeste kort is die maksimum vryheid en vertroue om die ekonomie en hul lewens te herbou.”
• Kyk die volle uitsending hier: