Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Twee maatskappye mag polonie begrawe

Die departement van omgewingsake het afvalbestuurmaatskappye spesiale vergunning gegee om sowat 4 000 ton verwerkte vleis wat moontlik met listeriose besmet is, by Klas A-vullingsterreine te begrawe.

Dié terreine is spesiaal gelisensieer om gevaarlike afval te hanteer.

Enterprise Foods in Polokwane en Rainbow Chicken in Sasolburg is as die bronne van die listeriose-epidemie in Suid-Afrika geïdentifiseer. Enterprise alleen vervaardig jaarliks sowat 60 000 ton voorafbereide vleisprodukte.

Dit beteken dat daar nou van minstens 4 000 ton vleis wat onttrek is omdat dit dalk met listeriose besmet is, ontslae geraak moet word.

Die maatskappye EnviroServ en Averda SA het reeds aangedui hulle is bereid om daarmee te help en dat hulle oor die nodige geriewe beskik om dit te doen.

Johan van den Berg, Averda se besturende direkteur, sê die volume vleis waarvan ontslae geraak moet word is bloot te veel vir Suid-Afrika se verbrandingsfasiliteite om te hanteer.

Listeriose word as gevaarlike afval geklassifiseer en baie spesifieke protokolle moet gevolg word om van die vleisprodukte ontslae te raak.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, praat oor die listeriose-epidemie.

Volgens Van den Berg word aansteeklike afval verkieslik verbrand en kan dit nie by gewone vullingsterreine geberg word nie. Veiligheidsregulasies vereis dat die vleisprodukte eers met spesiale chemikalieë behandel moet word om enige bakterieë te vernietig.

“Ons Vlakfontein Klas A-vullingsterrein hanteer elke maand tussen 30 000 en 40 000 ton hoogs gevaarlike stowwe en het dus die nodige kapasiteit om die departement te help,” sê Van den Berg.

Averda se plan is om die voedselprodukte met kalk met ’n alkaligehalte van pH-13 te behandel. Listeriose bly net tot op pH-10 aktief.

Die kalk sal verhoed dat die bakterieë in die grondwatertafel beland. Vlakfontein is een van twee vullingsterreine in Suid-Afrika met ’n inperkingsversperring van 1,2 m wat onder meer uit gekompakteerde klei bestaan.

Die afval sal as ’n bykomende voorsorgmaatreël met pekelwater gemeng word. Listeriose kan in pekelwater met soutvlakke so hoog as 10% oorleef, daarom sal die pekelwateroplossing 15% sout bevat.

Assesserings om die gehalte van grond, water en lug by vullingsterreine te monitor word op ’n deurlopende grondslag by vullingsterreine gedoen. Die proses duur vir 30 jaar voort nadat ’n betrokke vullingsterrein sluit.

Dr. Johan Schoonraad, ’n tegniese spesialis by EnviroServ, sê hulle is ook slaggereed om die departement by te staan.

Volgens Schoonraad het EnviroServ verskeie Klas A-vullingsterreine waar daar ooreenkomstig gevestigde gesondheidsorgrisiko-afvalprotokolle van die vleisprodukte ontslae geraak kan word.

Albei maatskappye sê werknemers wat met die afval werk sal spesiale opleiding en beskermende kleredrag kry om seker te maak hulle word nie aan die bakterieë blootgestel nie.

Meer oor:  Enterprise  |  Rainbow Chicken  |  Aaron Motsaoledi  |  Polonie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.