Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Tygerberg-hospitaal teen R10 mjd. vervang

Die Tygerberg-hospitaal is vervalle, kan nie meer die druk hanteer nie en moet teen ’n minimum koste van R10 miljard vervang word.

So het die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid vandeesweek gehoor in ’n voorlegging deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid, berig Business Day.

Dit is die grootste akademiese hospitaal in die Wes-Kaap, en duisende pasiënte wat spesialisdienste benodig, word daarheen verwys. Die ander akademiese hospitale in die provinsie is Grootte Schuur en die Rooikruis-kinderhospitaal.

Die ongevalleafdeling se ingang by die Tygerberg-hospitaal.

In 2014 is berig ’n nuwe hospitaal sal op die landgoed waarop die hospitaal is, gebou word. Die provinsiale departement van gesondheid het toe gesê dit sal na verwagting teen 2019 of 2020 voltooi wees.

’n Studie was toe onderweg oor wat met die bestaande struktuur gedoen moet word: of dit behou of gesloop moet word.

Daar is toe gesê die nuwe hospitaal gaan eintlik twee in een wees: ’n kleiner akademiese spesialishospitaal op die perseel en ’n groter streekhospitaal wat elders gebou gaan word, moontlik in Kraaifontein. Die twee sou as ’n eenheid funksioneer.

Die R10 miljard is net vir dié nuwe akademiese hospitaal wat verwant is aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe en geneeskunde.

Mark van der Heever, adjunkdirekteur van kommunikasie van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Donderdag gesê berigte dat die Tygerberg-hospitaal moet toemaak, is onwaar en kan lei tot paniek.

“Die Tygerberg-hospitaal is ’n strategiese en deurslaggewende deel van ons gesondheidsorgstelsel en die hospitaal is geoormerk om vervang te word, nie om toe te maak nie.

“Daar sal twee projekte wees: die nuwe Tygerbergse Sentrale Hospitaal en die nuwe Tygerberg-streekhospitaal. Dit sal saam gedoen word, op kort en lang termyn.”

Dr. Beth Engelbrecht, departementshoof, skakel met die nasionale departement en nasionale tesourie vir die bou van die sentrale hospitaal.

“Omdat dit ’n megaprojek is, hoop ons om aan al die voorwaardes te voldoen sodat ons in 2023 met die ontwerp- en boufase kan begin.

“Die sakemotivering vir die nuwe Tygerberg-streekhospitaal is reeds vir goedkeuring by die nasionale departement ingedien.”

Op kort termyn is die opknapping van teaters, hysers, die riool-, water- en brandstelsel en ander meganiese werk ’n voorkeursaak.

In 2017-’18 is 66 200 pasiënte in die hospitaal opgeneem en 309 816 is as buitepasiënte behandel. Daar werk 4 000 mense.

Meer oor:  Tygerberg-Hospitaal  |  Gesondheid  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.